Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skok in skole: Minder seks, asseblief!

Onderwysers dreig met’n boikot van ’n nuwe skoolkurrikulum waar hulle gr. 7’s moet leer oor masturbasie en vir gr. 8’s moet “beskryf wat tydens vaginale, orale en anale seks gebeur”.

Een van die sketse vir gr. 10. Die seksuoloog Dr. Eve sê kinders van so jonk as 11 kyk al pornografie. Dit is daarom belangrik om vroeg al oor seks te leer.

Dele van die nuwe kurrikulums vir lewensoriëntering van gr. 4 tot gr. 12 wat van volgende jaar in alle openbare skole geïmplementeer moet word, het die afgelope week uitgelek.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hulle is geskok oor die materiaal en dink dis “grof onsensitief”.

Hulle raai onderwysers aan wat nie saamstem met die inhoud nie om dit te boikot.

“Indien daar dissiplinêre stappe deur die onderwysdepartement hieruit voortvloei, sal die SAOU nie huiwer om regsbystand en beskerming aan lede te bied nie.”

‘Dit gaan oor grense en respek.’

Van die meer omstrede dele uit die handleidings sluit in:

  • Gr. 4’s leer wat “private dele” en hul biologiese benaming is. In een van die vereiste aktiwiteite moet die tienjariges in groepies verdeel en mekaar se “private dele” uitwys en verduidelik waarom hulle dink dis privaat.
  • Gr. 6’e leer oor die gevare van seksuele inhoud op sosiale media. In die een aktiwiteit oorweeg ’n meisie om ’n kaalborsfoto van haarself op ’n WhatsApp-groep vir seuns te stuur om aandag te kry en die klas moet bespreek of dit ’n goeie idee is.
  • In gr. 7 sal kinders leer dat baie seuns en meisies masturbeer. “Dis normaal en sal jou nie seermaak nie,” lui die studentehandleiding.
  • Gr. 8’s begin onderskei tussen biologiese geslag en genderidentiteit en hoe dit soms verskil. Hulle leer oor onveilige aborsies. In die onderwysersgids vir lesplanne word ’n uur afgestaan aan beskrywings van vaginale, orale en anale seks, bevrugting, die biologie van swangerskap, en die kanse om swanger te raak.
  • Die gr. 9-boek het ’n geïllustreerde voorstelling in sewe stappe wat verduidelik hoe ’n vroulike kondoom reg in posisie geplaas moet word binne die vagina. Daar is ook ’n verpligte groepaktiwiteit waar leerlinge oefen om “nee” te sê deur rolspel. Een karakter probeer die ander oorreed om seks te hê terwyl die ander dit moet afwys “terwyl (hy/sy) steeds ’n positiewe verhouding met die ander persoon handhaaf”. “Dis nie genoeg om net die teks te skryf vir die karakters nie. Jy moet ’n karakter speel,” lui die gids.
  • In gr. 10 en gr. 11 sal kinders leer oor die verskillende seksuele oriëntasies, dat dit nie ’n keuse is nie en hoe om byvoorbeeld sensitief om te gaan met ’n transgender vrou wat nog biologies manlik is.

Van ’n baie vroeë ouderdom sal kinders gevallestudies in hul leermateriaal teëkom waar volwassenes met kinders peuter en in gr. 5 ook ’n geval waar ’n denkbeeldige seun, Max, seksueel geteister word deur ander seuns in sy skool. Hulle slaan sy boude en dwing hom om ’n ander seun se private dele te betas. Max gaan meld dit dadelik aan by ’n onderwyser, wat ingryp.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Elijah Mahlangu, woordvoerder van die onderwysdepartement, het nie op Rapport se vrae gereageer nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, skryf wel in die voorwoord van die leerlinge se boeke die regering het in 2011 reeds die kurrikulum begin hersien omdat die vorige strategie om net op MIV en swangerskappe te fokus, nie die gewenste uitwerking gehad het nie.

Die departement is sterk voorstanders van seks-weerhouding tot ’n gepaste ouderdom, skryf sy.

Leerlinge gaan steeds sterk aangemoedig word om seks uit te stel.

Die kurrikulum moes egter in ooreenstemming gebring word met internasionale standaarde soos dié van Unesco en is saamgestel in ’n raadplegende proses met kenners.

‘Ons is doelbewus mislei.’

Klopper sê dis erg misleidend. Toe daar vroeër vanjaar gerugte was dat masturbasie deel gaan wees van die kurrikulum vir gr. 4’s het die SAOU met die departement vergader.

