Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Brugtragedie: Ma hardloop Roydon se laaste wedloop

’n Laaste wedloop vir “haar Roydon”.

Sharlene Olckers (heel links) neem Dinsdag namens haar seun, Roydon, deel aan ’n wedloop in die Germiston-stadion. Foto: Facebook

Dit is wat Roydon Olckers (17), ’n matriekleerling wat dood is in die brugramp by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, se ma, Sharlene, Dinsdagmiddag aangespoor het om aan ’n atletiekbyeenkoms namens haar seun deel te neem.

“My Roydon was so ’n dierbare kind en het so hard geoefen en alles vir hierdie jaar gegee,” sê Sharlene.

Roydon is een van die vier kinders wat dood is toe ’n loopbrug, wat twee geboue by die skool verbind, op 1 Februarie ineengestort het – 22 leerlinge het ernstige beserings opgedoen.

Roydon het altyd aan die 1 500 m en die 3 000 m deelgeneem.

Sharlene het Dinsdagmiddag in die Germiston-stadion met ’n interhoër-atletiekbyeenkoms saam met haar seun se atletiekvriende ’n 400 m-wedloop gehardloop.

“Dit is iets wat swaar op my hart gelê het en toe ek klaar gehardloop het, het ek ’n verligting gevoel.”

Al die ondersteuners op die paviljoen en leerlinge aan ander skole het opgestaan en hande geklap terwyl Sharlene, in Roydon se atletiekklere, om die baan gehardloop het.

Voor die atletiekbyeenkoms begin het, is ’n brief voorgelees wat Sharlene geskryf het.

Roydon Olckers (17) is dood in die brugramp by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Foto: Facebook
Dit is iets wat swaar op my hart gelê het en toe ek klaar gehardloop het, het ek ’n verligting gevoel.

“My liefste Roydon. Vandag hardloop ek jou laaste wedloop en sommer ook vir Marli, Jandré en Magnus (die ander drie kinders wat dood is) en al die kinders wat seergekry het.”

Marli Currie (14) en Jandré Steyn (13) is Vrydag drie weke gelede dood. Magnus Nagel (16) is twee dae ná die tragedie aan veelvuldige beserings in ’n hospitaal in Alberton dood.

In die brief vra Sharlene mense om nader aan God te leef en elke dag Sy liefde met mekaar te deel. “Moenie net een dag uitsonder om te sê ek is lief vir jou of om ’n drukkie te gee nie, doen dit elke dag.”

Sharlene sê die gemeenskap van Vanderbijlpark is baie diep geraak deur die tragedie.

'n Brief van die Hoërskool Driehoek aan almal wat hulle ondersteun. Foto: Verskaf

“Ek het ook gehardloop vir al die ouers wat steeds op hul knieë in hospitale is en elke dag bid dat hulle kinders uiteindelik oukei sal wees.”

Sharlene sê Roydon se jonger broer, Vincent (13), ’n gr. 8-leerling, is terug by die skool en leerlinge ontvang deurlopend berading ná die tragedie.

Klik hier om na die video te kyk

Intussen het dokters begin om die verdowing van Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, te verminder, waar sy steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton is.

Sy het veral ernstige skade aan haar maag opgedoen en dokters sal plastiese chirurgie moet doen om die wond toe te maak.

Vanessa Slabbert (18), ’n gr. 12-leerling, se ma, Lizelle, sê dit gaan elke dag beter met haar dogter.

“Die trageabuis is verwyder en sy is uit isolasie. Dit voel of ek kan sing en dans van dankbaarheid oor hoe goed dit met ons kind gaan.”

Clari Botes (18), ’n gr. 12-leerling, word nog in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel. Volgens haar ma, Ankia, vorder sy goed met haar rehabilitasie.

Meer oor:  Roydon Olckers  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.