Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Brugtragedie: Lesufi sê nou skool sal betaal

Enkele dae nadat die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, belowe het dat sy departement die mediese koste sal dra van die kinders wat beseer is in die tragedie by die Hoërskool Driehoek, het sy departement nou van deuntjie verander. Sy woordvoerder, Steve Mabona, het die afgelope week gesê die skool sal moet pa staan vir dié onkoste – wat honderdduisende rande kan beloop.

’n Vrou staan met ’n bos blomme voor Hoërskool Driehoek aan, waar honderde mense reeds blomme en boodskappe gelaat het. Foto: Elizabeth Sejake

“Die LUR het namens die skool gepraat, hulle moet betaal.”

Dit is in sterk teenstelling met Lesufi se woorde op ’n nuuskonferensie op die skoolterrein ure ná die ramp. Toe het hy gesê: “Die departement – en ook deur die skool se beheerliggaam – het ’n onmiddellike opdrag gegee aan alle hospitale dat geen enkele leerling nie behandel moet word omdat hulle nie ’n mediese fonds het of nie kan bekostig om te betaal nie. Die departement sal instaan en hulp verleen. Daar is leerlinge wat reeds geïdentifiseer is en hierdie opdrag is reeds uitgevoer.”

Die skoolhoof, Hein Knoetze, het gesê hy gaan nie kommentaar lewer oor die jongste verwikkeling nie.

‘4 kinders het gesterf om SA hoop te gee.’

Paul Colditz van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê egter die LUR het geen bevoegdheid om die skool tot enige finansiële verpligtinge te verbind nie.

Van die ouers wie se kinders deur die voorval geraak is, het aan Rapport bevestig dat hulle oorweeg om siviele stappe teen die skool en departement te doen. Nog ’n ouer, wat verkies om anoniem te bly, sê die ouers is bekommerd omdat niemand verantwoordelikheid vir die ongeluk wil aanvaar nie. “Ons is baie bang dat daar niks van die ondersoek gaan kom nie en dat dit net onder die mat ingevee gaan word,” sê hy.

Intussen stroom hulp van oor die land heen in vir die hulpfonds wat deur die plaaslike sakekamer vir die slagoffers en hul ouers gestig is. Klippies Kritzinger, uitvoerende hoof van die Goue Driehoek Kamer van Koophandel (GTCoC), sê die reaksie wys dat Suid-Afrika steeds Suid-Afrika is. “Wanneer daar ’n krisis is, staan ons saam.”

Tente is reeds op die Hoërskool Driehoek se sportveld opgeslaan vir wanneer klasse môre hervat. Foto’s: Elizabeth Sejake

Vier kinders is dood en talle beseer nadat ’n betonblok van ’n loopbrug verlede Vrydag by die skool meegegee het. Roydon Olckers (17), Jandré Steyn (13) en Marli Currie (14) is op die toneel dood. Marnus Nagel (16) het Sondag in die vroeë oggendure gesterf. Die kinders is almal die afgelope week begrawe.

Kritzinger het gister gesê die hulpfonds is reeds stewig op pad na R3 miljoen.

“Elke oggend as ek die syfers kry, kan ek nie anders as om te sê dankie Here, dankie Here nie.”

Die sakekamer is die administrateur van die fonds, wat deur ’n onafhanklike paneel bestuur word. Die paneel bestaan uit verteenwoordigers van die beheerliggaam, die skool en rekeningafdeling van die hospitaal. Dié rekening is die enigste goedge-keurde rekening vir donasies aan die skool en is deur die skoolbeheerliggaam goedgekeur. ’n Gedragskode is Woensdag vir die hantering van die geld opgestel.

Kritzinger sê die sakekamer se primêre mandaat is om met mediese en verwante koste te help. “Baie kinders het geen mediese fonds nie.”

Baie donasies word ook spesifiek gemaak aan Debbie Coetzee, die ma wat in ’n motorongeluk was op pad skool toe nadat sy die nuus van die brug se ineenstorting gekry het.

Hulp stroom ook in vir Shamoné Steynvaart, wat in haar onderlyf van die naeltjie af verlam is.

Kritzinger sê die plaaslike staalmaatskappy ArcelorMittal sal die skoolbrug volgens spesifikasies oorbou.

“Wat by die skool gebeur het kan niemand verander nie, maar mense kan wel saamstaan in dié tyd. Vier kinders het gesterf om Suid-Afrika hoop te gee. My sienswyse van mense het (ná die tragedie) radikaal verander.”

  • Môre keer Driehoek se leerlinge terug skool toe. Tente is reeds op die skool se sportveld opgeslaan waarin die klasse aangebied sal word. Donasies aan die hulpfonds wat deur die sakekamer bestuur word, kan betaal word aan Golden Triangle Chamber of Commerce; Nedbank; takkode 198 765; rekeningnommer 1021 386 774; verwysing: Driehoek.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.