Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Covid-19: 176 skole in Gauteng loop deur

176 skole is al in Gauteng – die land se nuwe Covid-19-episentrum – weens besmetting tydelik gesluit en eers ontsmet. 188 personeellede en 58 leerlinge in die provinsie het reeds die virus opgedoen.

Landwyd is 1 141 personeel­lede en 523 leerlinge al positief getoets en is 775 skole al tydelik gesluit, het die departement van basiese onderwys in ’n verklaring gesê.Skoolhoofde is ook aangemoedig om seker te maak dat gesondheidsprotokols vir die bestuur van die virus streng nagekom word.“Skole is ’n integrale deel van die samelewing en weerspieel die gemeenskap,” lui die verklaring.

In Mpumalanga moes tien skole tydelik gesluit word, in Limpopo drie en in Noordwes 14.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) meen egter nie dit vereis tans buitengewone optrede nie.

Chris Klopper, die uitvoerende hoof, sê die werklikheid is dat almal sal moet leer om met die virus saam te leef.

“Dit gaan minstens die volgende drie tot vier jaar nog met ons wees. Sonder om roekeloos te wees, kan infeksie tot die minimum bepaal word as elke persoon, jonk en oud, die redelike stappe neem. Maar dit sal nooit geëlimineer kan word nie.

“Die 1 000 opvoeders is slegs 0,025% en regverdig nie buitengewone optrede nie. Ons is nie onsimpatiek nie, maar dit vereis nie krisis-optrede nie. Weereens is dit belangrik dat die redelike maatreëls oorweeg moet word om hulle uiteindelik te isoleer en die nodige ondersteuning te verleen,” sê hy.

“Die 700 skole maak 2,8% van die skole uit. Die huidige benadering is om skole vir ’n dag of twee te sluit. Dit is dus nie nodig om buitengewoon lang onderrigtyd te verloor nie.

“Ons sal nie ontwrigtings, of eerder onderbrekings kan verhoed nie. Ons moet deurlopend verantwoordelik optrede en die realiteit in ag neem. Skole sal moet leer om onderbrekings as ’n integrale deel van die nuwe normaal te beskou.

Talle skole het al ’n model ontwikkel wat afwissel tussen formele- en aanlyn onderrig,” sê Klopper.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van Naptosa, sê die vakbond is bekommerd oor die syfers, maar daar moet ook in ag geneem word dat dit die totale aantal gevalle is sedert skole op 8 Junie heropen het en nie die huidige situasie reflekteer nie.

Manuel sê hulle hoop Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bestudeer die syfers fyn.

“Ons het nog nooit gevra vir die summiere sluiting van skole nie, maar ons het altyd aangedui dat skole net kan open as dit veilig is en alles in plek is.

gauteng, covid, 28 junie

“In hierdie stadium hoop ons die minister en haar adviseurs sal die syfers bestudeer en, as ons op pad is na die hoogtepunt van die uitbreking in Suid-Afrika soos wat wetenskaplikes voorspel, dat daar rasionaliteit sal wees.

“Is dit dalk verstandig om die vakansie vroeër te skuif en dit nou te hou en ná die hoogtepunt weer te heropen? Ons glo ook daar moet buigsaamheid wees as ons hoogtepunte bereik.”

Manuel sê skole kan nie ten alle koste oop wees nie, maar die besluit moet in die beste belang van ouers en leerlinge wees.“Selfs net ’n verklaring in die verband sal baie doen om mense te kalmeer, want onderwysers is angstig. Die angstigheid is ook onder ouers en kinders, veral hoërskoolleerlinge. Ons soek duidelike leierskap van die departement wat moet aandui hoe ons vorentoe gaan beweeg,” sê hy.

Leerlinge in gr. 1 tot 3, gr. 6, gr. 10 en gr. 11 keer op 6 Julie terug en leerlinge in gr. 4, gr. 5, gr. 8 en gr. 9 sal op 3 Augustus terugkeer.

Skole wat aan die Covid-19-regulasies voldoen, kan van hierdie datums afwyk.

Die hooggeregshof in Pretoria het op 18 Junie uitspraak voorbehou in Mmusi Maimane en sy beweging, One South Africa, se aansoek dat die besluit om skole te heropen tersyde gestel moet word.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van onderwys, sê die besluit om skole te heropen word nie in die stadium heroorweeg nie.

Die voorkoms van bevestigde Covid-19-gevalle in skoolgemeenskappe volgens provinsie is as volg:

• Mpumalanga: Agt onderwysers, sewe leerlinge; 10 skole

• Limpopo: Tien onderwysers, drie leerlinge; drie skole

• Noordwes: 22 onderwysers, ses leerlinge; 14 skoleLandwyd is 7 210 nuwe koronavirus-gevalle Saterdag bevestig – die meeste tot nog toe op ’n enkele dag.

