Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Datum vir heropening van skole eers later bekend

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê ouers en die gemeenskap moet hulle nie steur aan boodskappe op sosiale media oor wanneer die skole sal heropen nie.

Die departement sal later dié datum bekend maak, het Motshekga Donderdagmiddag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê.

Sy het Donderdagoggend ’n telefoniese konferensie met die lede van die raad van onderwysministers (Cem) oor die huidige situasie gehad om te besin oor planne hoe om skoolkinders te help.

Motshekga sê dit is nie moontlik om nou al te sê wanneer die skole, wat op 18 Maart gesluit is, weens die gevaar van die Covid-19-pandemie sal heropen nie. Alles hang af van die omvang van die pandemie.

“Ek kan regtig nie sê wanneer dit sal gebeur nie. Ons monitor die situasie deurentyd.”

Angie Motshekga Minister van basiese onderwys
Hou kinders veilig

Die minister het ’n beroep op ouers en lede van die gemeenskap gedoen om in die drie weke wat die nasionale staat van inperking van krag is, seker te maak kinders is veilig van allerlei gevare. Dit sluit in die misbruik van alkohol of dwelms, en angstigheid wat veroorsaak word deur alles rakende die Covid-19-pandemie.

“Moenie kinders alleen laat nie en wees asseblief op die uitkyk vir depressie en bied hulle deurentyd ondersteuning,” het Motshekga gesê.

“Dit is ook belangrik om deurlopend met die kinders te praat oor die bevordering van gesondheid en veiligheid in die huis. Lê veral klem op persoonlike higiëne.”

Die minister sê ’n herstelplan word tans opgestel om in werking te stel wanneer die skole heropen.

“Ons moet onder meer beplan hoe ons verlore tyd sal kan inhaal. Dit kan insluit dat ons langer klastye kan instel, of die skooltermyne kan verander. Ons het ’n baie goeie verhouding met private skole en glo hulle sal moontlik ook by ons planne inskakel.

“Daar is ook moontlike planne vir hoe leerlinge tydens die inperking gehelp kan word. Niks is egter nog gefinaliseer nie.”

Die Verenigde Nasies (VN) se kinderfonds (Unicef) en die nasionale onderwys-samewerkingsfonds ondersteun die departement, sê die minister. Old Mutual het R50 miljoen beskikbaar gestel vir hulp.

Ondersteuningsprogramme

Die ondersteuningsprogramme sluit onder meer in die aanbieding van lesse op radio en televisie vir veral matriekleerlinge. Die SAUK, DStv, e.tv en maatskappye soos Telkom, Vodacom, Cel C en MTN het reeds hul hulp aangebied sodat klasse op aanlyn platvorms aangebied kan word. Die skedule is op die departement van basiese onderwys se webwerf beskikbaar.

Motshekga het ook ’n beroep op ouers gedoen om in die tyd van inperking toe te sien dat hul kinders geleer word om vir die lekker te lees.

“Ons vra julle om asseblief vir die kinders tyd te maak om te lees, om saam met hulle te lees, vir hulle te lees en stories te deel. Boeke vir ’n lekkerlees-ervaring is ook op die departement se webwerf beskikbaar.”

Die minister sê sy is baie bekommerd oor kinders wat in skooltyd deel is van die departement se voedingsprogram.

“Omdat ons nie nou daarmee kan voortgaan nie, het ons met die departement van maatskaplike ontwikkeling gepraat oor die voeding van arm gemeenskappe.”

Hulle is reeds besig om in samewerking met nieregeringsorganisasies aandag hieraan te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.