Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bfn-boelies dwing glo meisie om stopnaald te sluk

’n Negejarige leerling van Bloemfontein het ’n operasie ondergaan om ’n stopnaald uit haar maag te verwyder wat sy glo onder dwang ingesluk het.

Haar ma sê sy moes dit doen om te keer dat twee boelies haar slaan.

’n Foto van die stopnaald wat ’n negejarige meisie ingesluk het nadat twee boelies glo gedreig het hulle gaan haar slaan as sy nie die naald sluk nie. Foto: Mlungisi Louw

Die ma sê haar dogter, wie se naam weerhou word omdat sy minderjarig is en omdat haar ma haar nie wil blootstel nie, word deur twee ouer meisies van onderskeidelik 11 en 12 jaar geboelie sedert sy aan die begin van die tweede kwartaal aan die Laerskool Dr. C.F. Visser in Bloemfontein begin skoolgaan het.

Die twee ouer kinders dreig glo gereeld om haar te slaan as sy nie haar toebroodjies aan hulle gee nie, sê die ma.

“Hulle slaan haar deur die gesig en hard. My dogter is boonop maar ’n tingerige kind.

“Donderdag terwyl die kinders gesit en tolletjie gebrei het, het dié twee gedreig om haar te slaan as sy nie ’n stopnaald insluk nie. Die opsies was sluk of word geslaan. Ek dink sy het geskrik en dit maar gesluk, sonder om te besef hoe gevaarlik dit is. Sy was só bang en getraumatiseerd.

Die dokter sê sy kon dood gewees het as ons ’n dag later daar opgedaag het.

“Sy het nog nie presies verduidelik hoe sy dit gesluk of in watter mate hulle haar gedwing het nie. Ons sal nog daardie gesprek hê.”

Volgens die ma het die skool haar gebel toe hulle uitvind sy het die naald gesluk. “Ons moes my dogter dadelik na die hospitaal neem vir ’n skandering, wat getoon het die naald lê in haar maag. ’n Operasie kon eers Saterdagoggend in die Universitas Akademiese Hospitaal gedoen word. Die dokter sê sy kon dood gewees het as ons ’n dag later daar opgedaag het."

’n Woordvoerder van die hospitaal het bevestig dat die operasie gedoen is.

Die meisie se pa het Vrydagoggend met die waarnemende skoolhoof, Zak Steyn, vergader. “Ons sou wou hê die ouers van die twee boelies moes ook teenwoordig wees. Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar. Daardie hospitaalkoste kom uit ons eie sak.”

Steyn sê hy was tot Woensdag dié week op ’n rugbytoer en sal Donderdag met die gesin kontak maak.

“Ons sal definitief aandag aan die kwessie gee, asook hoe om boelie-gedrag by die skool te hanteer. Ons beplan om ’n anti-boelie-veldtog by die skool te begin.”

Hy sê hy kan nie nou al sê of die skool tot die gesin se mediese uitgawes sal kan bydra nie.

Die ma sê sy het die kwessie een keer op ’n oueraand met haar dogter se klasonderwyser bespreek en ook ’n brief geskryf toe die boelies haar dogter se potlode gebreek het.

“Ek neem aan omdat sy nuut was in die skool was sy ’n maklike teiken om geboelie te word.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Operasie  |  Skool  |  Boelie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.