Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Biddende Grey-ouers stap 7 keer om skool

’n Groep ouers van Grey-kollege in Bloemfontein wat bid dat die bloed van Jesus hul skool van “politiek” moet reinig, beplan om hierdie week elke oggend om die skool te stap, en Sondag sewe keer, soos wat die Israeliete sewe keer om Jerigo gestap en hul ramshorings geblaas het in ’n poging om dié Bybelse stad se mure te laat val.

Sowat 60 mense het deelgeneem aan die gebedsgeleentheid buite die hoofhek van Grey-kollege (Sekondêr) in Bloemfontein. In die foto staan die hoof, Deon Scheepers, saam en bid. Foto’s: Conrad Bornman

Ouers van dié spogskool het Donderdagaand met kerse by die skoolhek gebid, terwyl oud-Greys die beheerliggaam se optrede teen Deon Scheepers, die beleërde hoof, bestempel het as ’n “heksejag” teen ’n “ordentlike, gelowige en bekwame” man.

Scheepers het self met ’n kers aan die gebedsbyeenkoms deelgeneem.

Die beheerliggaam (SBL) van Grey-

kollege (Sekondêr) het Scheepers, wat al vyf jaar hoof is, op 15 Mei gestroop van sy beheerliggaampligte, soos sport en kultuur, en vereis net sy dienste in die SBL se finans- en akademiese komitees.

kollege (Sekondêr) het Scheepers, wat al vyf jaar hoof is, op 15 Mei gestroop van sy beheerliggaampligte, soos sport en kultuur, en vereis net sy dienste in die SBL se finans- en akademiese komitees.

Die saak waarin Scheepers die Bloemfonteinse hooggeregshof vra om dié SBL-besluit tersyde te stel, word op 20 Augustus aangehoor. Die SBL staan die aansoek teen.

Daar is ’n heksejag teen Scheepers aan die gang. Hulle wil hom uitwerk.

In hofstukke verduidelik die SBL die vertrouensbreuk tussen hom en Scheepers het oor sowat 18 maande ontwikkel namate aspekte van die skoollewe agteruitgegaan het. Hulle sê die skool “glip”:

* Al hoe meer onderwysers bedank;

* Akademiese prestasie en dissipline taan;

* Die skool verloor sy unieke karakter en etos; en

* Die bestuur van rasseverhoudinge op die skoolterrein het ’n “vlampunt vir misnoeë” geword.

Die SBL sê in 2016 was daar ’n geleidelike “toename in kwessies” wat deur gegriefde ouers, onderwysers en leerlinge aangemeld is.

Sy uitvoerende komitee het in 2017 al hoe meer voorvalle met ’n rassistiese ondertoon opgemerk wat hulle nie glo Scheepers reg hanteer het nie.

Scheepers het volgens die SBL nie die “inkoop van die leerlinge” om rasseverhoudinge te bestuur nie.

Die groep ouers bid dat die bloed van Jesus hul skool van “politiek” moet reinig.

In Januarie 2017 het ’n groep swart leerlinge op die paviljoen gekla wit leerlinge sing nie sekere dele van die volkslied nie, maar dat hulle die Afrikaanse deel hard saamsing.

Scheepers het Felix Mokoena, ’n SBL-lid, gevra om met die swart leerlinge te praat omdat die kinders die kwessie nie met hom wou bespreek nie. Die leerlinge het nie vertrou dat Scheepers aandag aan hul klag sou gee nie en hul dasse in protes afgehaal.

Mokoena het die situasie toe ontlont.

Op Tuck Shop Think Tank, ’n geslote Facebook-groep van oud-Greys, het 127 lede uit 171 gestem dat die SBL se hantering van die Scheepers-kwessie nie bekwaam was nie.

’n Huilende ma het gesê Grey is hul gesin ‘se lewe’.

Slegs twee het die SBL-optrede goedgekeur.

’n Oud-Grey het Scheepers op dié groep as ’n “goeie, ordentlike, gelowige en bekwame man” beskryf.

By die gebedsgeleentheid Donderdagaand het Jacques Else, ’n ouer wat sy meestersgraad in teologie doen, gebid vir die “bloed van Jesus oor Grey se grondgebied”. Hy het gesê dít wat met die skool gebeur, is dinge “wat oor die afgelope jare opgebou het”.

Ouers is gevra om in groepe en in die rigting van die skool te bid.

’n Huilende ma het aan Rapport gesê Grey is hul gesin “se lewe”. Sy kan nie haar kind na ’n ander hoërskool stuur nie. Die skool moet “van die politiek gesond word”.

Die paviljoenvoorval was volgens haar ’n “klein dingetjie wat uit verband geruk word”.

Sy sê die volkslied se Afrikaanse deel word harder gesing deur kinders wie se huistaal Afrikaans is “soos wat sekere ander dele (Xhosa, Zoeloe, Sotho) harder gesing gaan word by ’n sokkerwedstryd”.

Die ouers gaan dié week soggens vroeg een keer om die skool stap, en Sondag sewe keer.

Die SBL sê egter in hofstukke die “hele raskwessie by Grey is ’n tydbom wat wag om te ontplof”.

Nóg ’n voorval was ’n “heftige” klasgesprek tussen ’n onderwyser en leerlinge, wat deur dié kinders as rassisties beskou is.

Nog ’n ouer het aan Rapport gesê: “Alle skole het aanpassingsprobleme tussen rasse. Maar ek dink nie Grey het in dié stadium ’n probleem met rassisme nie.

“Ek glo die SBL het die skool se beste belange op die hart, maar elke party het seker ’n saak (in die hof).”

Hy het gesê die geskil tussen die SBL en Scheepers moet nou so gou moontlik opgelos word voordat dit die kinders begin aantas.

’n Oud-Grey het gesê hoewel Scheepers “nie sonder foute is nie”, is hy nooit ’n billike kans gegun om homself as skoolhoof te bewys nie.

“Die SBL behoort ontbind te word sodat ’n nuwe een saamgestel kan word. Daar is ’n heksejag teen Scheepers aan die gang. Hulle wil hom uitwerk. Maar selfs al wen hulle die hofsaak, is hulle steeds nie van hom ontslae nie.”

Die oud-Grey sê die SBL moes teikens vir Scheepers gestel en hom deurlopend daaraan gemeet het.

Hy glo Scheepers se besluit om die sogenaamde “Grey Friday” te begin inkort – die gebruik dat leerlinge soms Vrydae op sporttoere vertrek eerder as klasloop – het tot sy ongewildheid bygedra.

Hy meen die skool moet deskundiges inkry om rasseprobleme op te los.

’n Paar ouers wou weet wie die regskoste gaan betaal as die SBL die saak sou verloor.

Scheepers het slegs aan Rapport gesê: “Die regsproses moet sy gang gaan.”

Hy sê in hofstukke die SBL se drastiese besluit het geen regseffek nie.

JP Rudd, prokureur en oud-Grey, sê die SBL het hul magte oorskry. Hul ingryping is irrasioneel. Die hof behoort dit tersyde te stel.

“Hoe dit ook al sy, ek glo nie dié hofuitspraak sal die einde van die pad wees nie.”

Meer oor:  Deon Scheepers  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.