Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Brugtragedie wys instandhouding is nodig, sê Cosatu

Die brugtragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark is ’n wekroep vir Suid-Afrika dat die land se infrastruktuur beter in stand gehou moet word, sê Cosatu.

Tito MboweniFoto: Adrian de Kock

Dié vakbondfederasie verwag daarom dat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdagmiddag in sy begrotingsrede ’n duidelike finansieringsmodel uiteen sal sit wat sulke tragedies met regeringsinfrastruktuur in die toekoms sal verhoed.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het dít Maandag gesê toe hy dié ANC-alliansievennoot se verwagtinge vir Suid-Afrika se 2019-begroting bekend gemaak het.

Pamla glo die land se skole, paaie, brûe, polisiekantore, hospitale, tronke, militêre basisse en damme is vir te lank verwaarloos en dat Mboweni planne sal moet aankondig om dit beter in stand te kan hou.

Mboweni sal volgens Cosatu ook moet bewys dat hy ’n plan het om die land se “gebroke” ekonomie reg te ruk en sal moet sê hoe hy die verkwisting van geld en korrupsie gaan stopsit.

“Ons soek ook duidelike regrukplanne vir staatsentiteite, wat nie die afdanking van derduisende personeel by die SAUK, SAL, SA Express, Denel, Prasa en Transnet sal insluit nie.”

Volgens Pamla hoop Cosatu verder dat arm werkers- en middelklasfamilies nie aan nog hoër belasting blootgestel sal word nie.

Intussen het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van die vakbondfederasie Saftu, gesê Mboweni se hoofprioriteit sal ’n reddingsboei vir die beleërde Eskom moet wees omdat Suid-Afrika se hele ekonomie kan ineenstort as dit nie gebeur nie.

“Derduisende werke sal in gevaar wees en lewenstandaarde sal afneem.”

Hy sê egter dat dit waarskynlik weer eens die publiek sal wees wat vir ’n reddingsboei sal moet betaal met meer belastingverhogings en selfs groter besnoeiings in alle staatsdepartemente.

Altesame 72% van volwasse Suid-Afrikaners beskou werkloosheid tans as Suid-Afrika se grootste probleem.

Saftu glo die Eskom-ramp is vererger deur ’n dekade van korrupsie, onbevoegdheid, wanbestuur en sabotasie deur direksielede en verskaffers soos die Gupta-verwante maatskappye en die ANC se beleggingsarm, Chancellor House.

Volgens Vavi moet alle betrokkenes gestraf en die gesteelde miljarde terugbetaal word.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder oor finansies, sê Mboweni sal ’n begroting met moeilike keuses moet voorlê wat ’n bevorderlike omgewing vir beleggers skep wat beleggings sal lok én vertroue sal inspireer. Dit moet volgens hom ook die versekering gee dat daar nie nog werksverliese sal wees nie en dat werksgeleenthede eerder geskep sal word.

Die IVP hoop verder dat Mboweni se begroting onmiddellike, sowel as kort- en mediumtermynoplossings vir van die grootste probleemgebiede soos die onderwys, gesondheid, ekonomiese ontwikkeling, staatsentiteite en die belastingstelsel sal bied.

Intussen toon ’n peiling van die marknavorsingsmaatskappy Citizen Surveys, wat Maandag kort voor Mboweni se begrotingsrede bekend gestel is, dat 81% van Suid-Afrikaners glo dat die vlakke van korrupsie die hoogte ingeskiet het.

Altesame 72% van volwasse Suid-Afrikaners beskou werkloosheid tans as Suid-Afrika se grootste probleem.

Net 17% van Suid-Afrikaners het aangedui dat daar ’n verbetering in hul persoonlike lewensomstandighede was, terwyl 47% glo dat die ekonomie oor die volgende 12 maande sal verbeter.

Volgens Citizen Surveys wil Suid-Afrikaanse en internasionale groepe hê dat Mboweni duidelikheid moet gee oor maatreëls en begrotingstoewysings vir die regering se planne teen korrupsie, die herstel van staatsentiteite en die regruk van die ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.