Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: Bishop Lavis-skool eis dat WKOD gehoor gee

Lede van die Bishop Lavis-gemeenskap en van die Bishop Lavis Action Community (Blac) op die Kaapse Vlakte het Woensdag die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) 48 uur gegee om aan hul eise vir meer onderwysers en beter dienste aan die Bergville Primêre Skool in die buurt gehoor te gee.

Victor Altensteadt van Blac het gesê geen gehalte-onderrig is moontlik in ’n skool waar daar 70 leerlinge in ’n klas is nie.

“Nie in Bergville nie en nie in enige ander skool in die Wes-Kaap nie.”

Inwoners van Bishop Lavis en lede van die gemeenskapsorganisasie Blac het Woensdag ’n plakkaatbetoging by die Bergville Primêre Skool in Bishop Lavis gehou. Foto: Verskaf

Hy sê al wat hulle vra, is meer onderwysers, nog ondersteuningspersoneel en beraders vir die leerlinge. “Bishop Lavis gaan gebuk onder bendegeweld. Hoe kan daar verwag word van ’n kind wat gesien het hoe iemand doodgeskiet word om daarna ’n wiskundetoets te gaan skryf? Dis mos ongehoord,” sê hy.

Die skoolhoof, Aleem Abrahams, het hom ook geskaar by die sowat 100 inwoners en Blac-lede wat voor die skool met plakkate betoog het.

Abrahams sê die WKOD is bewus van sy pleidooie en die skool se probleme, maar dit vind geen gehoor nie.

“Ek het ’n gr. 3-klas met 70 leerlinge. Dis te veel vir die klas wat vir 30 leerlinge gebou is. Die kinders word nou in die skoolsaal onderrig.”

Maar volgens Abrahams kan die onderwyser nie die klas behartig nie, want die geraas is erger daar.

Die skool het ook twee gr. 4-klasse met 50 leerlinge elk.

“Ons vra nie baie nie, en ons versoeke is ook nie onregverdig nie. Ons vra net basiese dienste en dat ons kinders ook die geleentheid kry om gehalte-onderrig te ontvang. Dit is hul grondwetlike reg.”

Abrahams sê die skool het net een opsigter. Dié persoon moet elke dag 20 klaskamers, die skooltoilette, die administratiewe afdeling en die skoolterrein skoonmaak. Hy moet ook as veiligheidswag optree.

“Toe ons na die WKOD is om te vra dat nog ’n persoon aangestel word, is ons gesê om van die skool se geld te vat en iemand te betaal of anders om ’n ouer te kry. Die skool het nie geld nie, ons is ’n geen-fooie-skool. Die WKOD-amptenare wil nie verniet werk nie, maar verwag van die ouers van Bishop Lavis, wat klaar moet skarrel om kos op die tafel te sit, om verniet te werk.”

Die skoolhoof, Aleem Abrahams, praat met die mense wat aan die protesaksie buite die skool deelgeneem het. Foto: Verskaf

Hy sê hy sal hom nie deur die WKOD laat afdreig oor sy pensioen nie. “As dit oor my pensioen gegaan het, was ek lankal nie meer hier nie. Maar ek sal aanhou lawaai maak oor my kinders, oor my gemeenskap. Dis my passie. En solank my kinders benadeel word, sal ek lawaai maak.”

Altensteadt sê hulle sal Woensdag ’n memorandum met versoeke aan WKOD-amptenare oorhandig en die departement 48 uur gee om daaraan gehoor te gee.

“Doen hulle dit nie, gaan ons met ’n massa-protesaksie by skole in die hele Bishop Lavis en die omliggende gebiede begin.”

Hy sê die probleme word nie net by Bergville nie, maar by skole oor die hele Wes-Kaap ondervind.

’n Waarskuwing word ook aan die WKOD gerig: “Raak aan ons hoof en daar is k*k.”

Altensteadt sê Abrahams is nie bang om te praat nie, terwyl ander hoofde wel is.

Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, het gesê dat hulle reeds verlede week met die skool oor sy leerlinggetalle gepraat het.

Volgens Hammond was daar toe gesprekke oor bykomende poste vir die Bergville Primêre Skool. Sy het gesê die distriksdirekteur het gevra dat twee poste beskikbaar gemaak moet word. “Ongelukkig is dit so dat ons by sommige skole aan die begin van die jaar groot klasse sien. Ons kan nie altyd voorspel hoeveel kinders gaan aansoek doen nie. Ons beplan so vroeg moontlik vooruit, maar laat aansoeke, kinders wat van ander provinsies kom, kinders wat slaag en oorgeplaas word, dra ook by dat getalle styg,” het Hammond gesê.

Hammond sê Bergville Primêre Skool het ‘n administratiewe klerk, ‘n algemene voorman en ‘n algemene assistent bygekry. “Die skool kwalifiseer ongelukkig nie vir nog ‘n algemene assistentpos nie,” sê hy. "Ongelukkig is daar ‘n beleid waaraan ons weens begrotingsdoeleindes moet voldoen." 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.