Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Comrades-legende verwerf doktorsgraad
Charl Mattheus (links) en Nick Bester in ’n titaniese stryd in die Comrades van 1997. Agter hulle (langs die motorfietse) is die oud-Springbok Zithulele Sinqe. Foto: Jan Hamman

In 1997 het Charl Mattheus teen die rugbreker-opdraande by Tollgate in Durban die laaste bietjie energie in sy liggaam gebruik om Nick Bester finaal af te skud en die Comrades tussen Pietermaritzburg en Durban te wen.

Nou, 20 jaar later, het hy weer rede om groot fees te vier. Hy het pas sy doktorsgraad in bestuursadministrasie (DBA) aan die Walden-Universiteit in Minneapolis, Amerika, verwerf.

Mattheus, wat tans aan die Universiteit van Hawaii verbonde is, het in sy studie op hospitaal- en kliniekbestuur gefokus.

Charl Mattheus soos hy deesdae lyk.Foto: Facebook

Die 52-jarige boorling van Despatch in die Oos-Kaap word in Augustus ’n medeprofessor aan die California State University in Sacramento.

Mattheus het in 1997 koning gekraai nadat hy, Bester en die oud-Springbok Zithulele Sinqe mekaar van die bopunt van Inchanga (net voor die halfpadkerf) kwaai gedruk het.

Bester en Mattheus het Sinque aan die buitewyke van Durban afgeskud voordat Mattheus by Tollgate, sowat 5 km van die eindpunt in die Kingsmead-krieketstadion, diep gedelf en van Bester weggebreek het.

Bester kon nie die gaping uitwis nie en moes toekyk hoe Mattheus ná 5 uur, 28 minute en 37 sekondes eerste oor die eindstreep hardloop.

Bester het tweede gekom in 5:30:41.

Pres. Nelson Mandela het die wennerstrofee aan Mattheus oorhandig.

Mattheus het Dinsdag uit Hawaii gesê noudat sy studie voltooi is, hoop hy om weer genoeg tyd te hê om meer te oefen.

“Dalk hardloop ek weer in die toekoms die Comrades.”

Mattheus het in 1992 in die op-Comrades tussen Pietermaritzburg en Durban ook eerste geëindig, maar sy titel is hom ontneem toe hy positief getoets is vir ’n verbode stimulant in sinusmedisyne.

Dié stimulant is kort daarna van die lys van verbode middels verwyder.

Mattheus, wie se vrou, Deborah, in 2001 ’n goue medalje in die afdeling vir vroue verower het, het in sy loopbaan amptelik sewe keer onder die voorste tien gouemedaljewenners geëindig.

Meer oor:  Doktorsgraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.