Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Betogende studente met skokgranate uiteen gejaag

Die polisie het Maandag skokgranate gebruik om ’n groot groep betogende studente by die Suid-Kaap Kollege se kampus in Mosselbaai uiteen te jaag.

Die studente is onder meer ontevrede oor die uitbetaling van beursgeld.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê die situasie by die Suid-Kaap Kollege se kampusse in George en Oudtshoorn waar daar ook betogings was, het intussen genormaliseer.

“Maandag was daar gewelddadige optrede in Oudtshoorn, maar die polisie se misdaadvoorkomingseenheid het dit vinnig hanteer,” sê hy.

Studente van die Suid-Kaap Kolle se Mosselbaai-kampus word Maandag met skokgranate uiteengejaag.

Op die kampus in Mosselbaai is tussen 200 en 400 oproerige studente Maandag met skokgranate uitmekaar gejaag. “Die polisie se openbare orde-eenheid – Pops – is steeds op die toneel om die situasie te monitor,” sê hy. “Geen voorvalle is nog vandag (Dinsdag) aangemeld nie.”

Volgens hom is ’n student verlede week tydens ’n betoging by die kampus in Plettenbergbaai (Bitou) in hegtenis geneem.

Protesoptrede Maandag voor die Suid-Kaap Kollege in Oudtshoorn.

Die studente in Mosselbaai vra onder meer in ’n memorandum vir ’n lys van studente se name wat deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) befonds word sodat die studente met uitstaande dokumente dit betyds vir betalings kan indien.

Volgens die studente is die probleem geld, kos en verblyf en kan daar nie van hulle verwag word om eksamen op ’n leë maag te skryf nie omdat dit neerkom op die aantas van hul menseregte.

Reaksie

Die Suid-Kaap Kollege sê by navraag daar was van 17 tot 19 Februarie studenteprotes by sy kampus in George, asook by sy sentrale kantoor in George. Op ’n vergadering met die studenteraad en ander belanghebbendes op 19 Februarie is besluit dat ’n interim-betaling van toelaes (in verskeie kategorieë) op 21 Februarie gedoen sal word. Studente moes teen 12:00 op 20 Februarie uitstaande dokumente vir NSFAS-aansoeke indien. Op 21 Februarie is studente se toelaes betaal wat aan die kriteria voldoen het en wie se status op die NSFAS as “befonds” weergegee word. Klasse by die George-kampus was tot Vrydag opgeskort. Maandag het nog ’n betoging op die George-kampus uitgebreek en het studente gevra dat pleks van ’n tweede ronde interim-betalings op 28 Februarie die kollege daagliks toelaes moet betaal aan studente (wie se NSFAS-status tot “befonds” verander het sedert 20 Februarie). Die departement van finansies het bevestig dat betalings op 24 Februarie gedoen is.

Die uitdaging is dat die NSFAS-status van “befondste” beurse daagliks verander het gebaseer op die verifiëring van NSFAS-aansoeke. Dit was ook die rede vir optogte by ander kampusse. Klasse in Beaufort-Wes, Oudtshoorn en Bitou is van 19 tot 21 Februarie opgeskort.

Nog ’n protesoptog is Maandag in Oudtshoorn gehou en klasse is vir die dag opgeskort. Studente wat nog nie toelaes ontvang het nie word gevra om hul aansoeke op die NSFAS na te gaan. ’n Beroep word op studente gedoen om klasse by te woon totdat die NSFAS-prosesse afgehandel is.



Meer oor:  Oudtshoorn  |  George  |  Mosselbaai  |  Skokgranate  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.