Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Claassen kry 1ste prestige-mediaprys van US
Prof. Hester Klopper, viserektor van strategie en internasionalisering, oorhandig die toekenning aan prof. George Claassen.Foto: Anton Jordaan

Prof. George Claassen (70), voormalige hoof van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) en voorheen adjunkredakteur van Die Burger, het Donderdagaand die eerste ontvanger van die US se Media Lewenslange Prestasie-prys geword.

“Claassen het die denke van ’n hele generasie joernaliste wat in Suid-Afrika en oorsee werksaam is, gevorm deur sy kennis van wetenskapkommunikasie oor te dra en joernaliste die vaardigheid aan te leer om vals nuus en pseudowetenskap te identifiseer,” sê Martin Viljoen, bestuurder van media aan die US, in ’n commendatio.

Claassen doseer aan die US se departement joernalistiek, werk as ombudsman vir Media24 se gemeenskapskoerante en is die openbare redakteur van News24.

Viljoen sê Claassen kan met reg die vader van wetenskapkommunikasie in Afrika genoem word. “Hy het ’n diepgaande invloed op sowel die joernalistiek as beroep en as studieveld gehad.”

Viljoen het bygevoeg dat Claassen die eerste akademikus in joernalistiek in Suid-Afrika was wat ’n kursus in wetenskap-en-tegnologiejoernalistiek ontwikkel het, en sy eweknieë aan Amerikaanse universiteite beskou sy werk as van die beste op hierdie gebied.

Prof. George ClaassenFoto: Anton Jordaan

Claassen het Donderdagaand die prys op ’n geleentheid in die Wallenberg-navorsingsentrum van die Stellenbosch Institute for Advanced Study (STIAS) in die Eikestad ontvang.

Op die geleentheid is pryse oorhandig aan US-personeellede wat uitstyg ten opsigte van onderrig en navorsing, en diegene wat hul navorsing en kundigheid met uitnemendheid aan en deur die media kommunikeer.

“Claassen het ’n blik op die toekoms van media gehad en joernaliste dienooreenkomstig voorberei, onder meer vir die ontploffing van sosiale media, vals nuus en propaganda wat op ons skerms verskyn,” het Viljoen gesê.

“In baie opsigte het Claassen die aanslag gelei om die invloed hiervan op die media teë te werk. Dit was ook nie ’n verrassing dat hy die organiseerder van die eerste internasionale konferensie oor kwaksalwery en pseudowetenskap was nie.”

Viljoen sê Claassen het een van die eerste omvattende kursusse in kulturele en wetenskaplike geletterdheid in die US se joernalistiekprogramme gevestig, en dit met wetenskapsjoernalistiek gekombineer.

“En dit terwyl hy baie aandag geskenk het aan die bevordering van omgewingsjoernalistiek en verslaggewing oor klimaatsverandering.

“Claassen is ook sinoniem met die media-ombudstelsel op die vasteland. Hy het die stelsel in Media24 op die been gebring en was ’n bestuurslid van die International Organisation of News Ombudsmen and Readers’ Editors.

“Hy is ’n rubriekskrywer oor die onderwerp, en organiseer en praat op verskillende internasionale konferensies,” het Viljoen gesê.

Afgesien van sy werk as ombudsman en dosent is hy ook ’n wetenskapskorrespondent vir die SAUK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.