Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Departement ‘hou nie by regulasies’, meen SOS

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan ’n regsbrief aan die Gautengse departement van onderwys rig om die departement te verplig om die toelatingsregulasies korrek toe te pas wanneer hy gr. 1- en gr. 8-leerlinge by skole plaas.

Ouers het tot einde Julie die geleentheid gehad om hul kinders deur middel van die departement se aanlyn platform by ’n skool van hul keuse in te skryf.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het by navraag gesê die departement is besig met die verifiëringstydperk, en dat sodanige plasing van leerlinge van 30 Augustus af sal geskied.

“Ons werk saam met ons skole en skoolbeheerliggame om hierdie proses dienooreenkomstig te finaliseer,” sê hy.

Luidens ’n verklaring deur die SOS het die departement die afgelope week met ’n “baie eensydige” proses begin om leerlinge in skole te plaas, “sonder inagneming van skole se bydraes”.

In die proses wyk die Gautengse onderwysdepartement af van sy eie inskrywingsvoorskrifte.
Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU

Die SOS het van verskeie skole verneem dat die departement leerlinge wat die naaste aan skole bly voorkeur gee bo leerlinge wat ook in die voedingsgebied bly, al het hierdie leerlinge se ouers nie eerste aansoek gedoen nie.

“Volgens die regulasies moet leerlinge wat eerste aansoek doen en in die skool se voedingsgebied woon, eerste geplaas word. Die SOS wil ook verseker dat die departement die leerling en skool se taal van onderrig en leer in aanmerking neem by die plasing van leerlinge,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, in die verklaring.

Volgens die SOS word Afrikaanse leerlinge wat in sekere skole se voedingsgebiede woon, wat binne die eerste uur aansoek gedoen het, nou van die lys verwyder ten gunste van Engelse leerlinge wat nader aan die skool bly, maar baie later eers aansoek gedoen het vir toelating. In die meeste gevalle waar hierdie leerlinge hul plek verloor in Afrikaanse enkel- of parallelmediumskole, is daar geen ander Afrikaanse skole in die voedingsgebied nie.

Die SOS sê die departement het ook Maandag ’n boodskap aan verskeie ouers gestuur waarin hy vereis dat ouers fisiek hul woonadresse by die departement se kantoor in Johannesburg moet gaan bevestig.

“Die SOS is egter bly om te verneem dat die boodskap Dinsdag teruggetrek is, aangesien die regulasies bepaal dat stawende dokumentasie vir aansoeke slegs by die betrokke skool ingedien moet word,” lui die verklaring.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), voer aan etlike skoolhoofde, veral in die Pretoria-omgewing, is deur die amptenary na Johannesburg ingeroep en “voorgeskryf hulle gaan leerlinge aanvaar”.

“In die proses wyk die Gautengse onderwysdepartement af van sy eie inskrywingsvoorskrifte,” sê Klopper.

“Die SAOU maak ten sterkste daarteen beswaar dat die werkgewer sy mag misbruik om hoofde onder druk te plaas. Die onderwysdepartement weet goed dat hy met die beheerliggaam hieroor moet praat, maar hy doen dit nie.

“Die beheerliggaam-organisasies moet vinnig intree en daardie beheerliggame wat gestoomroller word, bystaan sodat hierdie saak op ’n ordelike wyse hanteer word.”

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) is in die proses om ’n skrywe te rig rakende sy beswaar oor die Gautengse onderwysdepartement se werkwyse, sê Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas.

Fedsas het ook ’n dringende vergadering met die departement versoek, “omdat daar afgewyk word van wat op vorige vergaderings onderneem is”.

Meer oor:  Fedsas  |  Saou  |  Steve Mabona  |  Chris Klopper  |  Gauteng  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.