Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bishops-seksskandaal: Skool bevestig wangedrag met 5 seuns

Fiona Viotti het tussen 2013 tot 2019, terwyl sy as onderwyseres by Bishops College in Rondebosch, Kaapstad, werksaam was, haar skuldig gemaak aan seksuele wangedrag met minstens vyf leerlinge.

Dit is luidens ’n verklaring van die skool wat Maandag uitgereik is. Guy Pearson, skoolhoof, sê in die verklaring dat dit ná onderhoude met betrokke partye vasgestel is.

“Aangesien die onderwyseres onmiddellik op 11 Oktober bedank het, kan die skool geen tugstappe oor hierdie oortredings doen nie,” sê hy.

“Die ondersoekers het bevind dat die onderwyseres in stryd met die skool se gedragskode vir onderwyspersoneel en die kode vir professionele etiek van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) opgetree het,” lui die verklaring.

“Die ondersoekbeamptes het die skool in kennis gestel van sy plig om dit by die toepaslike owerhede aan te meld,” sê Pearson. “Die skool werk in hierdie verband met die owerhede saam.”

Fiona Viotti op haar troudag in 2018. Foto: Bishops College Magazine

Pearson kon teen publikasie nog nie spesifiseer watter stappe gedoen is nie.

“Die ondersoekers het geen inligting ontvang wat daarop dui dat die skool iets van die seksuele wangedrag met leerlinge geweet het voordat dit in die media aan die lig gekom het nie,” lui die verklaring van Pearson. “Die skoolhoof is die eerste keer op 10 Oktober in kennis gestel.”

“Die skool het ook die ouers van die betrokke seuns bewus gemaak van hul regte en verantwoordelikhede in hierdie aangeleentheid,” sê Pearson.

Die prokureurs en senior advokate wat die ondersoek gedoen het, kon nie met sekerheid vasstel aan wie Viotti eksplisiete video’s of foto’s gestuur het wat op sosiale media versprei is nie.

Adv. Francois van Zyl SC van die Kaapse Balie en Graeme Dorrington van Dorrington Jessop-prokureurs het die ondersoek gedoen.

Die skool het voorheen gesê die uitslag van die ondersoek word tot ná die matriekeksamen teruggehou.

Netwerk24 het vroeër berig twee van die vyf seuns wat na bewering deur die wangedrag geraak is, was vanjaar in matriek. Nog een is ’n gr. 11-leerling, een is ’n student aan ’n universiteit in Kaapstad en een is glo al ’n pa en woon oorsee.

Viotti het waterpolo afgerig by die skool en het deeltyds geskiedenis gegee. Sy het bedank nadat die bom gebars het.

“Ons verstaan dat daar in die toekoms meer inligting aan die lig kan kom. Ons verwelkom dit en moedig almal aan wat wil betrokke raak om die skoolhoof of prokureur Graeme Dorrington (graeme@djilaw.co.za) te kontak,” lui die verklaring.

“As ’n skool is ons hartseer oor hierdie gebeure en bly ons daartoe verbind om die geestesgesondheid en welstand van diegene wat geraak word, te verseker.

“Aangesien die gebeure ook huidige leerlinge by die skool betrek, sal geen verdere besonderhede rakende die bevindinge deur die ondersoekers bekend gemaak word nie.

“Ons sal voortgaan om die waardigheid en privaatheid van almal wat betrokke is te respekteer en sal geen verdere verklarings of kommentaar hieroor lewer nie.

Fiona by ’n paar waterpolospelers van Bishops. Sy
Fiona by ’n paar waterpolospelers van Bishops. Sy was self ’n kranige waterpolospeler en het Suid-Afrika in 2006 op die Statebondspele verteenwoordig.

Volgens Pearson se verklaring het die ondersoekers die volgende geraadpleeg terwyl hulle die ondersoek voltooi het:

  • die beleid rakende professionele gedrag vir onderwyspersoneel;
  • die Bishops-kindermishandelingsbeleid;
  • die beleid en riglyne vir pornografie;
  • die Spiritualiteitsverklaring; en
  • die Kode vir Professionele Etiek uitgereik deur Saro.

“Die skool sal alle bevindings en aanbevelings wat deur die ondersoekers gedoen is, oorweeg om te verseker dat ons voortgaan om Bishops ’n veilige omgewing vir al ons leerlinge en onderwysers te maak,” sê Pearson.

William Booth, Viotti se prokureur, het teen publikasie nog nie gereageer op navrae vir kommentaar nie. Hy het aangedui dat hy teen Maandagoggend nog nie die amptelike uitslag van die ondersoek ontvang het nie.

Agtergrond

Booth het Sondag gesê hy het Viotti geadviseer om eerder nie met die ondersoekers te praat nie, en daarom het sy nooit haar weergawe van gebeure aan die ondersoekers gegee nie.

“Al het Fiona nie direk ’n verklaring aan die ondersoekers gestuur nie, was ek in kontak met hulle. Ons het gereeld gepraat, briewe verwissel en persoonlik vergader. Dit is alles vertroulik gedoen,” het Booth Sondag gesê.

Booth het voorheen gesê hy glo nie daar is bewyse dat Viotti ’n misdaad gepleeg het nie en daarom is daar “geen grondslag vir enige strafregtelike klag nie”.

Eksplisiete video’s, asook kaalborsfoto’s van haar, het kort nadat die skandaal op die lappe gekom het die ronde op sosialemedia-netwerke soos WhatsApp gedoen, en dit is ook op verskeie bekende pornografiese webtuistes gelaai waar sommige meer as 20 000 keer gekyk is.

Meer oor:  Fiona Viotti  |  Kaapstad  |  Bishops-Seksskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.