Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Betogers dreig student: ‘Ons gaan jou doodmaak’

“Ons gaan jou f****n doodmaak.”

Dít is die woorde wat Chané Venter, ondervoorsitter van die AfriForum-jeugtak, en ander studente Dinsdag op die Kovsiekampus in Bloemfontein toegesnou is.

Chané Venter Foto: Verskaf

Dit was toe ’n groep betogers daarop aangedring het dat sy ’n video van waar hulle klasse by die Van Der Merwe Scholtz-saal ontwrig het, moet uitwis.

Venter, ’n tweedejaarstudent in taalpraktyk, sê sy het as ondervoorsitter op die kampus rondgeloop om die situasie te monitor nadat sy die video van die aanranding van Chris Liebenberg, die UV se senior direkteur van finansies, gesien het.

Liebenberg is Dinsdag te midde van ’n betoging oor klasgeld deur studente op die Bloemfontein-kampus aangerand.

Die studente is ontevrede oor hul beursgeld van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) wat aan hulle uitbetaal is.

“Ek was by die Van Der Merwe Scholtz-saal toe die betogers by die gebou uitstorm nadat hulle klasse ontwrig het.

“Ek het ’n video begin neem om vir ons hoofkantoor te stuur om hulle oor die situasie in te lig, toe een van die betogers sien ek is besig om alles te verfilm.

“Hy het gevra of ek ’n video verfilm, waarop ek ja geantwoord het. Hy het toe op my begin skree en daarop aangedring dat ek dit moet uitwis. Hy het die selfoon uit my hand geslaan.”

Venter sê hoewel sy aanhoudend gesê dat dit haar reg is om te verfilm en dat sy in ’n openbare ruimte is, het nog ander betogers met EFF-hemde en barette op haar afgestorm en haar geïntimideer om die video uit te vee.

“ ’n Vrou geklee in EFF-drag het my gestamp en ek het die video beëindig, terwyl ’n groep van sowat 60 betogers my en drie ander studente teen die deure van die saal vasgedruk het en gedreig, geruk en gepluk het om die video uit te wis.”

Sy sê twee veiligheidswagte het tussenbeide getree, maar gesê hulle kan hulle nie beskerm nie. Hulle het gevra dat sy die video uitwis.

“Die betogers het op ons geskree: ‘we will f*****g kill you’ en daarom het ek die video uitgewis.”

Ek is ook ’n student aan die universiteit en ek het die reg om in ’n veilige omgewing te studeer.
Chané Venter, ondervoorsitter van die AfriForum-jeugtak

Venter sê eers nadat al die betogers weg was, het sy besef dat sy die video kan terugkry.

Sy sê die hele situasie was gewelddadig en verkeerd.

“Ek is ook ’n student aan die universiteit en ek het die reg om in ’n veilige omgewing te studeer.

“Hierdie gewelddadige betogers maak die kampus vir my en ander studente en selfs vir werknemers van die universiteit onveilig.”

Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, sê die aanranding van Liebenberg, asook bewerings van fisieke intimidasie van studente gedurende die ontwrigting, word in ’n ernstige lig beskou en dringend ondersoek.

Enige sodanige misdadige gedrag, asook die onredelike ontwrigting van akademiese bedrywighede wat Dinsdag plaasgevind het, sal volgens die universiteit se tugprosesse en die wet hanteer word, sê sy.

Alle akademiese en administratiewe bedrywighede op die Bloemfontein-kampus gaan Woensdag soos normaal voort.

Die universiteit se beskermingsdienste hou steeds die situasie op die kampus noukeurig dop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.