Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Blinde atleet straal toe sy honneursgraad ontvang
Louzanne en haar beste vriendin, Oakley. Foto: Emile Hendricks

Met ’n wêreldrekord in die 5 000 m en ’n Afrika-rekord in die 1 500 m reeds op haar kerfstok, kan Louzanne Coetzee van Bloemfontein nou met ’n honneursgraad in Kommunikasie: korporatiewe bemarking ook spog.

Dié 23-jarige blinde atleet van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Vrydag tydens die herfsgradeplegtigheid haar tweede graad ontvang.

“Ek is regtig só ge-bless,” sê sy.

Haar pikswart gidshond, Oakley, het by haar voete gestaan en self van oor tot oor geglimlag.

Dorothy, Louzanne se ma, sê hulle is baie trots op haar.

“En so dankbaar! Ek raak sommer emosioneel as ek hieroor praat,” sê sy.

Die oomblik toe hulle uitgevind het Louzanne is blind, was ’n groot skok.

“Om te dink, 23 jaar gelede was sy ’n pap ou babatjie in my arms. Ek het nie geweet wat om te doen nie, want om ’n blinde baba te hê, was ’n hele onbekende wêreld vir my. Ek het elke boek daaroor verslind.

“En nou, 23 jaar later, staan sy hier voor my met soveel wat sy al bereik het. Ons is regtig só geseënd.”

Louzanne se gestremdheid hou haar glad nie terug nie.

Groot vreugde. Louzanne gooi haar gradeplegtigheidshoed in die lug terwyl Leresia du Toit, Carmen Honiball, Heidi Murray, Tecara Woodbridge, Cecile Meyer, Nicole Walraven en Nadia Vogelesang hul graadvang saam met haar vier. Foto: Emile Hendricks

“Ek lewe my lewe net soos wat jy joune leef. Ek doen alles nes ’n normale mens dit doen,” sê sy.

Louzanne het amper nie haar tweede gradeplegtigheid bygewoon nie.

“Dit is altyd so ’n schlep om dit by te woon, want dis vorms wat jy moet invul en jou klere wat jy moet gaan haal . . .”

Gelukkig het ’n klasmaat haar oorreed om nie die geleentheid mis te loop nie.

“Maar ek sê toe vir haar: ‘Dan moet jý my klere gaan haal’ en wraggies, toe doen sy dit!”

Louzanne kom, met Oakley se hulp natuurlik, op haar eie op die kampus reg.

“Ons het vir Oakley roetes op die kampus geleer om Louzanne by haar klasse en oral waar sy gereeld moet gaan, te kry. Louzanne weet ook min of meer waar sy haar op kampus bevind deur te luister na die geluide om haar, soos fonteine,” sê Dorothy.

Maar omdat Louzanne so besig is en kort-kort nuwe uitdagings aanpak, moet Oakley bontstaan om nuwe roetes op kampus aan te leer.

“Dit is maar ’n aanhoudende proses.”

Louzanne sal eerskomende Saterdag aan die O.R. Tambo-padwedloop van 21 km in Bloemfontein deelneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.