Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Blinde Hendri verwerf sy meestersgraad

Hendri Herbst, blinde Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer en houer van verskeie wêreldmedaljes, ontvang Vrydag sy LLM (meestersgraad in die regte) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hendri Herbst en sy gidshond, Julian.Foto: Verskaf

Herbst, wat in belastingreg spesialiseer, het sy meestersgraad voltooi ondanks verskeie uitdagings soos swemoefensessies en sy siggestremdheid.

Hy kom oorspronklik van Letsitele naby Tzaneen in Limpopo, maar woon nou in Stellenbosch.

Hy sê 2018 was vir hom moeiliker as die vorige jaar. Hy het gesukkel om ’n balans tussen sy studie en swemoefensessies te vind, maar danksy sy deursettingsvermoë het hy sy doelwitte bereik.

“Iemand met ’n gestremdheid word gewoonlik reeds behandel asof jy ’n agterstand het, so dit is belangrik om te beplan, om te weet wat jy wil hê van die lewe en nie op te gee nie,” het Herbst gesê.

Hy het dit reggekry om by die werkslading aan te pas en het uiteindelik die jaar geniet.

Hy het hom reeds ingeskryf vir sy doktorale studie en die internasionale kantoor van die US het Herbst ook die geleentheid gebied om aansoek te doen vir ’n gesamentlike PhD-graad tussen Stellenbosch en die Hasselt-universiteit in België. Sodra die befondsing daarvoor gefinaliseer is, sal hy daarmee begin. Danksy die ooreenkoms sal hy drie maande per jaar by Hasselt deurbring.

Herbst doen al sy werk op ’n rekenaar en gebruik ’n program wat teks hardop lees. Hy tik dan op die rekenaar en sy werk word aan hom teruggelees.

Herbst het verlede jaar die nuus gehaal toe hy ’n saak van diskriminasie gewen het teen ’n restaurant wat sy vorige gidshond Stan toegang tot die restaurant geweier het. Dit het gebeur toe Herbst en sy familie die restaurant in Desember 2014 besoek het. Stan is in Desember 2017 aan kanker dood.

Dit gaan goed met die jong hond. Ek bederf hom ’n bietjie, hy slaap selfs in my kamer op my bed.

Herbst sê sy nuwe hond, Julian, raak baie geheg aan hom.

“Dit gaan goed met die jong hond. Ek bederf hom ’n bietjie, hy slaap selfs in my kamer op my bed.”

Herbst oefen nou vir die IPC-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Augustus. Hy sal aan die 50 m- en 100 m-vryslagnommers deelneem.

• Herbst het ’n bronsmedalje op die Paralimpiese Spele in 2012 in Londen verower, asook goud en silwer op die 2016 Europese kampioenskappe.

• Hy is gedeeltelik blind gebore weens glasagtige hiperplasie en sekondêre gloukoom. Met die verloop van tyd het hy die res van sy sig ook verloor.

• Hy was net ses weke oud toe sy ouers hom vir ’n teenverdrinkingsklas ingeskryf het as ’n voorsorgmaatreël weens sy slegte sig. Dit is waar sy liefde vir swem begin het.

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Gradeplegtigheid  |  Blind  |  Regte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.