Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bouwerk by skool sloer al byna 7 jaar

Ouers het ’n laerskool in Kariega (Uitenhage) gesluit weens ’n gesloer met bouwerk by die skool wat daartoe lei dat elke graad glo net een keer per week skool toe gaan.

Bouwerk by die Jubilee Park Primary School sloer al byna sewe jaar en lei tot ’n ernstige tekort aan klaskamers en “beurtskool”.

Teen Woensdag het die ouers reeds ’n week gewag op terugvoering van die provinsiale onderwysdepartement oor wanneer bouwerk aan die skool hervat.

Ouers van die Jubilee Park Primary School in Kariega het Woensdag voor die skool betoog. Die skool is reeds verlede week deur ouers gesluit, terwyl hulle op die provinsiale onderwysdepartement se antwoorde wag oor bouwerk by die skool. Foto: Lulama Zenzile

“Elke graad gaan net een keer per week skool toe, dus is hulle vier keer per maand by die skool. Die res van die tyd is dit tuiswerk, maar nie al die ouers kan hul kinders met hul skoolwerk help nie, wat beteken hulle raak vinnig baie ver agter,” sê Benjamin Sauls, ’n pa van twee leerlinge in die skool.

’n Gedeelte van die skool het in 2013 afgebrand. Bouwerk het die daaropvolgende jaar begin, maar dis steeds nie voltooi nie. Die agt mobiele klaskamers wat tydelik opgerig is, word steeds gebruik om die ongeveer 1 200 leerlinge op ’n rotasiegrondslag te akkommodeer.

Bouwerk het vantevore verskeie kere weens arbeidsgeskille en agterstallige betalings tot stilstand gekom. Na verneem word, wag die huidige kontrakteur ook op betaling van sowat R2 miljoen voordat hy konstruksiewerk hervat.

“Dit is pateties. Weens hul agterstand wil baie van die plaaslike hoërskole nie die leerlinge aanvaar nie. Ons kan nie langer so aangaan nie en daarom het ons die skool gesluit totdat ons antwoorde oor die pad vorentoe het,” sê Sauls.

Julia Green, wie se twee kinders ook in die skool is, sê dit is veral hartseer omdat die onderwysdepartement nie op hul versoek die skool besoek om die situasie eerstehands te ervaar nie.

“Ons is ontevrede met die stand van sake. Hier is net agt klaskamers vir al die leerlinge. Ons soek antwoorde by die departement oor wanneer hy die skool gaan voltooi.”

Ouers het die skoolhekke verlede Maandag gesluit in afwagting op die onderwysdepartement, wat teen verlede Donderdag terugvoering oor die bouwerk moes gee.

Ons as party het eienaarskap van die omstandighede by die skool geneem en sal toesien dat die werk voltooi word.

Keelvol ouers beplan om Donderdagoggend op te ruk na die kantoor van die plaaslike onderwysdepartement, waar hulle onmiddellike antwoorde wil eis.

“Die skool sal toe bly totdat die departement sê wanneer die konstruksiewerk sal hervat,” sê Sauls.

Bill Harington, navorser en provinsiale woordvoerder van die VF Plus, sê hulle plaas reeds geruime tyd druk op die wetgewer om die skool se pleidooi onder die aandag van onderwysamptenare te bring.

Hy sê die onderwysdepartement het in ’n brief bevestig dat R16 miljoen vir die 2021-’22-boekjaar geoormerk is om die bouwerk te voltooi. Luidens die brief van 29 Maart sal dit na verwagting in hierdie boekjaar afgehandel word.

Harington sê hy verstaan egter dat ouers skepties is en antwoorde by die departement soek.

“Ons as party het eienaarskap van die omstandighede by die skool geneem en sal toesien dat die werk voltooi word.

“Goeie onderrig, veral op laerskool, is van kardinale belang vir enige leerling se skoolloopbaan en toekoms,” sê Harington.

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het sedert verlede Donderdag nog nie op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.