Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Druipelinge betwis besluit dat hulle moet terugkeer na vorige graad

’n Groep leerlinge van die Brebner High School in Bloemfontein en hul ouers gaan die hooggeregshof in Bloemfontein dringend nader nadat die onderwysdepartement ’n skielike ommeswaai gemaak het en nie meer die leerlinge na die volgende graad gaan deursit nie.

Die groep leerlinge, van wie een reeds vanjaar in matriek by die skool begin het, het verlede jaar appèl by die skool aangeteken nadat hulle gedruip het. Die appèlle was suksesvol, op die voorwaarde dat hulle hul vakkeuse van wiskunde na wiskundige geletterdheid en van lewenswetenskappe na besigheidstudies verander.

Hulle het reeds 2021 se akademiese jaar in hul volgende graad begin toe die onderwysdepartement in ’n skrywe hul ouers op 26 Februarie vanjaar verwittig die leerlinge moet die volgende week in hul vorige grade aanmeld.

Die leerlinge is in skoolure op die interkom na die saal ontbied en die nuus is so aan hulle oorgedra. Van hulle het sedertdien nie weer skool bygewoon nie.

Luidens korrespondensie van die onderwysdepartement aan die ouers maak die skool net ’n aanbeveling en die finale besluit berus by die departement.

In die aansoek vra die 17 applikante, wat leerlinge en ouers insluit, onder meer die hof moet bevind dat December Moloi, distriksdirekteur van die Vrystaatse onderwysdepartement se Motheo-distrik, Tsoarelo Malakoane, Vrystaatse onderwyshoof, en Tate Makgoe, LUR vir onderwys, nie die gesag het om die waarnemende hoof van die Brebner High School en die skool se beheerliggaam te verplig om hul besluit ongedaan te maak nadat hulle reeds onderneem het om die leerlinge na die volgende graad deur te sit nie.

Daarbenewens vra hulle dat die besluit van die skool om die leerlinge te bevorder bindend en wettig moet wees. Hulle voer ook aan dat Moloi se besluit om die leerlinge uit die volgende graad te verwyder, die leerlinge se reg op basiese onderrig, gelykheid en waardigheid aantas.

Luidens hofstukke sê een van die ouers hoewel hulle daarvan bewus is dat hul kinders nie aan die minimum vereistes voldoen om te slaag nie, het hulle die onderneming van die skool aanvaar dat hul kinders na die volgende grade oorgeplaas sal word.

Volgens die ouers is die ommeswaai ’n blatante en brutale oortreding van hul kinders se reg op menswaardigheid.

Daarbenewens is die leerlinge geskok en ontsteld en hulle kan nie die ommeswaai begryp nie.

Een van die leerlinge wat na matriek oorgeplaas is, sê in ’n verklaring dat hy onseker is oor sy toekoms.

Nog ’n leerling sê hy is emosioneel en verneder en wou nie teruggaan skool toe nadat hulle die nuus ontvang het dat hulle nie bevorder is nie.

Die aansoek word later vandeesweek aangehoor.

Meer oor:  Brebner High School
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.