Dr. Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, het na pres. Jacob Zuma gekap oor sy aankondiging van gratis tersiêre onderwys.
Nzimande het Saterdag by die Joe Slovo-gedenksaamtrek by die Avalon-begraafplaas in Soweto gepraat.
Nzimande, wat tydens die #FeesMustFall-protesoptogte in die kollig was, sê terwyl die aankondiging van gratis onderwys verwelkom word, is daar geen aanduiding waar die geld daarvoor vandaan gaan kom nie.
“Dit is baie belangrik dat Zuma se aankondiging dringend uitgeklaar moet word. Indien ons dit nie reg hanteer nie, wag ’n groot gemors op ons,” het Nzimande gesê.
“Kan ons gratis hoër onderwys bekostig, soos op 16 Desember aangekondig is? En terselfdertyd het ons ’n kernkragooreenkoms? Kan ons dié dinge hanteer? Waar gaan die geld vandaan kom?”
“Ons wil as die SAKP sê dat ons nie ’n verhoging van BTW sal toelaat nie, of dat geld van die werkloosheidversekeringsfonds of Public Investment Corporation daarvoor verhaal word nie.”
Hy het gesê dít sal net so goed wees om die armes te vra om hul eie kinders se hoër onderrig te finansier.
Nzimande het ook die ANC se stilswye oor die saak bevraagteken en gesê daar moet eerder oproepe weens dat universiteitsregistrasie volgens afgespreekte norme gedoen moet word.
Die EFF moet ook nie toegelaat word om op ’n opportunistiese wyse die saak te laat ontspoor nie.
“Hoër onderwys moet getransformeer en nie vernietig word nie,” het Nzimande gesê.
Hy het ook die matriekklas van 2017 gelukgewens, maar gesê dit is belangrik dat dié mense besef universiteit is nie die enigste opsie wat vir hulle beskikbaar is nie.

Dr. Blade Nzimande. Foto: Bongiwe Gumede