Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Daar was geen ander uitweg,’ sê minister oor skole
Angie Mothshekga, minister van basiese onderwys, Maandagoggend in Rustenburg, Noordwes. Foto: GCIS

Drie verslae wat sy Saterdag ontvang het, dui daarop dat al die provinsies nie op dieselfde gereedheidsvlak is om die heropening van die skole Maandag moontlik te maak nie.

Dit is omdat die kinders, onderwysers en ander personeel se veiligheid die eerste prioriteit is en nie toegelaat kan word dat die Covid-19-pandemie buite beheer versprei nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandagoggend op ’n mediakonferensie in Rustenburg in Noordwes herhaaldelik verskoning gevra dat leerlinge eers volgende Maandag sal kan terugkeer skool toe.

Sy het ook verskoning gevra dat haar gereëlde mediakonferensie nie Sondagaand plaasgevind het nie.

Sy het toegegee die besluit om nie die skole te heropen nie, hou ernstige gevolge vir die onderwyssektor in, maar sy het gesê sy het geen ander keuse gehad nie.

Motshekga het verduidelik sy kon eers Sondagaand ’n aankondiging doen omdat sy eers met al die rolspelers wou praat en nie wou hê dat skoolhoofde deur die media moes verneem dat die skole ná ’n vroeër aankondiging in dié verband nie gaan heropen nie.

Sy wou eers met die vereniging van skoolhoofde praat.

“Ek moes ook met die Menseregtekommissie vergader omdat hy met ’n interdik gedreig het.

“Ek het ook met organisasies gepraat wat leerlinge met spesiale behoeftes verteenwoordig. Ek vra weer verskoning. Maar dit was om redes buite my beheer.”

Daar was ook vrae van ouers wat steeds huiwerig is om hul kinders skool toe te stuur.

“Die voorskrifte sê dat ouers moet by die provinsiale departementshoof aansoek doen wat ingevolge die Skolewet ’n leerling heeltemal, gedeeltelik of voorwaardelik van verpligte bywoning kan vrystel, het sy gesê.

“Ouers is ook verplig om aansoek te doen as hulle hul kinders tuis wil onderrig. Skoolhoofde moet ook daartoe instem.

“Ek is hoopvol dat alle uitstaande kwessies in dié week afgehandel sal word sodat skole komende Maandag kan heropen. Ten minste weet ons nou wat die tekortkominge is.

“Die vertraging met die heropening kan ernstige gevolge vir ons leerlinge, veral dié uit arm huishoudings, hê.

“Randwater (in Gauteng) het ons boonop ingelig dat daar skole is wat nog nie watertenks gekry het nie. Dit sal vandag eers afgelewer kan word.”

Ouers is ook verplig om aansoek te doen as hulle hul kinders tuis wil onderrig. Skoolhoofde moet ook daartoe instem.

Sowat 2 634 skole het nie watertenks of voldoende watertoevoer nie.

Met haar besoeke aan skole verlede week het skoolhoofde aan haar gesê hulle doen hul bes, maar dit sou eenvoudig onmoontlik wees om Maandag die skole te heropen, het Motshekga gesê.

“’n Skoolhoof het my ook ingelig dat sy voor pandemie vyf klaskamers vir matriekleerlinge gehad het, maar nou agt klaskamers benodig as ’n gesonde afstand tussen die leerling gehandhaaf moet word.

“Daarom sal ander onderwysers ook nou moet uithelp. Ons sal onsself nou moet herorganiseer.”

Van die skole het teen daardie tyd ook nog nie die nodige gesigmaskers en ontsmettingsmiddels ontvang nie.

“Baie onderwysers was ook nie teen Vrydag voorbereid vir die heropening nie. Ons het ook besluit dat provinsies eers die opleiding van die mense wat leerlinge en personeel in skole moet sif, afhandel. Dit omdat ons ons kinders moet help om die nuwe omgewing te verstaan.

“In die Vrystaat is klaskamers selfs as deel van die voorkomingsmaatreëls volgens verskillende kleure ingedeel,” het Mosthekga gesê.

Onafhanklike skole kan self besluit wanneer hulle gaan heropen, mits aan al die maatreëls voldoen is.

Godwin Khoza van die National Education Collaboration Trust, het gesê in een van die verslae wat aan die regering oorhandig is, is gesê hoewel hard gewerk is om die skole gereed te kry vir die heropening, was dit weens die afwesigheid van stelsels baie moeilik om die werk betyds af te handel.

“Daar was landwyd ook verskillende vlakke van gereedheid. Al die provinsies was nie op dieselfde vlak met die persoonlike beskermende toerusting vir onderwysers en leerlinge nie.”

Die meeste van hierdie skole is in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, wat as hoërisiko-skole geïdentifiseer is.

Skole in Gauteng en die Wes-Kaap is die beste voorbereid, terwyl skole in die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap op mediumvlak van voorbereiding was.

Skole in die Wes-Kaap het wel Maandag heropen.

‘Dié vorms vrywaar skole nie van nalatigheid’

Alle skole kan vrywaringsvorms laat onderteken, maar dit beteken nie dit vrywaar ’n skool of die staat van aanspreeklikheid as daar nalatigheid was nie.

Só het Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, Maandag op ’n mediakonferensie in Rustenburg, Noordwes, gesê.

Hy het so geantwoord nadat hy op die mediakonferensie gevra is oor private skole wat sulke vorms uitgereik het dat hulle nie aanspreeklikheid sal aanvaar as leerlinge die koronavirus in hul skole opdoen nie.

Mweli sê onderwysers en leerlinge wat onderliggende siektes het, moet hul dokters spreek, wat die nodige ondersteuningsdokumente sal verskaf.

“Ons het aan onderwysers gesê as dit nie uitdruklik in die dokterverslag uitgewys word dat hulle by die huis moet bly nie, moet hulle werk toe gaan.

“Dit is net ’n mediese dokter wat dit kan bepaal. Ons het ons amptenare ingelig dat hulle nie die besluit van mediese dokters moet bevraagteken nie.”

Standaardprosedure is ingestel wat gevolg moet word wanneer iemand in ’n skool die virus sou opdoen, het Motshekga gesê.

Skole mag slegs 50% vol wees. Daarom sal ’n rotasiestelsel vir klasse ingestel moet word om seker te maak dat daar deurentyd genoeg afstand tussen almal is.

“Die opdrag aan die provinsies is dat elke kind en elke onderwyser twee gesigmaskers moet ontvang,” sê die minister.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole  |  Staat Van Inperking  |  Opvoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.