Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
DAK en US vat hande: Afrikaans ís inheemse taal

Afrikaans is ’n inheemse taal en die Universiteit Stellenbosch (US) sal dit as sodanig erken. Nou moet hy net die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie daarvan oortuig.

Dit is onder meer vanweë eenstemmigheid rondom dié kwessie dat die US en DAK Netwerk mekaar gevind het oor die taaltameletjie by dié universiteit.

Dr. Leslie van Rooi (agter) en Danie van Wyk op die vergadering wat Donderdag tussen die Universiteit Stellenbosch en die belangegroep DAK Netwerk gehou is. Foto: Jaco Marais

Boonop is daar nou selfs sprake van samewerking nadat die US en dié belangegroep Donderdagoggend byeengekom het om te praat oor die eise wat die groep in April aan die US gestel het.

Van die eise wat die DAK aan die US gestel het, is die erkenning van Afrikaans as ’n inheemse taal, asook dat dit as ’n volwaardige akademiese taal gebruik moet word.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, sê hulle het nie die gesprek bygewoon om te baklei nie.

“Ons is nie kwaad vir die US nie, al het die media dit laat lyk asof daar krapperigheid is,” sê hy.

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie aan die US, sê: “Vandag se gesprek was nie oor die Universiteit Stellenbosch wat net Afrikaans moet wees nie, net soos dit nooit voorheen was dat ons net Engels moet wees nie. Vandag se gesprek was oor Afrikaans binne ’n meertalige konteks.”

Van Rooi meen albei partye het in Donderdag se gesprekvoering “in ’n groot mate geslaag”.

“Die DAK het ’n klomp voorstelle aan ons gemaak oor hoe ons Afrikaans binne ’n meertalige konteks kan uitbou, hoe ons moet dink aan werwing, en waar ons mense beter moet ondersteun, veral bruin Afrikaanssprekendes,” sê Van Rooi.

Hy sê die US en die DAK Netwerk gaan ná die “vriendelike gesprek” dalk ’n vennootskap vorm.

Van Rooi en Van Wyk het ooreengestem dat die US Afrikaans as ’n inheemse taal erken.

“Die DAK het voorgestel ons moet meer energie daarin sit om dit binne hoër onderwys te vestig,” sê Van Rooi.

Van die voorstelle wat die DAK aan die US voorgelê het, is dat hulle satellietkampusse moet oorweeg, veral nou tydens die Covid-19-pandemie, waar studente in Afrikaans ook onderrig kan kry.

Nog ’n voorstel was dat die DAK gaan help met die werwing van studente wat aan die US gaan studeer.

Die mense wat Donderdag die gesprek tussen die Universiteit Stellenbosch en die belangegroep DAK Netwerk bygewoon het, is van links, voor: Danie van Wyk (DAK), prof. Deresh Ramjugernath (US) en prof. Nico Koopman (US); agter: David Jantjies (DAK), Willem Fransman jr. (DAK), Verna Stuurman (DAK) en dr. Leslie van Rooi (US). Foto: Jaco Marais

“Ons wil uitskieters in skole in plattelandse Afrikaanse dorpies identifiseer en hulle kry om by die US te kom studeer,” sê Van Wyk.

Die belangrikste punt wat gedurende die gesprekke gemaak is, meen Van Wyk, is dat die DAK Netwerk, met die US se hulp, dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, gaan nader om oor Afrikaans as ’n inheemse taal te praat.

“Ons dink die tyd het aangebreek dat die ware geskiedenis van Afrikaans aan iemand soos Blade oorgedra word,” sê Van Wyk. “Ons moet dit doen, sodat hy beter begrip kan hê oor hoekom ons voel soos ons voel.”

Van Wyk verduidelik Afrikaans “is nie ’n wit taal nie”.

“Die probleem is dat Afrikaans as politieke bagasie gesien word. Ons moet Afrikaans depolitiseer,” sê hy.

David Jantjies, ’n DAK Netwerk-lid, sê Nzimande moet weet dat Afrikaans, hoewel dit verskillende invloede het, op die vasteland “gebore en getoë is”.

Van Rooi en Van Wyk sê hulle sal waarskynlik weer in die toekoms vergader om oor ander kwessies te gesels.

Meer oor:  Us  |  Afrikaans  |  Dak Netwerk  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.