Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Bruin taalaktiviste dreig US oor Afrikaans

Bruin taalaktiviste dreig met ’n protesoptog en vergaderings in Wes-Kaapse dorpe om die verdere “verengelsing” van die Universiteit Stellenbosch (US) te probeer keer.

Dr. Willa Boezak

Dít volg nadat Maties se senaat Vrydag sonder ’n stemming en ondanks ’n griefskrif besluit het om van die universiteit se 2016-taalbeleid af te wyk en dosente toe te laat om modules in die eerste semester van vanjaar slegs in Engels aan te bied.

Die universiteit het boonop gister ’n nuwe konseptaalbeleid vir kommentaar gepubliseer waarvolgens Afrikaans nie meer as ’n “inheemse” taal beskou word nie. Dié term word voortaan slegs gebruik vir “tale waarvan die erfenis in Afrika wortel en wat tot die Suid-Bantoetaalfamilie behoort (met “Bantoe” in die suiwer taalkundige betekenis)”.

Vrydag se senaatsbesluit volg op ’n voorstel deur dosente wat nie kans gesien het vir die “tydrowende” vertaling van lesmateriaal in Afrikaans ná ’n jaar waarin klastyd weens Covid-19 verlore gegaan het nie. Fakulteite het daarom gevra vir ’n afwyking van die 2016-taalbeleid, wat bepaal “Afrikaans en Engels is die US se leer- en onderrigtale”.

Art. 7.1.11.3 van dié beleid bepaal die senaat of selfs die senaat se uitvoerende komitee kan ’n afwyking magtig.

Martin Viljoen, US-woordvoerder, het Saterdag aan Rapport gesê volgens die goedgekeurde aanbeveling hoef dosente nuwe leermateriaal net in Engels beskikbaar te stel.

“Dit was ’n aanbeveling wat aanvaar is, daar was nie ’n stemming nie,” sê Viljoen.

Danie van Wyk

Dosente is volgens hom sterk “aangeraai” om die US Taalsentrum te gebruik om hul Engelse potgooie in Afrikaans te vertaal waar dit prakties uitvoerbaar is.

“Voorts lui die goedgekeurde aanbeveling dat dosente steeds behoort voort te gaan om in ander vorme van leerfasilitering, soos aanlyn besprekingsforums en e-posse, studente deur middel van nie net Engels nie maar ook Afrikaans te ondersteun, soos deur die betrokke modulespesifikasies vereis.

“Wat nie deur hierdie aanbeveling geraak word nie, is assessering. Dit sal steeds in Engels sowel as Afrikaans geskied vir alle voorgraadse modules.”

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, ’n belangegroep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, en dr. Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad (ATR) het die stemming vergeefs met ’n ope brief aan die senaat Donderdag probeer afweer.

Onder die brief se 64 ondertekenaars is die radio-omroeper Jerome Topley, die oudpolitikus Basil Kivedo, die teoloog dr. Willa Boezak, emeritusprofessor Wannie Carstens van die Noordwes-Universiteit, die opvoedkundige dr. Hendrik Theys, Tian Alberts van die studenteliggaam StudentePlein, dr. Christo van der Rheede van AgriSA, die dramaturg Mercy Kannemeyer en die student William Sezoe.

“Die US het met die voorstel vir ’n ‘tydelike’ afwyking van die taalbeleid ’n belangrike keerpunt bereik,” lui die brief. “Gegewe die snelle verengelsing van onderrig die afgelope vyf jaar, twyfel ons dat so ’n besluit tydelik sal bly. Ons vermoed die argument dat daar nie genoeg tyd vir vertaling in Afrikaans is nie, sal gebruik word om ’n praktyk van slegs Engels ook gedurende die daaropvolgende semesters deur te druk. Dit sal vinnig die nuwe praktyk word.

Dr. Mvula Yoyo

“Stop hierdie glybaan na ’n Engels­­me­dium-universiteit met Afrikaans en Xhosa as hulptaaltjies. Die universiteit se reaksie op hierdie pleidooi vanuit die gemeenskap en burgerlike samelewing sal die atmosfeer bepaal waarin die taalbeleid hersien word.”

Van Wyk sê die DAK Netwerk beoog ’n “ernstige protes, ’n fisieke protes”.

Steenkamp sê hulle wag steeds vir bevestiging van die senaat dat hul brief hoegenaamd hanteer is.

Volgens Boezak, ’n stigterslid van Gelyke Kanse, sal Vrydag se aanbeveling straks permanent word en die arm plattelandse Afrikaanse student benadeel. “Die universiteit sê op sy webblad dat hulle kritiese denke by hul studente wil bevorder, maar vergeet dat mens dit die beste in jou moedertaal kan doen.”

Hy merk ook die eng definisie van “inheemse tale” in die konseptaalbeleid.

“In die nuwe konsepbeleid praat hulle van ‘Bantoetale’ as inheemse taal, maar vergeet dalk te gou dat Khoi Ghowab (betekenis: taal) en Boesman (!Nu) die eerste inheemse tale was. Dít is juis dan tekenend van die universiteit se politieke gedienstigheid.”

Dr. Mvula Yoyo, voormalige Matie-dosent in Afrikaans en lid van die universiteitsraad, sê Vrydag se besluit dryf die universiteit na eentaligheid.

“As voormalige lid van die raad van die US het ek saamgewerk met diegene wat probeer het om te verseker dat nie-Afrikaanssprekendes welkom voel op die kampus – in die klaskamer sowel as op sosiale vlak.

“Wat het geword van inklusiwiteit waartoe ons onsself verbind het? Is eentaligheid nou ons voorland? Of is daar perke wanneer ons praat van diversiteit?

“Die sogenaamde majority wat hopelik sal baat vind by hierdie projek van eentaligheid, is self glad nie eens Engelssprekend nie.”

Die universiteit het gister sy konsepbeleid oor taal op sy webwerf geplaas. Die publiek kan tot 12 April oor die beleid kommentaar lewer en slegs op ’n digitale platform op die universiteit se webblad.

Volgens die StudentePlein is Vrydag se besluit geneem ten spyte van betoë van stemgeregtigde lede van die senaat wat nie oor die kwessie kon stem nie, van studente en gemeenskapsleiers- en organisasies, dat die besluit geweldige negatiewe implikasies vir Afrikaanse studente se akademiese loopbaan sal inhou.

“Hierdie ‘tydelike’ afskaffing van Afrikaans is allermins tydelik, en die uitvoerende komitee van die senaat, sowel as fakulteite, weet baie goed dat studente wat eers met studie in Engels afskop, nooit sal kan oorskakel na Afrikaans nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.