Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bishops-seksskandaal: ‘Juffrou is getraumatiseer’

Die onderwyseres wat vir seksuele wangedrag ondersoek word, Fiona Viotti, is getraumatiseer en dinge is vir haar baie moeilik om te hanteer.

So het William Booth, Viotti se prokureur, Dinsdag gesê. Volgens Booth tree haar pa, Dave Mallet (Nick Mallett se broer) net in sy dogter se beste belang op deur haar te ondersteun terwyl die skool, Bishops Diocesan College in Rondebosch, Kaapstad, die saak ondersoek.

Fiona Viotti (30)Foto: Facebook

Viotti (30) het na bewering ’n verhouding met ’n 18-jarige matriekseun van die skool gehad en die verhouding het glo versuur toe hy dit wou beëindig. Hy het glo sy ouers daarvan vertel, wat op hul beurt die skool ingelig het.

Viotti, wat verlede jaar getroud is, het onmiddellik bedank en ’n ondersoek is begin nadat die beweerde verhouding op die lappe gekom het. Die skool het enigiemand met inligting gevra om na vore te kom.

Volgens Booth het Viotti en haar man, wat glo uitmekaar is, steeds kontak met mekaar. Booth sê hy kan nie bevestig of die gerugte waar is dat hy na die Weskus gevlug het nadat die storie oor sy vrou op die lappe gekom het nie.

Hy het wel gesê gerugte dat Viotti uit die land padgegee het, is onwaar. “Sy is in Kaapstad by haar familie en sy word ondersteun,” sê hy.

Volgens Booth gee sy nie nou aandag aan enige boodskappe nie, en daar is geen strafregtelike saak teen haar wat ondersoek word nie.

“Mense mag vra hoekom sy dan ’n prokureur gekry het. Maar dit is enigiemand se reg om regshulp te kry, en dit staan haar vry om dit te doen.”

Booth het Maandag gewaarsku dat dit onwettig is om kaalborsfoto’s van Viotti te versprei wat op sosiale media die ronde doen. Dit kom nadat dié foto’s van haar, asook eksplisiete video’s, waarin ’n vrou gesien kan word maar nie haar gesig nie, wyd op sosiale netwerke soos WhatsApp versprei is.

“Dit is hoogs onreëlmatig en onwettig om dit te versprei,” het Booth Maandag gesê.

Dave, Viotti se pa, het Dinsdag in ’n brief aan ouers van die skool gesê hy ondersteun sy dogter, en haar veiligheid is sy topprioriteit. Hy sê ook hy sal steeds in sy pos as koshuisvader van een van die koshuise, Founders House, aanbly.

Hy het in die brief gevra dat die seuns moet voortgaan soos normaal en nie om hom op hul tone moet loop nie. Dave rig die eersterugbyspan van die skool af en volgens hul webblad is hy ook ’n geskiedenisonderwyser.

Volgens Booth is die brief net aan ’n klein groepie ouers gestuur en bevat niks onbehoorliks nie. “Ek kan hoegenaamd nie verstaan hoekom enige ouer die boodskap op sosiale media of aan die pers sal stuur nie. Dit is ’n hartroerende brief wat sy ondersteuning aan sy dogter as haar pa verwoord,” sê Booth.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.