Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Binneland gereed om onderwysers in te ent

Die Vrystaatse en Noord-Kaapse onderwysdepartement is gereed vir die inenting van hul onderwysers en ander skoolpersoneel wat Woensdag landwyd begin.

Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, sê die entstof is ’n noodsaaklike hulpbron in hul geveg teen die pandemie.

“Dit is kritiek dat ons enige verdere onderbrekings in ons skoolkalender vermy, want ons leerlinge ly reeds sedert verlede jaar akademiese verliese.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Saterdag aangekondig die Johnson & Johnson-entstof sal vanaf Woensdag oor die volgende tien tot 14 dae aan 582 000 onderwysers en skoolpersoneel toegedien word.

Sy het gesê die inenting is vrywillig en niemand sal gedwing word om dit te neem nie.

Skole gaan vir eers nie gesluit word nie, maar dit sal op advies van die kabinet en bevelsraad heroorweeg word.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, sien dit as ’n positiewe stap om nie net onderwysers veilig te hou nie, maar ook om te verseker dat die verspreiding van die virus optimaal geminimaliseer word.

Gemengde gevoelens heers onder onderwysers van die provinsie.

Bianca Mostert, ’n onderwyseres aan die Primêre Skool Op die Voorpos in Upington, sê sy is baie bang.

“Ek het al te veel negatiewe goed oor die inenting gelees en gekyk.”

’n Onderwyseres van Kuruman, wat anoniem wil bly, sê dit sal net ’n kwessie van tyd wees voordat onderwysers gedwing word om die entstof te neem.

Herman van der Merwe, hoof van die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, sê dit is baie goeie nuus dat onderwysers en mense wat met kinders werk vandeesweek die entstof kan begin kry. Foto: Mlungisi Louw

Herman van der Merwe (51), hoof van die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, sê dit is in hierdie stadium ’n absolute noodsaaklikheid dat alle personeel wat met kinders werk, ingeënt moet word.

“Die aankondiging van die minister dat dit Woensdag begin, is goeie nuus! In die Motheo-onderwysdistrik het ons ook spesifieke instruksies ontvang. Ons as skoolhoofde is baie positief dat dit wel begin.”

’n Onderwyser van die Laerskool Bloemfontein wat anoniem wil bly, sê sy wil nie die inspuiting hê nie.

“Ek gaan nie vir die griepinspuiting nie, en dit (die entstof) is geen uitsondering nie. ’n Mens hoor ook dat die entstof verval het.”

Onderwysvakbonde en ouerbeheerliggame is ook ten gunste van Motshekga se besluit.

Ons as skoolhoofde is baie positief dat dit wel begin.

Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hulle is veral ten gunste van die besluit dat onderwysers met onderliggende siektes, wat weier om die inenting te kry, nie verlof toegestaan sal word nie.

Fedsas is gemaklik daarmee dat personeellede self kan besluit of hulle die entstof wil neem of nie.

Mugwena Maluleke, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), sê hulle sal aanhou om al hul lede aan te moedig om die entstof te kry.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê dit is verblydende nuus dat die laaste struikelblokke uit die weg geruim is oor die inentingsprogram vir skoolpersoneel.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Dr. Zamani Saul  |  Entstowwe  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Onderwysers  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.