Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Dans is genoeg vir matriekvrystelling

Matrikulante kan vanjaar enige vier vakke goed slaag ten einde universiteitsvrystelling te verwerf, eerder as ’n paar uitgesoekte vakke wat in die verlede toegang tot universiteit gewaarborg het.

Hierdie stap, meen kenners, sal “die sluise oopmaak” vir aansoeke aan universiteite, wat reeds tot oorlopens toe vol is.

Die minister van hoër onderwys het vroeër vanjaar die lys van aangewese vakke vir universiteitsvrystelling geskrap. In ’n omsendbrief in September het die departement van basiese onderwys bevestig dat dit reeds op vanjaar se matrieks van toepassing is.

Om matriek te slaag met universiteitsvrystelling moes matrikulante verlede jaar ten minste 50% behaal vir vier aangewese vakke en 30% of meer in hul taal van onderrig. Die lys van aangewese vakke sluit in die meeste hoofstroomvakke soos rekeningkunde, fisiese en lewenswetenskappe, ekonomie, bestuurswetenskappe, wiskunde, geskiedenis en geografie. Vakke wat nie voorheen as aangewese vakke beskou is nie sluit in dans, rekenaartoepassingstegnologie, toerisme en ontwerp. Lewensoriëntering, wat sedert 2008 ’n verpligte vak vir matrikulante is, word ook nie hierby ingesluit nie.

Studierigtings het steeds eie vereistes.

“Die skrap van die lys van aangewese vakke sal geen uitwerking op die gehalte van die matriekeksamen hê nie, maar sal waarskynlik veroorsaak dat meer matrikulante kwalifiseer om aan ’n universiteit te studeer,” sê Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die onafhanklike eksamenraad.

Prof. Flip Smit, demograaf en oudrektor van die Universiteit van Pretoria, sê hierdie stap is roekeloos. “Universiteite ontvang reeds tussen vyf en nege keer meer aansoeke as waarvoor hulle plek het. Hierdie nuwe slaagvereistes maak die sluise oop en sal enorme druk op universiteite plaas.”

Meer as 153 000 matrieks het die 2017-matriekeksamen met universiteitsvrystelling geslaag. Volgens Smit neem dié getal sedert 2008 jaarliks met 4% toe. Volgens Universiteite Suid-Afrika (Usaf) het die regering begroot vir ’n toename van 2,5% in studentegetalle vir 2019.

“Maar van hierdie plekke sal grotendeels opgeneem word deur ’n toename in druipelinge,” sê prof. Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van Usaf.

Die Universiteit van die Witwatersrand het vanjaar 56 900 aansoeke gekry van voornemende eerstejaarstudente, maar het plek vir slegs 5 664. Die universiteit sê in ’n verklaring in Januarie ’n oormaat studente sal die gehalte van onderrig aan die universiteit skade berokken weens druk op hulpbronne en infrastruktuur.

Bawa dink egter nie die toename in studente wat kwalifiseer vir universiteit sal merkwaardig wees nie.

“Usaf ondersteun die wysigings aan die lys van aangewese vakke want die lys was verouderd. Leerlinge wat goed presteer, maar nie die regte vakke het nie, sal nou die geleentheid hê om aan ’n universiteit te studeer.”

Hy sê bepaalde studierigtings het steeds hul eie toelatingsvereistes.

Maar Smit sê die regering mislei jongmense deur hulle te laat glo universiteitsvrystelling stel hulle in staat om ’n graadkursus suksesvol te voltooi.

“Ongeveer 50% van studente verlaat die universiteit ná vier of vyf jaar sonder ’n kwalifikasie omdat die skoolstelsel studente nie genoegsaam voorberei vir universiteit nie. Hierdie jong mense word ontnugter en Suid-Afrika gaan nog ’n duur prys daarvoor betaal.”

Meer oor:  Matriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.