Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Chaos dreig oor toelating

Chaos oor toelating dreig opnuut by sommige Afrikaanse skole in Gauteng omdat die provinsiale onderwysdepartement sy eie voorskrifte vir die inskrywing van gr. 1- en gr. 8-leerlinge in 2020 verontagsaam.

Panyaza Lesufi

Die skole het Vrydag lyste ontvang van die leerlinge wat ingeskryf mag word, wat veral in die noorde van Pretoria groot ontevredenheid veroorsaak het.

Die beheerliggame van twee skole in dié gebied het gister uitgevaar teen die Gautengse onderwysdepartement, wat glo ook nie gehou het by ooreenkomste nadat sommige skole vroeër vanjaar die departement se toelatingsbeleid met ’n interdik wou keer nie.

Hulle dreig nou met regstappe.

Die nuwe aanlyn aansoekstelsel, waarop ouers tussen 13 Mei en 22 Julie kon aansoek doen om toelating vir hul kinders, het vroeër talle organisasies en vakbonde bekommerd gehad omdat dit geen ruimte gelaat het waarin aansoekers se moedertaal aangedui kon word nie.

Nou sê die skole die toelatingslyste wys die leerlinge se adresse is in sommige gevalle verkeerd en die volgorde waarin leerlinge aansoek gedoen het, is nie in ag geneem nie.

Lyste glo ‘deurspek met foute’.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die skole en die SAOU is deurentyd verseker alles is onder beheer. “Dit lyk na ’n kombinasie van die aanlyn aansoekstelsel wat nie behoorlik gewerk het nie, administratiewe onbeholpenheid en hier en daar ook ’n bietjie moedswilligheid.”

Volgens Marius Botha, ’n konsultant wat sowat 120 skole landwyd van onder meer regs- en bestuursadvies bedien, sê ’n ooreenkoms is vroeër vanjaar aangegaan om die interdik te keer, onder meer op die voorwaarde dat taal wel ’n faktor sal wees by toelating.

Nou lyk dit of die departement slegs die afstand tussen die aansoeker se woonadres en die skool in ag geneem het. “Logiese volgorde val uit en die departement ignoreer totaal die ooreenkoms.”

Botha sê die departement het GPS-koördinate gebruik om die afstand tussen skool en huis te bepaal. In sommige gevalle is die berekening foutief.

Johan Kruger, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria, het gister gesê hulle het die lyste gesien en dit is baie duidelik die departement het nie sy eie regulasies toegepas nie.

“Hulle het gaan kyk as ’n kind aansoek gedoen het hoe ver is die kind van die betrokke skool en het die plasings daarvolgens gedoen.

“Dit is ongelukkig deurspek met foute. Kinders wat minder as ’n kilometer van die skool woon, is nie geplaas nie. In een geval is ’n kind wat 26 km van die skool woon, wel geplaas.”

Kruger sê dis wel nog nie die finale lyste nie en die departement kan dit nog aanpas. “Ek het egter geen vertroue dat dit sal gebeur nie.”

Martie Engelbrecht, voorsitter van die beheerraad van die Laerskool Danie Malan, ook in Pretoria-Noord, sê die departement se berekening van die afstande van die skool is foutief.

Kinders wat byvoorbeeld ingevolge die lyste nader aan die skool sou bly, is nie op die lys nie. Kinders wat 10 km van die skool af bly, is wel ingesluit.

“Ons chronologiese lys is geensins in ag geneem nie. Ook nie ons taalbeleid, gr. R-leerlinge wat reeds in die skool is nie en ook geen boeties of sussies nie.

“Op die departement se lys vir ons skool is daar ook 25 leerlinge wat glad nie eers op ons oorspronklike chronologiese lys was nie.”

Sy sê die skool gaan môre advokate raadpleeg met die oog op regstappe.

“Laerskool Danie Malan is een van die laaste Afrikaanse skole in Pretoria-Noord. Daar is baie Engelse skole rondom ons. Ons voel daar moet ’n Afrikaanse skool wees vir die (Afrikaanse) kinders.”

Steve Mabona, woordvoerder vir Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sê geen ongelukkigheid is by die departement gerapporteer nie. “Hulle verstaan dat plekke toegeken is ingevolge die nuwe gewysigde toelatingsregulasies.”

Hoewel die volgorde van aansoeke nie in ag geneem is nie, bepaal die regulasies dat leerlinge “naaste aan die skool” toegelaat sal word. Ouers sal vanaf Woensdag ingelig word oor hul kinders se toelating, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.