Kommer heers dat duisende leerlinge wat nie ná die streng inperking teruggekeer het skool toe nie, permanent vir die skoolstelsel verlore kan wees.
Luidens ’n voorlegging deur die departement van basiese onderwys heers daar veral kommer oor die Wes-Kaap waar die bywoningsyfer vir gr. 7’s en matrieks onderskeidelik 46,4% en 70,4% is.
Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys het Maandag ook gehoor daar word gewerk aan oplossings vir die tekort aan onderwysers by skole weens die duisende onderwysers met onderliggende siektetoestande wat van die huis af werk.
Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, het op die sitting gesê dis nog te vroeg om op grond van die bywoningsyfer, wat nog voorlopig is, betroubare projeksies oor die uitvalsyfer te doen.
“Kenners het gewaarsku dat as kinders te lank by die huis bly hulle dalk die skool kan verlaat weens faktore soos vroeë swangerskap en dwelmmisbruik. Ons is baie bekommerd oor veral die Wes- en Oos-Kaap,” sê Mweli.
Behalwe vir die leerlinge wat spesiale reëlings getref het, moes leerlinge in alle grade vanaf Maandag ná die ingefaseerde heropening van skole weer op die skoolbanke wees.
Selfs al word die leerlinge wat tuisonderrig ontvang in berekening gebring, verklaar dit nie die groot afwesighede by skole nie, sê Mweli.
Dr. Reginah Mhaule, adjunkminister van onderwys, sê die leerlinge wat wegbly, kom nie almal noodwendig van arm skole af nie.
“Die redes hoekom die kinders nie terugkeer nie verskil. Partykeer is ouers bang om hul kinders terug te stuur skool toe sonder om dit aan die skool te rapporteer. Ons werk saam met al die skole om leerlinge wat nie teruggekeer het skool toe nie op te spoor en hulle volgende jaar terug te bring.”
Volgens haar sal leerlinge wat bloot wegbly en nie reëlings tref nie gederegistreer word. As hulle steeds skoolgaande ouderdom is en volgende jaar wil terugkeer, sal hulle weer aansoek vir toelating moet doen.
Mweli het herhaal dat die onderwysdepartement nie geld het om aflosonderwysers in die plek van elkeen van die 22 000 onderwysers aan te stel wat weens onderliggende siektetoestande toestemming het om van die huis af te werk nie.
Paddy Padayachee, hoof van beplanning, inligting en assessering van die onderwysdepartement, sê die departement stel wel aflosonderwysers aan, maar dat sekere grade geprioritiseer word.
Vir die res van die grade wil sekere provinsies assistent-onderwysers aanstel, wat as ’n skakel tussen die onderwyser by die huis en die klaskamer kan dien.
Hy sê ingevolge die stelsel waarvolgens leerlinge deesdae weens Covid-19-protokols beurte maak om skool by te woon, kan onderwysers wat by die skool is boonop instaan vir onderwysers wat van die huis af werk.
Mweli sê die departement van staatsdiens en administrasie is besig om ’n beleid op te stel oor staatsdienswerkers wat van die huis af mag werk.