Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Departement is nie vervloek nie’ – Fedsas

Gauteng is in rou nadat nog twee skoolkinders Vrydag gesterf het. Dit bring die dodetal tot 18 sedert die skole vanjaar sy deure geopen het.

Die Gautengse departement van onderwys het Saterdag die dood van die twee leerlinge bekend gemaak.

Luidens hul verklaring is ’n gr. 5-meisie van die Diepsloot Primary School Vrydag noodlottig deur weerlig getref toe sy huis toe geloop het. Dieselfde verklaring bevestig die dood van ’n gr. 3-seun van Zenzeleni Primary School, wat Vrydagaand in sy slaap ná ’n kort siekbed dood is.

Voel departement is vervloek

Panyaza Lesufi, die LUR vir die departement, beskryf die hoë sterftesyfer as “emosioneel uitputtend” en het al gesê die departement is vervloek.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), sê dit is die eerste maal dat so baie leerlinge opeenvolgend in die provinsie sterf.

“Daar is wel geen sprake van ’n vervloeking nie. Dit is belangrik om dit in perspektief te neem en te onthou net omdat een leerling sterf beteken nie alle leerlinge sal nou sterf nie,” sê Colditz.

Hy voeg by die departement kan nie homself verkwalik waar leerlinge weens natuurlike oorsake sterf nie. “Hy (die departement) moet eenvoudig voortgaan om sy werk te doen. As (sy lede) negatief is oor die tragedies wat die sektor tref, moet hule hulp van kundiges van die departement van maatskaplike ontwikkeling inroep.”

Weerlig en siekte

Colditz sê daar moet wel aandag gegee word aan die sterftes waar daar geweld en misdaad betrokke was. “Weerlig en siekte is nie noodwendig voorkombaar nie, maar ’n dood weens onnatuurlike omstandighede is,” sê Colditz.

Chris Klopper, voorsitter van Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê ook dit is belangrik om die onderskeid te tref.

In verband met die gewelddadige voorvalle het die SAOU ’n voorlegging aan Angie Motshekga, die minister van basiese onderrig gedoen, waarin hulle vra dat artikel 9 van die skolewet hersien moet word.

“Ons vra dat daar ’n onderskeid getref moet word tussen stoute kinders en kinders wat aanhoudende kriminele gedrag toon. Laasgenoemde hoort nie in die onderwysstelsel nie en ons voel hy (so ’n kind) verbeur sy reg wanneer hy misdade pleeg,” sê Klopper.

Handhaaf dissipline

Melanie Buys, hoof van Solidariteit se skole-ondersteuningsentrum, sê die departement moet skole ondersteun wanneer dit kom by die handhaaf van dissipline. “Byvoorbeeld die wysiging aan regulasies dat daar nie van leerders verwag kan word om by toelating die skool se gedragskode te onderskryf nie en die feit dat die departement byvoorbeeld aanbevelings vir die uitsetting van ernstige oortreders eenvoudig afwys, is grondliggend tot verval in sekere skole se veiligheid en leerkultuur,” sê sy.

Steve Mabona, die departement se woordvoerder, het nie Netwerk24 se vrae beantwoord oor die departement se gereedheid om die tragedies te hanteer, nie.

Meer oor:  Vloek  |  Onderwysdepartement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.