Hoewel Gauteng nog nie die Wes-Kaap verbygesteek het met die meeste totale gevalle nie, versprei die virus nou die vinnigste hier.

Teen 18 Junie het die provinsie 15 898 gevalle gehad en teen 26 Junie 31 344.

Dit beteken ’n verdubbeling binne agt dae, ’n koers wat baie vinniger is as in enige ander provinsie.

Gauteng se totale getal gevalle het gister op 36 89534 285 gestaan, met altesame 8 580 mense wat herstel het en 174 sterftes.

Die skielike styging in die opname van kritiek siek pasiënte het die vraag na suurstof en ventilators drasties laat toeneem, sê die provinsiale departement van gesondheid.

'Net een'

Dit verg soms net een mens wat maatreëls verontagsaam om infeksies aan te wakker, sê prof. Salim Abdool-Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19.

“Infeksies word dikwels aangevuur deur gevalle van sogenaamde superverspreiding, waar ’n enkele mens in die regte omgewing tientalle ander besmet.” 


Van Gauteng se vyf distrikte word Johannesburg die swaarste getref. Teen Saterdag is daar al 16 712 gevalle aangemeld en 84 sterftes.

Daarna volg Ekurhuleni (7 196 gevalle en 33 sterftes), Tshwane (5 381 en 21), die Wes-Rand (2 247 en 12) en Sedibeng (1 207 en 16).

1 542 gevalle moes nog per distrik toegedeel word. Volgens die departement word soveel moontlik ventilators en suurstoftoerusting deurlopend aangeskaf om in die groeiende vraag te voorsien.

Die departement sê die stygings was te wagte, maar dit word vererger deur die “groter beweging en mobiliteit” van die provinsie se inwoners.

Die nasionale departement van gesondheid het gisteraand in ’n verklaring gesê die virus versprei so vinnig in Gauteng omdat dit die provinsie met die meeste inwoners is, maar ook omdat daar ’n invloei van mense was wat weer kom werk het toe na vlak 3 toe oorgeskakel is.

Die gevolg was “bondel-besmettings” nadat draers van die virus “van hul gemeenskappe af teruggekeer het na myne, fabrieke, taxi’s en busse”.

Die gedeeltes van elke distrik wat erg geraak word, met die gevalle elke keer in hakkies, is Doornkop, Soweto, Dobsonville en Protea Glen (3 082) asook die middestad (3 886).

Rondom Pretoria het die virus sover die vinnigste versprei in Atteridgeville, Laudium, middestad, Hercules, Danville, Saulsville, Lotus asook die westelike dele (1 829).

In Ekurhuleni is daar 3 488 gevalle in die noorde van die distrik aangemeld, en 1 736 in die suide. Krugersdorp in die Wes-Rand het tot dusver 1 072 gevalle en Emfuleni in Sedibeng 860.

David Makhura, Gautengse premier, het Donderdag in sy provinsiale terugvoering oor die pandemie gesê daar is 8 730 beddens beskikbaar in die privaat- en staatshospitale van Gauteng.

Verdere voorsiening word gemaak vir nog 1 575 beddens in tydelike fasiliteite by die dr. George Mukhari-, Chris Hani Baragwanath- en die Ashanti Gold-hospitaal.

Die getal mense wat met die koronavirus besmet word in die land, sal aanhou om eksponensieel toe te neem as mense hulle nie aan die gesondheidsmaatreëls steur nie, waarsku mediese kenners.

Saterdag is 7 210 bevestigde gevalle binne 24 uur aangemeld – die meeste tot nog toe in een dag. Hoewel die getal positiewe gevalle in die Wes-Kaap die afgelope twee weke op die oog af taamlik konstant bly, neem gevalle skerp toe in die Oos-Kaap en veral in Gauteng.

Prof. Susan Goldstein, ’n openbare-gesondheidspesialis aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die skerp styging kan beslis toegeskryf word aan die ligter vlak 3-inperkings.

“Baie mense dink omdat die staat inperkingsmaatreëls verslap het, is die gevaar verby. Die teendeel is waar,” sê sy.Daar sal eers ’n afname in die infeksiekoers wees wanneer die meeste mense die virus onder lede gehad en immuniteit opgebou het of wanneer almal aan die maatreëls gehoor gee.

“Ons kon dit byvoorbeeld regkry om MIV/vigs in bedwang te bring omdat mense veilige seks begin beoefen het en bewus geraak het van die gevare.“In die geval van Covid-19 moet mense ’n gesonde afstand handhaaf en hul maskers dra. “Elke ander mens wat jy teëkom moet as ’n positiewe geval hanteer word,” sê Goldstein.

Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Skole  |  Gauteng  |  Besmetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.