“Die dokumente en voorbeelde wat ses maande gelede aan ons voorgehou is, was relatief aanvaarbaar. Ná bestudering van die jongste voorbeelde kan ons ongelukkig tot geen ander gevolgtrekking kom nie dat ons doelbewus mislei is.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is ewe geskok. “Dit wat ons nou sien, is nie vooraf met ons gedeel om ouers se insette te kry nie en lyk glad nie ouderdomsgepas, sensitief en waardegedrewe nie.

“Ons vergader weer op 27 November met die departement en daar sal sonder twyfel harde woorde wees.”

Die Christelike drukgroep FOR SA het die voorbeelde die afgelope week versprei en hul skok uitgespreek.

Hulle is veral gekant teen die “normalisering” van homoseksualiteit in die kurrikulum en die “ideologiese vooroordele” waarmee hulle nie saamstem nie.

In die gr. 11-kurrikulum leer kinders byvoorbeeld oor “helde en rolmodelle” en wat ’n rolmodel beteken.

Die gevallestudies is regter Edwin Cameron, wat onlangs uit die konstitusionele hof afgetree het, die MIV-behandelingsaktivis Zackie Achmat, die atletiekster Caster Semenya, sokkerspeler Thabang Sefatsa en die gospelsanger Musa (Queen) Njoko.

“Vier van die 5 ‘helde en rolmodelle’ het MIV en drie uit die vyf is LGBT,” (sic) kla FOR SA.

Verskeie kenners meen egter die bohaai is oordrewe.

Elma Bartlett, ’n huweliks- en gesinsterapeut met 35 jaar ondervinding wat ook pastorale berading bied, sê sy is in die algemeen baie positief oor die lesplanne.

“Dit gaan oor toestemming, grense en respek. Die kwessie van homoseksualiteit is byvoorbeeld heeltemal in ooreenstemming met ons Grondwet. Dit leer vir kinders wat is normaal en wat is nie.”

Sy sê sy sou selfs vir kinders jonger as gr. 4 leer oor “privaat dele” en die werklikheid is dat kinders in gr. 6 waarskynlik klaar ’n foto van ’n kaal bolyf van ’n vrou gesien het.

“En as hulle nie het nie, dan gebruik ’n mens dié geleentheid om daaroor te praat en te sê dis nie gesonde gedrag om kaalfoto’s te versprei nie.’’

Bartlett sê die enigste illustrasie wat haar wenkbroue laat lig het, was die gr. 9-boek met ’n verduideliking oor die vroulike kondoom.

“Dis ouers, of die kinders self, se goeie reg om nié die klasse by te woon nie as hulle ongemaklik is met die inhoud.”

Van die materiaal wat juis daarop gemik is om kinders teen seksuele misbruik te beskerm, kan dalk sommige kinders ontstel, maar dan moet onderwysers vir hulle ondersteuning bied.

Die seksuoloog dr. Marlene Wasserman, beter bekend as Dr. Eve, sien ook niks fout met die dele van die kurrikulum wat gelek is nie.

“As mens in ag neem dat kinders van 11 jaar oud al pornografie sien en seksklets-boodskappe stuur, is dit ouderdomsgepas.”

Sy is een van die kenners wat deur die departement gekonsulteer is, maar sê sy weet nie watter van haar aanbevelings aanvaar is nie omdat sy nog nie die finale materiaal gesien het nie.

Onderwysers met wie Rapport gepraat het, kou egter moeilik aan die leermateriaal.

Janetta van Niekerk, skoolhoof van die Laerskool Die Krans in Pretoria, sê sy is bekommerd dat leerlinge te vroeg te veel gaan leer.

“Dit maak my naar op my maag. Ek weet ’n kind moet street wise wees, maar die vrae wat hulle hier wil antwoord, is onnodig. Daar is sekere goed wat jy nié vir kinders verduidelik oor wat hul liggame alles kan doen nie. Hulle is nog nie ryp genoeg daarvoor nie.

“En hoe gaan jy met ’n Christelike agtergrond vir ’n kind verduidelik wat ’n kondoom is?”

Louise Lemmer, skoolhoof van Amanzimtoti High, sê alle kinders is nie op dieselfde vlak al is hulle op dieselfde ouderdom nie.

“Veral wanneer dit oor eksplisiete gesprekke gaan. Party kinders verstaan dit glad nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.