Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Daardie ou is nie ’n bergie, ouers, dis jul skoolhoof

Skole is al so desperaat vir geld dat ’n Pretoriase skoolhoof al met ’n plakkaat by ’n verkeerslig gepleit het dat ouers hul kinders se skoolgeld betaal.

Rowan Phillips, hoof van Willowridge High School in Pretoria. Hy het met dié plakkaat by ’n verkeerslig gaan staan om ouers te smeek om hul kinders se skoolgeld te betaal. Foto: Twitter

“Willowridge parents, please pay school fees” lui die plakkaat waarmee ’n gemaskerde Rowan Phillips die afgelope week op ’n straathoek gestaan het. Hy het by navraag gesê as ’n werknemer van die Gautengse departement van onderwys mag hy nie met Rapport daaroor praat nie.

Onderwysers in diens van die departement kry steeds hul salaris, maar duisende poste van personeel in diens van beheerliggame is in die gedrang omdat ouers wat hul werk weens die Covid-19-inperking verloor het of ’n kleiner salaris kry, nie skoolgeld kan betaal nie.

En dit gaan nie gou beter word nie, meen Jaco Deacon, adjunkvoorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). “Ouers wat agter geraak het, gaan agter bly,” sê hy.

Die betaling van skoolgeld het wel verbeter sedert leerlinge in alle grade weer voldag mag skoolgaan, sê Deacon. “Ouers voel hulle kry nou weer waarde vir hul geld.”

‘Dis ’n massiewe uitdaging.’

Hy beklemtoon hoe belangrik dit vir ouers is om ’n reëling met die skool te tref as hulle nie kan betaal nie.

“Glo my, dis vir geen skool lekker om met regstappe teen sy eie ouers te begin en hulle aan te gee vir invordering nie.”

Tussen 10% en 12% van skole se skoolgeld is verminder.

Marius Botha van Marius Botha Konsultante, ’n groep onderwysbestuur- en regskonsultante, sê mense word “oral” afgelê.

Daarby weet Fedsas van ’n “klomp” personeellede in beheerliggaamposte wat reeds hul werk verloor het, maar die federasie het nie presiese getalle nie omdat skole dié inligting vir hulself hou. “Poste is waarlik reeds tot die been gesny,” sê Deacon.

David de Korte, president van die vereniging vir skoolhoofde (Sapa), sê ook: “Skole is baie skugter om inligting in die openbare domein te plaas wat die indruk sal gee dat hulle in enige finansiële moeilikheid is. Dié inligting maak ouers wat wel betaal angstig en laat hulle oorweeg om na ander skole te skuif.”

Die meeste skole wie se hoofde lid van Sapa is, hef nie skoolgeld nie. De Korte sê hy het ook nie amptelike statistieke nie en sy inligting kom van gesprekke met ander lede van die vereniging.

“My gevoel is dat die meeste skole wat skoolgeld vra, ’n afname van tussen 5% en 20% (in betaling) sien. Skole reageer op verskillende maniere, van bonusse sny tot salarisse sny tot personeel sny.”

De Korte sê die betaling van skoolgeld is ’n “massiewe uitdaging” vir skole. Volgens hom bied die Skolewet groot beskerming aan ouers wat nie betaal nie.

“Kinders kan by die skool bly, of die ouers nou betaal of nie. Ouers wat sukkel moet net aansoek doen vir ’n subsidie en die skool moet dit net toestaan.”

Tog, sê De Korte, is die woord “subsidie” misleidend, aangesien dit die indruk wek dat die departement daardie bedrag betaal. Dis nié die geval nie. Ouers wat wel betaal, moet ook dáárvoor pa staan.

’n Skoolbestuurslid wat op voorwaarde van anonimiteit met Rapport gepraat het, sê ouers wil eenvoudig drie dinge by die skool weet voordat hulle hul kind inskryf: “Eerstens of die skool plek het vir die kind; tweedens ‘Waar is die subsidievorms?’; en derdens ‘Waar is die klerebank?’ ”

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ’n omvattende stimuluspakket aangekondig wat R7 miljard vir die onderwyssektor insluit.

Volgens ’n presidensiële voorlegging oor die pakket sal 344 933 werkgeleenthede geskep en beskerm word. Altesame 200 000 assistente sal teen ’n koste van R4,2 miljard aangestel word. Daarby sal 100 000 “skoolsteun-agente” soos veiligheidswagte en skoonmakers teen R1,8 miljard aangestel word.

Altesame R1 miljard sal gaan vir die beskerming van 44 933 beheerliggaamposte.

Vakbonde en beheerliggaamorganisasies het die afgelope week met die departement van basiese onderwys daaroor vergader.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.