Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
DA gewaarsku oor ‘sjebiens’ by skole

Wes-Kapenaars gaan die DA straf as hy “sjebiens” van skole maak, het die ANC in die provinsiale wetgewer gesê.

Theo Olivier, ’n ANC-lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, het dié waarskuwing gerig toe die Wes-Kaapse Wysigingswetsontwerp op Skoolonderwys Donderdag aanvaar is

Net die DA-lede het daarvoor gestem, terwyl die ANC, EFF en ACDP dit verwerp het.

Dit maak onder meer voorsiening daarvoor dat skole op geleenthede ná skoolure drank mag verkoop as die departement die skool se aansoek goedkeur.

Theo Olivier, ANC-woordvoerder oor onderwys in die Wes-Kaap.Foto: Malherbe Nienaber

“Dit is ’n klap in die gesig van die mense van die Wes-Kaap en die DA moet daarvoor betaal. Ons weet wie gaan geraak word, en dit is die mense waarvoor julle nie omgee nie,” het Olivier gesê.

Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir ’n owerheid wat skole moet evalueer, spesifieke voorsiening vir samewerkende skole en skole wat deur skenkers gefinansier word, en die skep van geriewe vir leerlinge wat aan ernstige wangedrag skuldig bevind is as ’n alternatief vir skorsing.

Olivier het van die staanspoor gesê dit is een van die “mees ondeurdagte wetsontwerpe” wat hy ooit gesien het en dat dit gebeur “wanneer jy ’n LUR het wat nie weet wat om te doen nie”

Volgens Olivier het die publiek tydens openbare verhore oor die provinsie heen die wetsontwerp “met minagting verwerp”.

“Dit is skokkend dat die wetsontwerp toegelaat word en dat openbare deelname net uitgevoer is om ’n regmerkie op ’n lys te kan maak. Die enigste wat dit ondersteun, is oud-model-C-skole omdat dié gebruik reeds daar plaasvind.”

Hy het gesê die wetsontwerp “privatiseer” die magte van beheerliggame by samewerkende skole en skole wat deur skenkings gefinansier word en dra dit oor aan lede van die private sektor wat geld aan skole gee.

Hy het gevra waar is die wetgewing vir leerlinge wat skool toe moet stap en vir transformasie by voormalige model C-skole.

Cameron Dugmore, ANC-LW, sê die wetsontwerp druis in teen die Grondwet en die Skolewet.

Ferlon Christians, ACDP-leier in die Wes-Kaap.Foto: MALHERBE NIENABER

Ferlon Christians, ACDP-leier in die wetgewer, het gesê dit is ’n hartseer dag in die provinsie “waar die meerderheid kiesers verontagsaam, geminag en geïgnoreer is”

“By die een verhoor ná die ander het besorgde groepe hul woede uitgespreek. Net 83 uit 1 400 skole het die verkope van drank gesteun, so wat van al die ander skole?”

Christians sê daar is amper R400 000 betaal om ses openbare verhore oor die wetsontwerp te hou, maar dit is reeds ’n jaar tevore deur die provinsiale kabinet goedgekeur.

“Dit is ook hartseer dat die kwesbares in samewerkende skole en dié wat deur skenkings gefinansier word 50% van hul sê gaan verloor en die DA ouers se stemme uit ons beheerliggame verwyder.”

Bernard Joseph, EFF-leier in die Wes-Kaap.Foto: DEON RAATH

Bernard Joseph, die provinsiale EFF-leier, het ook gevra dat die voorsiening vir drankverkope uit die wetsontwerp gelaat word en sê dit weerspreek die provinsiale regering se pogings om die skadelike uitwerking van alkohol te verminder.

“Alkoholmisbruik is een van die redes waarom ons kinders by plaasskole se ouers nog met die dopstelsel betaal word.”

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: DEON RAATH

Roné McFarlane, medehoof van navorsing by Equal Education, het Vrydag gesê die aanvaarding van die wetsontwerp, ondanks oorweldigende teenkanting, maak ’n “bespotting van openbare deelname”.

Equal Education is veral teleurgesteld dat die staande komitee oor onderwys in die wetgewer nie “meer konkrete wysigings” aan die wetsontwerp gemaak het nie.

“Ons punt is nie dat ons moet vassteek in die bestaande stelsels sonder enige ruimte vir verbeelding nie. Maar veranderings, veral in wetgewing, behoort deurdag te wees, met voldoende bewyse en sonder om kernbeginsels van die Grondwet te ondermyn.”

Volgens McFarlane skiet die wetsontwerp tekort op “al dié punte” en is dit ook betreurenswaardig dat dit nie veiligheid aanraak nie, al is dit ’n uiters belangrike kwessie in Wes-Kaapse skole.

Kyk na Donderdag se volle sitting van die Wes-Kaapse Wetgewer hier

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Wes-Kaap  |  Drank  |  Skole  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.