Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
De Villiers: ‘Snert’ dat US Afrikaans die rug toekeer

Dit is “loutere snert” dat die Universiteit Stellenbosch (US) Afrikaans die rug toegekeer het, het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, Woensdagaand op die bekendstelling van die eerste leerstoel vir Afrikaans by die US gesê.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

“Die US is ’n meertalige universiteit en ons beleid is daarop gegrond om dit toegankliker te maak, ook vir Engelssprekende studente,” het hy gesê.

“Dit gaan absoluut oor toegangsverbreding. Vanaand is net ’n herbevestiging daarvan dat ons voortgaan om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder.”

De Villiers het Ton Vosloo en Anet Pienaar-Vosloo, wat die leerstoel in Afrikaanse taalpraktyk gaan borg, bedank vir die “ruim skenking” en gesê die navorsing wat daaruit spruit, sal alle Afrikaanssprekendes bevoordeel.

“En jul tydsberekening is natuurlik uitstekend,” het hy glimlaggend gesê.

Dit kom nadat die US ’n hofgeding gewen het waar Gelyke Kanse die instelling wou dwing om na sy 2014-Taalbeleid terug te keer. Die konstitusionele hof het in Oktober eenparig hieroor in die US se guns beslis.

De Villiers het gesê dat private skenkings in die toekoms instrumenteel sal wees om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder.

“Die skenking is akademies gegrond en sal help om Afrikaans as wetenskapstaal in ’n meertalige gemeenskap uit te bou.”

Prof. Ilse Feinauer, Ton Vosloo en Anet Pienaar-Vosloo, en prof. Wim de Villiers. Foto: Jaco Marais

Die leerstoel stel die volgende vyf jaar geld aan die departement Afrikaans en Nederlands beskikbaar vir onder meer ’n bykomende lektoraat, nagraadse beurse, ’n nadoktorale genootskap en navorsingsondersteuning vir studente en dosente.

Prof. Ilse Feinauer beklee die leerstoel en is verbonde aan die US se fakulteit lettere en sosiale wetenskap.

Vosloo het tydens die bekendstelling by die Stias-instituut in Stellenbosch gesê: “Anet en ek wil met ons skenking sê: ‘Laat Afrikaans saampraat, saamdink, saamwerk en diensbaar wees vir ons totale gemeenskap’.

“Dit geskied in die gees van gryp die geleentheid aan en bou opnuut aan Afrikaans as medium van onderrig, as beroepstaal, wetenskapstaal en as taal van saampraat en saamdoen.

“Ons hoop dit dra by tot die vaste staanplek van Afrikaans en dat die nuwe geslag studente wat daarin studeer, ’n positiewe bydrae tot die uitbou van ons eenheid in diversiteit sal lewer.”

Vosloo was 59 jaar in die bedryf as joernalis, redakteur, uitvoerende hoof en voorsitter van Naspers en die afgelope drie jaar ere-professor in joernalistiek aan die US.

Ton Vosloo. Foto: Jaco Marais

Pienaar-Vosloo, ook ’n oudjoernalis, het genoem hoe Afrikaans ’n taal is wat “mens tuis laat voel”. Sy is ’n Matie wat in die kunste gestudeer het en medestigter en direkteur van onder meer die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop.

Feinauer het gesê sy en prof. Rufus Gouws, ook ’n dosent aan die US, het hard probeer om ’n leerstoel vir Afrikaans te bewerkstellig, maar was tot nou toe onsuksesvol.

“Ek wil prof. Wim de Villiers bedank vir die aanvoorwerk wat hy gedoen het om hierdie leerstoel in die departement Afrikaans en Nederlands ’n werklikheid te maak.

“Dit sal grootliks bydra tot die vestiging en verbreding van Afrikaans se voetspoor by die US, nasionaal en internasionaal.”

“Dit sal aan meer studente die ruimte skep vir hoëvlak-navorsing in Afrikaans, want een van die vernaamste voordele is die toekenning van beurse.”

Feinauer gee sedert 1982 aan die departement Afrikaans en Nederlands klas. Sy was van 2005 tot 2008 die voorsitter van die departement en van 2015 tot einde 2018 die visedekaan vir navorsing van die fakulteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.