Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Blye dag toe onnies uiteindelik ingeënt word

Dit was ’n blye dag vir werknemers in die onderwyssektor toe hulle eindelik van Woensdag af hul inentings teen Covid-19 kon kry.

Na verwagting sal meer as 125 934 werknemers in dié sektor in Gauteng tussen 23 Junie en 8 Julie ingeënt word.

Wilmadi Bester (27), ’n gr. 1-onderwyseres aan die Acudeo College Thornview Primary in Soshanguve, word by die Pretoria-Noord-stadsaal ingeënt. Foto: Deaan Vivier

Lynette du Toit (44), skoolhoof van die Acudeo College Thornview Primary in Soshanguve, sê dit was glad nie moeilik om enige van die skool se personeellede te motiveer om hul inenting te kry nie.

Sy en haar personeel is by die Pretoria-Noord-stadsaal ingeënt.

Du Toit was aangenaam verras oor hoe goed georganiseerd die werknemers hier was.

“Ons het vanoggend met ’n bang skool toe gegaan. Ons is almal opgewonde om hier te wees en om nou weer huis toe te gaan,” sê sy.

“Daar was geen twyfel dat ons dit gaan doen nie. Ons is net dankbaar omdat ons in die sektor geprioritiseer word en dat ons nie soos die res van die wêreld moet wag totdat jou ouderdomsgroep ingeënt word nie.”

Samantha Wilke, hoof van die grondslagfase aan die Acudeo College Thornview Primary in Shosanguve, word by die Pretoria-Noord-stadsaal ingeënt. Foto: Deaan Vivier

Vir haar gaan dit nie net oor haar eie veiligheid nie, maar ook dié van enigiemand met wie sy in aanraking kom.

“Die inenting gee jou ’n bietjie gemoedsrus dat jy dalk ’n bietjie veiliger is as die ou langs jou wat dit nie gekry het nie.”

Elizabeth Krohn (53), ‘n onderwyseres aan die Acudeo College Thornview Primary in Soshanguve, word by die Pretoria-Noord-stadsaal ingeënt. Foto: Deaan Vivier

Elizabeth Krohn (53), ’n onderwyseres van die Acudeo College Thornview Primary, sê sy het haar inenting gekry om haarself, haar leerlinge en haar familie te beskerm.

“Die inenting laat my ook ’n bietjie veiliger teen Covid-19 voel.”

Krohn sê dit is ’n groot dag vir die onderwyssektor.

“Dit is baie belangrik dat onderwysers ingeënt word, want ons werk in die voorste linie. Leerlinge kry Covid-19 sonder enige simptome en dit word oorgedra aan die onderwysers, en die onderwysers dra dit dan weer aan ander oor. Ons kry te doen met ouers en baie mense van verskillende plekke en uit verskillende dele van die gemeenskap.

“Dit is dus baie belangrik dat onderwysers beskerm word.”

Sy raai ander onderwysers aan om ook ingeënt te word.

“Daar is baie gemors op sosiale media (oor die entstof). Daar is geen manier dat enigiemand ingeënt sal word sonder dat dit heeltemal veilig is nie.”

Abram Matlala (59), busbestuurder van die Alma Skool vir leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes in Pretoria, is baie dankbaar en bly vir die inenting by die Pretoria-Noord-stadsaal. Foto: Deaan Vivier
Ronnie Ntsie (49), ’n algemene werknemer van die Clapham High School in Pretoria, knyp sy oë toe terwyl hy by die Pretoria-Noord-stadsaal ingeënt word. Foto: Deaan Vivier

Wilmadi Bester (27), ’n gr. 1-onderwyseres aan die Acudeo College Thornview Primary, is ingeënt om haarself en haar familie in die huidige omstandighede veilig te hou.

“Ons werk elke dag met kinders en bly in ’n huis saam met ouer mense – ons moet na hulle ook kyk.”

Sy meen Woensdag was ’n goeie dag vir onderwysers omdat “baie ouers ontevrede was dat die skole gesluit is en die leerlinge agter geraak het met hul skoolwerk”.

“Die onderwysers moet verseker dat hulle nou opvang en dit plaas ons in ’n moeilike posisie.”

Ronnie Ntsie (49), ’n algemene werknemer van die Clapham High School in Pretoria, het ook Woensdag sy inenting by die Pretoria-Noord-stadsaal gekry.

Hy sê hy het lank gewag vir hierdie dag.

“Ek is bly, want vandag het ek ’n kans gekry om my entstof te ontvang.”

Omdat Covid-19 vrees veroorsaak, hoop hy dat die inenting dinge beter sal maak.

Abram Matlala (59), busbestuurder van die Alma Skool vir leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes in Pretoria, is baie dankbaar en bly vir die inenting by die Pretoria-Noord-stadsaal.

“Ons móét ingeënt word, want ons sien wat om ons gebeur. Ek hoop dit werk, want dit gaan nie goed daar buite nie.”

Meer oor:  Gauteng  |  Entstowwe  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Onderwysers  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.