Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
De Villiers en kie ‘mislei Maties-raad’
Prof. Wim de Villiers, rektor.

In hul stryd om die Universiteit Stellenbosch te verengels het prof. Wim de Villiers, Matie-rektor, en sy senior bestuurspan die universiteit se raad sodanig mislei dat daar genoeg rede is om hulle af te dank.

Dit is een van die opspraakwekkende bewerings wat gemaak word in hofstukke wat Donderdag by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is as deel van die voortslepende regstryd om die universiteit se pro-Engelse-taalbeleid ongedaan te maak.

Uit dié stukke blyk dit George Steyn, voorsitter van die universiteit se raad, sou in ’n stadium gesê het De Villiers en sy adjunkte “het geen geloofwaardigheid meer nie” en dat hul optrede sou gelei het tot afdanking indien hulle in die private sektor gewerk het.

As dit in die konteks van ’n maatskappy was, sou hul optrede tot afdanking gelei het.

Die jongste aantygings kom nadat twee lede van die universiteitsraad – Johan Theron en prof. Wannie ­Carstens – aangekla is dat hulle die gedragskode van die raad oortree het.

Die aanklagte teen Theron spruit uit ’n onderhoud wat hy verlede jaar met Rapport se Hanlie Retief gevoer het.

In die onderhoud vaar Theron, ’n prokureur, uit teen die “oneerbare” optrede van De Villiers en Steyn in die aanloop tot die raadsvergadering waarin die beskerming van Afrikaans op Stellenbosch oorboord gegooi is.

’n Jaar nadat die onderhoud gepubliseer is, het ’n mederaadslid, prof. Usuf Chikte, ’n klagte hieroor by die raad ingedien.

Johan The­ron

In sy verweer teen Chikte se klagte – wat saam met die aanhangsels bykans 100 bladsye beslaan – maak Theron onrusbarende bewerings oor die integriteit van De Villiers, sy adjunkte en die raadsvoorsitter.

Indien die bewerings waar is, kan dit ’n groot invloed hê op die hofsaak wat Gelyke Kanse, ’n organisasie wat hom beywer vir die gelyke gebruik van Afrikaans en Engels op Stellenbosch, teen die universiteit aanhangig gemaak het. Daarom het Gelyke Kanse Donderdag ’n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien om hom toe te laat om Theron te roep om hieroor te getuig. Die universiteit staan die aansoek teen.

In sy verweer voer Theron onder meer aan dat:

* De Villiers en sy senior bestuur – in die woorde van die raad se ondervoorsitter, prof. PW van der Walt – ’n “slinkse plan” uitgewerk het om die raad in die duister te hou oor hul planne om Stellenbosch te verengels;

* Dat die universiteit die aanbevelings oor voertaal van die verkose studenteraad geïgnoreer het om eerder na die pype te dans van Open Stellenbosch, ’n onverkose studenteliggaam;

* Steyn in ’n stadium sou gesê het dat die optrede van De Villiers en sy senior bestuur “tot hul afdanking sou gelei het indien dit binne die

Prof. Wannie Carstens

konteks van ’n maatskappy afgespeel het”.

* Dat Steyn klaarblyklik later sy siening oor De Villiers verander het en aktief meegedoen het om die Engelse taalbeleid deurgevoer te kry deur te dreig dat die “kampus sal brand” as Afrikaans en Engels gelyke status in enige nuwe taalbeleid sal geniet.

* Dat De Villiers en sy adjunkte regsmenings wat krities is oor hul taalplanne van die raad weerhou het en dat hulle ook dekane “mislei” het oor wat hierdie regsmening sê.

* Dit het uiteindelik tot aansienlike spanning tussen die rektor en sy dekane gelei, veral nadat De Villiers en prof. ­Arnold Schoonwinkel, die viserektor (leer en onderrig), later by verskeie geleenthede ontken het dat hulle dekane die groen lig gegee het om slegs Engels as voertaal in lesings te gebruik – nog voordat die raad amptelik ’n besluit hieroor geneem het.

* Nadat sommige fakulteite, teenstrydig met die universiteit se destydse taalbeleid, aan die begin van verlede jaar alle lesings in Engels begin aanbied het, het AfriForum die universiteit hof toe geneem. Tydens die voorbereiding vir die saak het die universiteit se eie advokate geweier om enige beëdigde verklarings van die rektor of sy adjunkte in hul hofstukke in te sluit omdat hulle “geen geloofwaardigheid meer het nie”.

Theron voer aan dat dit uit dié en ander voorvalle duidelik blyk dat De Villiers en sy adjunkte “oneerlik en misleidend” was en dat sy onderhoud met Rapport dus op billike kommentaar neerkom wat deur bewese feite ondersteun word. “(Die rektor en sy bestuur se) optrede het immers by twee geleenthede tot gevolg gehad dat dringende (hof)aansoeke suksesvol teen die US ingebring is.”

George Steyn, voorsitter van die raad.

In sy beëdigde verklaring wat deel is van die jongste hofstukke sê Danie Rossouw namens Gelyke Kanse dat die inligting wat nou deur Theron geopenbaar is “onteenseglik aantoon dat die rektor se bestuurspan die raad mislei het”.

Hy sê dit is ook duidelik dat die proses wat gelei het tot die aanvaarding van die nuwe taalbeleid op 22 Junie verlede jaar doelbewus bestuur is sodat dit die vorige onregmatige afwykings van die universiteit se taalbeleid “met regsgeldigheid moes beklee”.

Rossouw sê Steyn, wat hom aanvanklik teen De Villiers en sy adjunkte “verset” het, het later ’n “pion” van De Villiers en sy adjunkte geword – “waarskynlik omdat dit die weg van die minste weerstand was”.

Die universiteit het tot Woensdag tyd om redes aan te voer waarom Theron nie teen hulle mag getuig nie. Die verhoor begin volgende Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.