Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beurs genoem na studente-aktivis wat sterf
Evans Phehla is die eerste begunstigde van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) se beurs in sy ouer broer, Benjamin, se naam. Saam met hom is sy ma, Leah, en prof. Lourens van Staden, visekanselier en rektor van die TUT. Foto: Deaan Vivier

’n Studenteaktivis sal nou vir altyd onthou word nadat die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) ’n nuwe beursfonds na hom genoem het.

Benjamin Phehla, ’n finalejaarstudent aan die TUT se fakulteit inligting- en kommunikasietegnologie, is in Oktober verlede jaar aan sy beserings dood nadat ’n motorbestuurder tydens die #FeesMustFall-betogings oor hom gery het nadat dié glo met klippe bestook en hy beheer oor die voertuig verloor het.

Op die dag van Phehla (23) se dood het ’n groep studente van die universiteit se Soshanguve-kampus op vervoer na ’n groter optog van Kerkplein na die Uniegebou in Pretoria aangedring. Die versoek is geweier en dit het gelei tot botsings met veiligheidswagte en die polisie.

Luidens ’n destydse verklaring het die betogers na bewering ook die verkeer op die openbare pad tussen die noord- en suidkampus in Soshanguve ontwrig en drie studente is beseer toe ’n motorbestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Phehla is later die aand van 20 Oktober aan sy beserings dood.

Die TUT het dieselfde dag op ’n spesiale vergadering besluit dat daar geen klasgeldverhoging vir 2017 sal wees nie.

Hy is dood terwyl hy vir gratis onderwys gebaklei het.
Letadi Mphai

“Benjamin se stryd vir maatskaplike regverdigheid was dus nie verniet nie,” het prof. Lourens van Staden, visekanselier en rektor van die TUT, Dinsdag by die universiteit se suidkampus in Soshanguve gesê.

Pres. Jacob Zuma het ook sy simpatie oor Phehla se dood destyds uitgespreek.

Hy het ná sy dood benadruk dat die regering die studente se strewe na toegang tot onderrig vir armes steun.

Phehla was ook die voorsitter van die fakulteit se studentekomitee.

“Die beursfonds is na Phehla genoem om sy bydrae tot die TUT te verewig.”

Die universiteitsbestuur het besluit dat die beurs aan ’n akademies verdienstelike en behoeftige student van die fakulteit inligting- en kommunikasietegnologie van vanjaar toegeken sal word.

Phehla se jonger broer Evans (18) is die eerste begunstigde van die beurs.

Evans is ’n eerstejaarstudent in stelselingenieurswese (ook deel van dié fakulteit) aan die TUT.

Phehla se ma, Leah, sy ouer suster, Deshah (34), en broers, Kevin (25) en Stevens (22), en sy neef Letadi Mphai, het die geleentheid bygewoon.

Mphai, wat as woordvoerder vir die gesin opgetree het, het gesê Benji was ’n dromer.

“Hy is dood terwyl hy vir gratis onderwys gebaklei het.”

Mphai het gesê Phehla het kort voor sy dood vir sy ma gesê dat hy vir haar ’n huis sal bou as hy klaar gestudeer het.

“Hy het ook vir haar gesê dat sy nooit weer sal hoef te werk as hy sy studie voltooi het nie.”

Phehla was een van agt kinders.

Meer oor:  Tut  |  Betoog  |  Beurs  |  Doodgery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.