Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bloed en robotarm neem 2 leerlinge na Taiwan

Farida Cajee (18) se lewensdroom om mense op mediese gebied te help, kry volgende maand vlerke wanneer sy haar wetenskaplike vernuf op ’n internasionale wetenskapuitstalling in Taipei, Taiwan, gaan tentoonstel.

Farida Cajee Donderdag in Schweizer-Reneke met haar nuwe, herboude driedimensionele hand en arm wat sy op ’n internasionale wetenskapuitstalling in Taiwan gaan uitstal. Foto: Verskaf

Farida, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Schweizer-Reneke in Noordwes, en Miné Steenkamp (16) van die Hoërskool Douglas op Douglas in die Noord-Kaap, is albei genooi om die uitstalling van 3 tot 7 Februarie by te woon.

Hulle kry dié geleentheid nadat hulle beoordelaars op verlede jaar se Eskom-ekspo vir Jong Wetenskaplikes in Gauteng beïndruk het.

Farida het ’n plan bedink om die probleem van afvalplastiek en onbekostigbare kunsledemate in een projek op te los. Haar driedimensionele hand en arm wat uit afvalplastiek gemaak is, kan deur middel van haar selfgeskepte rekenaarprogam beweeg bloot wanneer die gebruiker daaraan dink om dit te beweeg. Farida se prostese uit herwonne plastiek kos boonop sowat R9 000, teenoor die gemiddeld van R140 000 wat ’n standaardprostese van onder die elmboog normaalweg kos.

Farida Cajee verlede jaar op Eskom se Ekspo vir Jong Wetenskaplikes.Foto: Verskaf

Die gebruiker plaas ’n EEG-kopstuk op sy of haar kop, wat sy of haar konsentrasievlakke meet. “Wanneer die gebruiker konsentreer, stuur die kopstuk ’n sein na die prostese se beheersentrum wat die hand laat oopgaan. Sodra die gebruiker ontspan, keer die hand terug na sy natuurlike posisie,” verduidelik Farida.

Haar projek is in Augustus verlede jaar as wenner aangewys in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-streeksuitdunne van die Eskom-ekspo se Noordwes-been. Dit is ook aangewys as beste vroue- en ingenieursprojek.

Vir haar reis na Taipei het Farida ’n soortgelyke nuwe hand en arm ontwerp, wat die maatskappye Solid Edge Technology en 3Disrupt in Gauteng gratis vir haar gedruk het.

Miné Steenkamp verlede jaar op Eskom se Ekspo vir Jong Wetenskaplikes.Foto: Verskaf

“Eskom dek al ons reiskoste en vergesel ons ook na Taipei, waar ons in die Imperial Hotel sal tuisgaan. Ek is so opgewonde. Ek was nog net een keer tevore in die buiteland, toe ek in 2017 op ’n skooltoer na Europa was.”

Farida oorweeg dit om volgende jaar tandheelkunde te studeer. “Ek was van kleins af lief vir wetenskap en wil die wêreld ’n beter plek maak.”

Farida skilder en geniet dit om kwadfiets te ry. Haar pa, Joe, is ’n motorwerktuigkundige en haar ma, Dolly, ’n huisvrou.

Miné het verlede jaar in die nasionale ronde in Eskom se ekspo die prys vir die beste innoverende projek gekry. Charné Kemp berig haar projek, getiteld “Misdaadbekamping met ’n malaria-teenmiddel”, is luidens Eskom se verklaring “deur ’n moord in haar familie geïnspireer”.

In haar navorsing het Miné die mediese middel artemisinin en die chemikalie luminol op verkillende maniere gebruik om bewyse van misdaadtonele doeltreffender te herwin en ’n slimfoon as die opspoortoestel te gebruik.

Haar tegniek kan ’n baie akkurate aanwyser van bloed op misdaadtonele wees. Deur die uitwerking van verskillende mengsels te vergelyk, het Miné onder meer vasgestel luminol-artemisinin kan oor ’n langer tydsbestek gebruik word om bewyse op misdaadtonele in te samel.

Eskom sê die ekspo in Taiwan gee jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes die geleentheid om hul eweknieë van ander lande te ontmoet.

Andrew Etzinger, Eskom se hoofbestuurder: risiko en volhoubaarheid, sê: “Ons probeer die afgelope 40 jaar al om deur die Eskom-ekspo ’n belangstelling in wetenskap te kweek en belowende jong wetenskaplikes selfs groter blootstelling te gee deur hulle na die buiteland te neem.

“Miné en Farida het albei diepte-kennis in hul onderskeie velde en sal voordeel trek uit hul kontak met hul eweknieë op die mededingende wetenskapuitstalling in Taiwan.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Noordwes  |  Taiwan  |  Douglas  |  Matriekleerling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.