Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Cyril, red liewer ons kinders . . .’

Alles wat met elektrisiteit werk, van die interaktiewe witborde tot die spesiale sproeiertjies wat ingerig is om kinders se hande vinnig te reinig, staan ongebruik by die Laerskool Breyten in Mpumalanga omdat hulle deesdae selde krag het.

Louis Bates

Volgens die skoolhoof, Louis Bates, het hulle tydens die tyd van inperking gewoeker en byna R300 000 se borge gekry om ’n stelsel te kan installeer wat 92 sproeiertjies het wat dieselfde getal kinders se hande en tasse op een slag kan reinig. Hulle het ook ’n sproeitent en het ’n gang omskep in ’n sproeitonnel waardeur kinders kan loop.

“Nou staan dit net daar. Die stelsel sou ons help om kosbare kontaktyd te spaar en die kinders hoef ook nie vir ure in die koue buite te staan nie.”

Die skool het soms vir tot 15 uur per dag nie elektrisiteit nie. Om dinge te vererger, het hulle al vir vier dae ook nie water by die skool nie.

‘Dis ’n skool met 613 leerlinge, 99% swart.’

Bates sê as hulle die munisipaliteit bel om te hoor wat aan die gang is, kry hulle elke keer ander antwoorde.

“Ons hoor óf dis kabeldiefstal óf iemand het nie ’n rekening betaal nie óf daar is te veel onwettige aansluitings.”

Die interaktiewe witborde wat die skool al vyf jaar lank gebruik, staan ook nou net so. “Ons gee nou maar weer op die ‘ou’ manier skool. En vir reiniging is dit spuitbotteltjies en lappies.”

Hul skoolklok en veiligheidskameras werk ook met krag en kan nou nie gebruik word nie. Boere in die omgewing help om watertenks by die skool vol te maak sodat hulle ten minste die toilette kan spoel, al is dit met emmertjies.

Dié kraantjies kan 92 kinders se hande gelyk ontsmet.
’n Spuittonnel wat ook nou nie meer kan werk nie en net staan.

Bates het ’n brief geskryf oor sy griewe, wat hy hoop pres. Cyril Ramaphosa te siene sal kry.

Hy skryf: “Die Laerskool Breyten is ’n skool met 613 leerlinge, 99% swart. Ons het hierdie skool ontwikkel tot een van die bestes in sy soort in Suid-Afrika, want ons is van mening dat net die beste goed genoeg is vir die kinders van Afrika.”

Vir Ramaphosa wil hy sê hulle het die bal “misgeslaan”. “Hulle stoot geld in reddingsboeie vir staatsinstellings, waar hulle dit eerder in die onderwys moet instoot. Kinderlewens is belangriker.”

Bates skryf verder in sy brief: “Dit voel vir my dat mense wat goed doen en die land wil vooruit neem, gestraf word. Behoort ’n mens nie beloon te word nie, al is dit dan net met krag?”

Mandla Zwane, woordvoerder van die Msukaligwa-munisipaliteit waaronder Breyten val, sê aan Rapport hulle is jammer oor die kragonderbrekings. Dit gebeur om ’n algehele onderbreking te voorkom. “Breyten en omgewing ondervind hoë vraag na krag en daarom word die netwerk oorlaai. Dit veroorsaak dat die krag uitskop by Eskom en die munisipale substasies.”

Hy sê die koue weer en onwettige verbindings het die situasie vererger. Dit het die munisipaliteit genoop om sy eie beurtkragprogram in te stel.

Die kragonderbrekings veroorsaak die wateronderbrekings omdat die reservoirs nie volgepomp kan word nie, sê Zwane.

Hy kon nie sê wanneer die situasie gaan verbeter nie.

Bates was in 2013 Rapport se Saakmaker van die Jaar vir die goeie werk wat hy by die Laerskool Breyten doen.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Louis Bates  |  Opebrief  |  Laerskool Breyten
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.