Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
DA-LP dreig met regsaksie teen US se ‘geheimhouding’

Dr. Leon Schreiber, DA-LP en US-alumnus, sê die DA is gereed om regsaksie te neem teen die “onwettige geheimhouding” deur die Universiteit Stellenbosch (US).

Schreiber sê hy sal nie toelaat dat prof. Wim de Villiers, rektor van die US, en sy bestuur “wegkom met die tipe gedrag” van geheimhouding nie en sal nie huiwer om die US hof toe te sleep nie.

Hy sê dit volg nadat die US-bestuur, onder leiding van De Villiers, weier om die inhoud van onderhoude, korrespondensie, en ander bewyse openbaar te maak wat gebruik is om De Villiers te verskoon van bewerings dat hy onbehoorlike kontak gehad het met oudregter Edwin Cameron in die tydperk toe daar ’n hofaansoek voor die Grondwetlike hof was oor die “vernietiging van Afrikaans as ’n primêre taal van instruksie by die US”.

Schreiber sê hy het op 9 Maart ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die US ingedien om toegang tot die bepaalde inligting te kry waarop die besluit geskoei is om De Villiers te verskoon.

Volgens Schreiber het die registrateur van die US, dr. Ronel Retief, op 7 April die Paia-versoek “botweg geweier”, wat die implikasie gee dat die publiek “nie die bewyse teen De Villiers” mag sien nie.

’n Deel van die mediaverklaring deur dr. Leon Schreiber, DA LP. Foto: Verskaf

Die US het by navraag gesê daar word kennis geneem van Schreiber se mediaverklaring, maar dit bevat onjuisthede.

“Sy bewerings oor die onderwerp en die uitspraak van die Grondwetlike hofsaak tussen US en Gelyke Kanse is verkeerd en misleidend en sy weergawe oor sy versoek vir toegang tot inligting in terme van die Wet op die Bevordering van Inligting is eweneens verkeerd en misleidend,” volgens die US.

Volgens die US het die Grondwetlike Hof op 10 Oktober 2019 eenparig in die guns van US beslis in die saak waarin die US ’n hofaansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014-taalbeleid terug te keer, teengestaan het.

“Hierdie uitspraak van die Grondwetlike Hof het bevestig dat die Universiteit se meertalige en inklusiewe 2016-taalbeleid aan die Grondwet en die Nasionale Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) voldoen. Om te beweer dat die uitspraak ‘effectively killed Afrikaans tuition at the US’, is van alle waarheid ontbloot,” sê die US.

Schreiber het op 24 Oktober 2019 in sy hoedanigheid as ’n US-alumnus versoek dat die universiteit ’n onafhanklike ondersoek loods teen die De Villiers, na aanleiding van “bewerings in die openbare domein dat De Villiers op ’n onreëlmatige, onetiese en moontlik onwettige wyse ingemeng het in die hofsaak tussen die US en Gelyke Kanse oor die taalbeleid”, sê die US.

Hierdie bewerings van Schreiber het gevolg op ’n versoek wat die rektor in Julie 2019 aan oudregter Edwin Cameron gerig het om homself beskikbaar te stel om genomineer te word as kandidaat vir die US-kanselierspos wat begin 2020 vakant sou raak.

Na oorweging van Schreiber se versoek, het die uitvoerende komitee van die US-raad op 31 Oktober 2019 besluit om ’n onafhanklike ondersoek te loods. Die US-raad het oudregter Burton Fourie aangestel hiervoor.

Dit was dus nie, soos Schreiber beweer, ’n interne ondersoek van die universiteit nie, sê die US.

Op 9 Maart 2020 het Schreiber, “in sy hoedanigheid as persoon wat die klag gelê het wat gelei het” tot Fourie se ondersoek, die US versoek vir “alle opnames, volledige transkripsies van alle mondelinge verrigtinge, afskrifte van alle dokumente wat aan Fourie ter insae tot sy beskikking was, of aan hom gerig was”.

Die US het nie Schreiber se versoek toegestaan nie weens redes wat deur artikel 44 (1) (a) van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting geregverdig is. Dit was dus nie soos beweer ’n geval van “bluntly refused the PAIA request” nie, en ook nie 'n “illegal decision” nie.

Dit staan Schreiber (en nie die DA nie) vry om ’n aansoek te bring indien hy van mening is dat US nie 'n korrekte besluit geneem het nie. Indien so ’n aansoek gebring word, sal US dit oorweeg en ’n gepaste besluit neem.

Meer oor:  Leon Schreiber  |  Us
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.