Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bishops: Parlement ‘ernstig bekommerd’

Die seksskandaal by die Bishops Diocesan College het nou in die parlement gaan draai, met die voorsitter van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys wat “ernstige kommer” daaroor uitgespreek het.

“Die voorsitter is ernstig bekommerd oor berigte van ’n seksuele verhouding tussen ’n opvoeder en ’n gr. 12-leerling aan ’n onafhanklike skool in Kaapstad,” lui ’n verklaring Vrydag deur Bongiwe Mbinqo-Gigaba, die voorsitter van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys in die parlement.

Dit kom ná bewerings van seksuele wangedrag teen Fiona Viotti (30), ’n waterpolo-afrigter by Bishops in Rondebosch, Kaapstad. Viotti het intussen by die skool bedank en die skool ondersoek die saak.

Mbinqo-Gigaba sê die komitee neem kennis van die berigte dat die leerling ouer as 18 jaar is en dat die verhouding na bewering konsensueel was.

“Maar elke opvoeder is verantwoordelik vir hul eie etiese gedrag. Selfs as ’n leerling bo die toestemmingsouderdom is, is daar steeds baie faktore wat in ag geneem moet word.

“Hy bly ’n skoolkind,” sê Mbinqo-Gigaba.

Fiona Viotti (30) Foto: Facebook

Die komitee sê hy is bewus dat die betrokke opvoeder bedank het, en dat die skoolhoof vroeër die week in ’n verklaring gesê het dat “verskeie seuns oor ’n aantal jare geraak is”.

Mbinqo-Gigaba sê: “Ons prys die skool dat hy die seuns aangemoedig het om na vore te kom met inligting, en dat hy probeer om die situasie ten volle te verstaan.

“Ons doen ’n beroep op ouers om met hul kinders te praat en hulle te laat besef dat dit nie ’n skande is om na vore te kom as hulle dieselfde behandel is deur die onderwyseres nie.”

Meer onderwysers begin verhoudings met seuns

Mbinqo-Gigaba sê in ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) onlangs by die parlement, het Sace die komitee ingelig dat die aantal aangemelde gevalle van onbehoorlike verhoudings tussen onderwysers en leerlinge teen ’n onrusbarende tempo toeneem, en dat dit dringend aangepak moet word deur die provinsiale onderwysdepartemente.

“Daar was veral ’n toename in die verhoudings tussen vroulike onderwysers en seuns,” lui die verklaring.

“Op daardie vergadering was Sace duidelik dat, ongeag hoe klein die ouderdomsgaping tussen ’n leerling en ’n opvoeder is, daar ’n lyn is wat nie oorgesteek moet word nie. Hy bly ’n leerling en sy bly ’n opvoeder,” sê Mbinqo-Gigaba.

Sace is die professionele raad vir opvoeders wat daarop gemik is om die status van die onderwysberoep te verbeter deur toepaslike registrasie en die bestuur van professionele ontwikkeling.

Dit verskaf ook ’n etiese kode vir alle opvoeders. Volgens die gedragskode van Sace moet opvoeders hulle van “enige vorm van seksuele verhouding met ’n leerling van enige skool weerhou”.

Netwerk24 het Sace genader vir kommentaar. Dit sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

Guy Pearson, skoolhoof van Bishops, het Donderdag gesê hy wil nie verder kommentaar lewer oor die saak totdat die ondersoek afgehandel is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.