Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beveiliging ruk skole se sakke

Afrikaanse openbare skole bestee deesdae tot soveel as R48 000 per maand om hul terreine te beveilig.

Só het die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) bevind in ’n studie by Afrikaanse skole oor die land heen.

Polisiebeamptes gebruik rubberkoeëls en skokgranate om betogers buite die Hoërskool Overvaal te verwilder. Januarie 2018. Foto: Felix Dlangamandla

Die navorsing is Vrydag bekend gemaak op die SOS se kongres by die Laerskool Durbanville in die Wes-Kaap. Die navorsing se bekendstelling kom slegs twee dae nadat rowers oor ’n heining by die Seapoint High School in Kaapstad gespring het en ’n onderwyseres en leerlinge tydens ’n eksamen van 50 selfone beroof het. In dieselfde week is die 16-jarige Daniel Bakwela buite die Forest Hill High School in Johannesburg doodgesteek, na bewering deur ’n medeleerling.

Ook dié week het ’n video van ’n onderwyser by die Mabusabesala Secondary School in Mpumalanga wat met ’n vuurwapen in sy hand tussen leerlinge deurstap terwyl hy toesig hou oor ’n eksamen, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Altesame 633 onderwysers van 109 skole – almal skole wat wel skoolfonds hef – het deelgeneem aan die SOS se studie oor skoolbeveiliging.

Van die 106 skole het 87% al inbrake beleef en by 60% van hulle het mense al onregmatig toegang tot die skool verkry. By 41% van die skole is kinders al met dwelms betrap en 23% van die skole is al deur betogings ontwrig. Een uit elke tien Afrikaanse skole se hekke staan wawyd oop en enigiemand kan die skool binnekom, raam die SOS op grond van sy navorsing.

Dié uitgawe jaag die koste van skoolfonds op.

Die respondente het gemiddeld R423 557 aan die installering van veiligheidstelsels by hul skole bestee, en die maandelikse rekening vir beveiliging beloop gemiddeld R6 451.

In die gevalle waar die skole veiligheidswagte in diens het, styg dié rekening tot soveel as R48 000 per maand, lui die verslag. 43% van die respondente gebruik private veiligheidsfirmas.

Volgens die opstellers van die SOS-verslag is skole verplig om vir beveiliging te betaal omdat die staat hulle nie kan beveilig nie. Dié uitgawe jaag die koste van skoolfonds op.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê dit is die werkgewer, met ander woorde die departement van basiese onderwys, se plig om die veiligheid by skole te verseker. “Dit is nie die ouers se verantwoordelikheid nie.” Hy beaam dat dit een van die faktore is wat skoolgeld die hoogte laat inskiet.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê in die afgelope vyf tot ses maande het ongeveer 50 skole oor die hele land heen hulle gevra om veiligheidsoudits by die skole te doen. “Ons hoor weekliks, soms daagliks, van misdaad by skole. Skole het ’n definitiewe teiken vir gewapende rooftogte geword.” Cameron sê die rooftog by die Sea Point High School il­lustreer die probleem.

Toe die Hoërskool Overvaal in Vereeniging verlede jaar onder betogings deurgeloop het, het die polisie eenvoudig nie genoeg hulpbronne gehad om die situasie te beheer nie, sê Cameron. Hoe kwesbaarder skole is, hoe duurder is versekering. En dis net die superryk eliteskole wat topklas-beveiliging kan bekostig, sê hy.

Hy moedig skole aan om goedkoper, doeltreffende maniere te identifiseer om hulself te beveilig, soos byvoorbeeld dat hulle die polisie vra om skole by hul patrollieroetes in te sluit en om kontak te maak met plaaslike buurtwagte. “Skole kan vir die polisie iets eenvoudigs soos gratis koffie gee as hulle elke week byvoorbeeld vir ’n uur by die skool teenwoordig is,” stel hy voor.

Meer oor:  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.