Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beurtkrag tref ook eksamen in N-Kaap

Woensdag se skokaankondiging dat Eskom fase 2-beurtkrag instel, het 26 Noord-Kaapse eksamensentrums sonder krag gelaat waar matrikulante rekenaartoepassingstegnologie (RTT), die eerste vak van die seniorsertifikaateksamen, moes skryf.

Sommige sentrums het kragopwekkers gehad, maar waar daar nie kragopwekkers was nie, is leerlinge afgesonder totdat die elektrisiteitstoevoer herstel is.

Die rede vir die beurtkrag is volgens Eskom ’n tekort aan diesel, vyf opwekkingseenhede wat van lyn is weens lekkasies in ketelbuise en ’n steenkool-vervoerband wat gebreek het. Dit is die eerste keer sedert Maart dat daar beurtkrag is.

Eskom het Woensdag van 09:00 af fase 2-beurtkrag ingestel aangesien al dié probleme sy 10 500 MW-limiet vir onbeplande onderbrekings oorskry het. Beurtkrag sal tot 23:00 geld.

Luidens die departement van basiese onderwys het meer as 600 000 leerlinge hulle vanjaar nasionaal vir die eksamen geregistreer. Die meeste van hulle sal oor minder as ’n week gereed moet wees om hul eerste vraestel vir Engels te skryf.

Sommige sentrums het hul eie kragopwekkers gebruik nadat beurtkrag in werking getree het. Al dié leerlinge kon hul eksamen sonder onderbrekings aflê.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, sê 1 274 leerlinge is geregistreer om RTT by 64 sentrums in dié provinsie te skryf.

“Eskom se aankondiging was uit die bloute. Altesaam 26 sentrums is daardeur geraak. Die kragonderbrekings raak egter nie die geloofwaardigheid van die eksamen nie.

“Sommige sentrums het hul eie kragopwekkers gebruik nadat beurtkrag in werking getree het. Al dié leerlinge kon hul eksamen sonder onderbrekings aflê.

“Op plekke waar daar nie kragopwekkers was nie, is leerlinge onder toesig in afsondering geplaas. Hulle moes wag totdat die kragtoevoer hervat is om met die eksamen voort te gaan. Hulle is bykomende tyd toegestaan om op te maak vir verlore tyd,” sê Van der Merwe.

Natasha Mazzone, DA-LP en woordvoerder van openbare ondernemings, sê Eskom het verlede maand die party verseker geen beurtkrag sal in September of Oktober toegepas word nie.

“Eskom se versekering was leë beloftes. Ons is nie verbaas nie, omdat Eskom se regrukstrategie tot niks gelei het nie. Eskom is meer bekommerd oor finansiële redding as om ’n winsgewende, doeltreffende en bestendige diens te lewer.”

Eskom het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) hof toe gesleep oor die besluit om tariefverhogings laer te hou as wat hy versoek het. Eskom verwag ook ’n aansienlike reddingsboei van Tito Mboweni, minister van finansies, in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk.

“Ons waarsku Eskom om nie beurtkrag te misbruik om meer geld te kry nie. Eskom is ’n leë dop wat onkapabel is om enige betroubare en bestendige elektrisiteit te lewer.

“Beurtkrag kos die ekonomie R1 miljard per dag per fase. Indien daar geen elektrisiteit is nie, is daar nie produktiwiteit nie, wat uiteindelik tot meer werkverliese lei.

“Die matriekeksamen wat vandag begin het, is verdere rede tot kommer.”

Sy sê Eskom se monopolie wat betref energieverskaffing moet verbreek word, omdat dit die ekonomie en opvoeding knou.

“Die regerende party weier om meer onafhanklike kragverskaffers aan boord te bring wat die netwerk kan stabiliseer en uitbrei. Die ANC het net sy eie eng politieke belange op die hart, en sal eerder toesien dat die land in duisternis gewerp word.

“Die beloofde geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat die bloudruk is vir die opwekking van nuwe krag, is steeds nie bekend gemaak nie. Die regering bou net lugkastele,” sê sy.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Matriekeksamen  |  Eksamen  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.