Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Decent (15): Limpopo se Doogie Howser
Die 15-jarige Decent Junior Mkhombo (regs) het ’n selfie geneem op pad klas toe. Hy is die jongste mediese student aan die Universiteit van ­Limpopo.

Hy is net 15 jaar oud, maar Decent Junior Mkhombo het pas by die Universiteit van Limpopo begin klasloop.

Decent is een van die jongste mediese studente tot nog toe in Suid-Afrika.

Hy is slegs ’n paar maande ouer as wat Suid-Afrika se jongste dokter, dr. Sandile Kubheka, was toe hy by die Universiteit van KwaZulu-Natal begin studeer het. Sandile het in 2013, toe hy 20 was, sy graad gekry.

Die slimkop Decent het verlede jaar sewe onderskeidings behaal in die matriekeksamen. Hy was in die Orhovelani High School in Thulamahashe, Mpumalanga, waar hy so uitgeblink het dat hy twee keer toegelaat is om ’n skooljaar oor te slaan.

Die universiteit se mediese skool is nuut en Decent is een van net 60 studente.

“Nadat ek gematrikuleer het, het ek by die universiteit aansoek gedoen, maar niks van hulle gehoor nie. Ek het toe self soontoe gegaan om te kyk of hulle my aansoek ontvang het. Hulle sê toe hulle het dit nie gekry nie. Toe doen ek maar weer aansoek en ek word aanvaar,” sê hy.

Maar universiteit is nie speletjies nie.

“Die klasse verloop goed, maar dit is moeilik. Ek dink dit is seker normaal en dit sal tyd vat vir my om aan te pas en dan sal dinge beter gaan,” sê Decent.

Hy wil eendag spesialiseer in kankerbehandeling, maar daar is natuurlik nog baie tyd om van besluit te verander.

“Daar lê nog ses jaar voor my en ek weet daar is baie om te ontdek in die mediese veld. Tans is ek opgewonde om van alles te leer en deur my eerste jaar te kom,” sê hy.

Decent is nederig en voel skoon verleë oor die bohaai.

“Ek sien eerlikwaar nie hoekom dit so ’n groot prestasie is nie. Ek dink nie ek het enigiets spesiaals bereik nie. Al wat ek gedoen het, was om hard te werk op skool en tot op universiteit te kom,” sê hy.

Maar Kgalema Mohuba, woordvoerder van die universiteit, sê hulle is baie opgewonde om Decent daar te hê.

“Ons is in die wolke en baie trots om ’n 15-jarige te hê in dié program. Ons is vas oortuig dat hy met sy toewyding goed sal doen en gou graad sal kry.”

Die Universiteit van Limpopo se mediese skool is die eerste mediese skool wat sedert 1994 in die land gebou is. Die provinsiale departement van gesondheid het vanjaar R10 miljoen begroot om 60 mediese studente se studies te betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.