Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bloem-seun sleep ‘boelies’ hof toe

Drie vermeende boelies moet enkele dae nadat hulle hul laaste matriekeindeksamenvraestel geskryf het, in die landdroshof in Bloemfontein op ’n aanklag van crimen injuria verskyn.

Dit kom nadat Corné Snyman (19), ’n matriekleerling aan die Martie du Plessis Skool vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes, na bewering byna ’n jaar lank deur dié drie rondgestamp en “lelike name” toegesnou is.

“Glo my, jy wil nie hê ons moet daardie woorde herhaal nie,” sê Chris Snyman, sy pa.

Corné Snyman (19) van die Martie du Plessis Skool in Bloemfontein het ’n klag van crimen injuria by die polisie aanhangig gemaak nadat mede-leerlinge hom glo geboelie het. Foto: Mlungisi Louw

Nadat nie die skoolhoof, die onderwysers of Corné se voog by die skool, volgens Snyman, op hul klagtes gereageer het nie, het hy besluit genoeg is genoeg en ’n klag by die Parkweg-polisiekantoor ingedien.

Hy sê ook hy het voorheen die vermeende boelies in ’n saalperiode voor die skoolhoof aangevat. “Die skoolhoof het my eerder skeef aangekyk as om iets aan die saak te doen.”

Hy en Corné is albei bekommerd oor sy matriekuitslae en beskou die klag as die laaste uitweg.

Corné sê dit is sleg om skool toe te gaan. “As hulle verbyloop, kom ek net so gou as moontlik weg.”

Hy sê die “lelike name” maal deur sy kop wanneer hy by die skool is.

Snyman sê Corné se gedrag het handomkeer verander sedert die afknouery begin het. Hy voel hy móét iets doen, want niemand het vir hóm opgestaan toe hy as kind geboelie is nie.

Dit het hom geleer baklei, wat hy nie wil hê sy seun moet doen nie.

“Dink waar sou hierdie kind gewees het as ek hom geleer baklei het, soos ék baklei het.”

Wendy Nkabi, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ’n klag aanhangig gemaak is.

“Al drie verdagtes, tussen 18 en 19 jaar, is aangekla en sal in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.”

Corné Snyman (19) Foto: Mlungisi Louw

Volgens Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, is die departement nie bewus daarvan dat ’n klag verlede Donderdag aanhangig gemaak is nie.

Hy sê die situasie word uit verband geruk en dat die departement dit na behore gehanteer het.

“Die vier leerlinge is vriende en dinge het skeefgeloop toe Corné goed op sy selfoon uitgevee het.

“Almal is op 12 Oktober ingeroep en hulle het mekaar om verskoning gevra. Hulle het gesê daar is geen probleem nie: ‘Ons is vriende.’ ”

Op 24 Oktober het Snyman vir Ndaba gebel en gesê die drie sê sy seun sleg.

“Weer het die hoof almal ingeroep sodat ons die probleem kon hanteer, maar toe het niemand eens opgedaag nie,” sê Ndaba.

Hy sê dit is in ’n kritieke eksamentyd en die ouers moet die kinders op hul voorbereiding vir hul oorblywende vakke gefokus hou.

Francois van Heerden, skoolhoof, wou geen kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Crimen Injuria  |  Boelies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.