Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Brics-universiteite ‘moet nouer saamwerk’

Nouer samewerking tussen die Brics-lidlande is nodig om navorsing te steun wat praktiese oplossings vir hul inwoners kan bied.

Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, het Donderdag op ’n konferensie van die Brics-netwerk vir universiteite ’n beroep gedoen op lidlande om meer gesamentlike navorsing aan te pak en te publiseer.

Sy wil ook sien dat meer studente van die ander lidlande – Brasilië, Rusland, Indië en China – navorsing vir hul PhD-grade in Suid-Afrika voorlê en voltooi.

Pandor het gepraat by die opening van die Brics-netwerk vir universiteite se derde konferensie wat op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus aangebied word.

“Brics gaan oor optrede en samewerking. Ek hoop om studente betrokke te kry, want dit is die kern van die saak.”

Pandor sê ten opsigte van die akademie glo sy nie in “polemiek en esoteriese debatte” nie – sy glo in optrede.

Sy gaan ook aanstaande week met die ministers van onderwys van die ander Brics-lidlande vergader om nouer samewerking te verseker, ondersteuning te bied waar nodig en “seker te maak dat ’n konkrete plan opgestel word”.

“Baie mense het geglo Brics is onvolhoubaar, maar dit het van krag tot krag gegaan. Dit het begin as ’n handels- en ekonomiese vennootskap en het uitgebrei na die wetenskap, tegnologie, kultuur, gesondheid en onderwys.”

Pandor vra ook dat Brics-lande meer gesamentlike navorsing doen en in vaktydskrifte publiseer en dat meer patente deur Brics-lande geregistreer word.

“As ons nie ’n toename sien nie, het ons nie ’n verskil gemaak in hoe ons uitgebeeld word en die indruk wat die wêreld van ons lande het nie.”

Die tema van vanjaar se konferensie is “Ontsluit die vennootskappe van Brics-universiteite: Nagraadse geleenthede en uitdagings”.

Daar word gefokus op ses gebiede van samewerking: energie, rekenaarwetenskap en inligtingstegnologie, ekologie en klimaatsverandering, ekonomie, waterbronne en Brics-navorsing.

“In die Brics-lande het ons jong bevolkings en ons moet kyk hoe ons dit tot ons voordeel kan gebruik. Hoe rus ons jong mense toe vir die reusetaak om die wêreld te verander?”

Pandor het Rusland ook gelukgewens met “een van die onvergeetlikste Wêreldbeker-sokkertoernooie”.

“Maar ons s’n was beter,” het sy geskerts.

* Die konferensie duur tot Saterdag in die Van der Sterr-gebou in Victoriastraat, Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.