Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skole: ‘Alles in hul vermoë’ gedoen om afleggings te keer

Die departement van basiese onderwys sê hy doen alles in sy vermoë om grootskaalse afleggings af te weer waardeur onderwysers en ander skoolpersoneellede weens die Covid-19-pandemie in die gesig gestaar word.

Elijah Mhlanga, departementele woordvoerder, sê die pandemie veroorsaak groot ekonomiese en finansiële nood vir mense “met baie poste wat reeds geraak of in gevaar is”.

“Die departement is bewus van al die poste wat in gedrang is en ouers se onvermoë om skoolgeld te betaal, wat die onderwyssektor verder benadeel. Ons is in kontak met die onderskeie provinsiale kantore om dringend moontlike oplossings hiervoor te vind,” sê Mhlanga.

Hy wou nie Donderdag presies sê watter opsies oorweeg word nie. “Inligting word ingesamel oor hoeveel onderwysers in ons skole benodig word. Dit sluit onderwysers in wat onderliggende siektetoestande het. Ons is daartoe verbind om al die moontlike te doen om grootskaalse afleggings af te weer,” sê Mhlanga.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het vroeër aan Netwerk24 gesê dat daar na raming landwyd 150 000 mense in beheerliggaamsposte is.

“Sowat 50 000 van hierdie mense is opvoeders en die ander 100 000 is nie-opvoeders. Potensieel is elkeen se pos in gedrang,” het Colditz gesê.

skole, onderwysers, koronavirus
Hoewel skole oopgestel word sou baie ouers dit verkies om hul kinders by die huis te hou, soos hierdie ouer wat op 1 Junie aan 'n betoging in Kaapstad deelgeneem het teen die heropening van skole wat sedert 18 Maart gesluit was. Foto: Reuters

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê duisende poste kan in die slag bly as daar nie drasties ingegryp word nie. “Hierdie krisis is nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis.

“Die verlies aan skoolgeld tydens die koronakrisis wissel van tussen 20% en 60%, en in sommige gevalle selfs meer. Alle skole kry swaar, maar dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat kontantstelsels gebruik wat swaar getref word. Skole doen hul bes om beheerliggaamposte te behou, maar dit raak al hoe moeiliker en reserwes is beperk,” sê Hermann.

“Beheerliggaamonderwysers se salaris is in baie gevalle met tot soveel soos 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (Ters) het bloot tydelike verligting gebring. Talle skole het nie vir Ters aansoek gedoen nie, of nog nie al hul geld ontvang nie,” sê Hermann.

Solidariteit het, in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Donderdag aangekondig dat hy ’n spesiale beroepsgilde vir beheerliggaamonderwysers gestig het. Volgens Hermann is die doel hiervan om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te verhoed.

Die verlies aan skoolgeld tydens die koronakrisis wissel van tussen 20% en 60%
Solidariteit

“Ons wil met alle rolspelers hande vat om hierdie poste te beskerm en te behou. Ons beplan ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en -advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun,” sê Hermann.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.