Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Departement kies wie gaan waar skool

Die toelatingslyste wat talle Afrikaanse skole Vrydag by die Gautengse departement van onderwys gekry het, verskil drasties van die lys van aansoeke wat skole self vanaf ouers ontvang het.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

“Die departement het eenvoudig lukraak plasings gemaak op ’n basis van eerste kom, eerste bedien.

“Daarom verskil die departement se toelatingslyste heeltemal van skole se eie lyste van leerlinge wat self by skole aansoek gedoen het,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Ouers moes in April en Mei aansoek doen by skole in Gauteng op ’n aanlyn stelsel wat deur die departement van onderwys in die provinsie geadministreer is. Hulle moes egter ook fisieke dokumente indien by die skole waar hulle aansoek gedoen het. Op grond van dié dokumente het skole hul eie plasingslyste opgestel en aan die departement gestuur.

Die departement het Vrydag aan elke skool ’n nuwe plasingslys gestuur, maar skoolhoofde sê die nuwe lyste verskil hemelsbreed van die skool se eie lyste.

Die aanlyn aansoeke het onder meer nie die geleentheid gebied om ’n taalvoorkeur aan te dui nie.

Verskille
Talle hoofde van Afrikaanse skole in Johannesburg, Pretoria, die Oos-Rand en die Wes-Rand het aan Rapport bevestig dat die toelatingslyste wat hulle vanaf die departement gekry het, verskil van skole se eie lyste van leerlinge wat by die skool aansoek gedoen het.

“Dit uiteinde is dat die departement leerlinge wat in Engels wil leer, by skole geplaas het wie se taalbeleid Afrikaans is en dus strydig is met dié skole se toelatingsbeleid,” sê Colditz.

Hy sê dit is duidelik ’n poging om Afrikaanse skole te verengels.

Volgens hom het die departement se aanlyn aansoekproses tot verskeie absurditeite gely – soos dat tweelinge in verskillende skole geplaas is, of dat kinders wat langs die skool woon nie plek in dié skool kry nie, of dat ’n kind nie reeds broers en susters het in ’n spesifieke skool nie.

Volgens Colditz moes skole se beheerliggame hul toelatingsbeleid voor 11 Mei by die departement indien, maar is geen van hul beleide deur die departement geverifieer of goedgekeur nie.

“Die departement ignoreer nou bloot skole se toelatingsbeleide in ’n poging om kinders lukraak te kan plaas,” sê hy.

Talle hoofde van Afrikaanse skole in Johannesburg, Pretoria, die Oos-Rand en die Wes-Rand het aan Rapport bevestig dat die toelatingslyste wat hulle vanaf die departement gekry het, verskil van skole se eie lyste van leerlinge wat by die skool aansoek gedoen het.

Volgens hulle veroorsaak die stelsel oneindige probleme vir skole en ouers en wys dit dat leerlinge nie deur ’n sentrale stelsel geplaas kan word nie.

“Baie ouers het geen idee wat skole se onderrigtaal is nie en doen dan sonder hul medewete aansoek by ’n Afrikaanse skool terwyl hulle wil hê dat hul kinders in Engels onderrig moet word,” sê ’n hoof wat nie geïdentifiseer wou word nie.

“My personeel moet nou dae lank met ouers sit en aan hulle verduidelik dat hul kinders nie aan die toelatingsvereistes voldoen nie,” sê nog ’n hoof.

“Dit skep valse verwagtinge by ouers. Hierdie probleme sou nooit gebeur het nie as hulle kon aandui wat hul taalvoorkeur is toe hulle aansoek gedoen het,” sê ’n ander.

Melanie Buys van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê skole se toelatingsbeleid is steeds geldig.

Waar plasings van die onderwysdepartement strydig is met die toelatingsbeleid van die skool, is dit nodig om in konsultasie te tree met die departement. Waar die twee lyste ooreenstem, moedig Buys skole aan om ouers onmiddellik in kennis te stel dat leerlinge in die skool plek gekry het. Ouers moet binne sewe dae die plasing aanvaar, anders verval die leerling se toelating.

Buys sê indien skole nie met die departement tot ’n vergelyk kan kom nie, moet die beheerliggaam ’n dispuut verklaar en hul sentrum laat weet. Indien konsultasie nie die probleem oplos nie, “sal die SOS in samewerking met Fedsas litigasie namens skole teen die departement oorweeg”.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Skole  |  Toelating
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.