Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Departement moet seks-onderrig kom verduidelik, sê DA

Die departement van basiese onderwys moet die inhoud van sy lewensoriëntering-kurrikulum oor seksvoorligting in die parlement kom verduidelik nadat dit ’n herrie onder ouers en ander belanghebbendes ontketen het, vra die DA.

Die kurrikulum sal na verwagting in 2020 ingestel word en vir gr. 4- tot gr. 12-leerlinge verpligtend wees. Die departement het vroeër gesê proeflopies van die leerplanne is reeds uitgevoer.

Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor basiese onderwys, sê die party het in die lig van die omstredenheid oor die aangeleentheid aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys in die parlement geskryf en versoek dat ’n dringende vergadering met belanghebbendes gehou word. Dit is om die departement die geleentheid te gee om uit te stippel presies wat sy Comprehensive Sexuality Education (CSE) gaan behels.

Die DA sê in sy verklaring hy het by die departement navraag gedoen, wat hom verseker het daar is geen nuwe inhoud in die kurrikulum nie. Maar ouers is bekommerd dat die leerplanne wél nuwe materiaal bevat.

“Seksopvoeding moet ’n fyn balans hê tussen inligting om jong mense toe te rus om die regte besluite te neem, en om leerlinge onopsetlik te seksualiseer,” lui die verklaring.

Die party sê hy is bewus van die bekommernisse oor die detail in van die voorgestelde CSE-materiaal.

“Daar is ook bewerings dat sommige onderwysers ongemaklik is om van die materiaal aan te bied.”

Die lesse fokus op onderrig oor selfrespek, respek vir ’n ander se liggaam en die belangrikste dat kinders onvanpaste fisieke interaksies kan uitken.

Die DA wil self ook vrae in die parlement hieroor rig. Die vrae sluit in of die CSE in skole getoets is, en wat die uitkoms daarvan was. Die party wil ook weet of die departement vooraf met onderwysvakbonde en beheerliggame oorleg gepleeg het.

Die departement het in sy verklaring Dinsdag gesê daar is geen nuwe inhoud in die hersiende kurrikulum wat seksvoorligting betref nie en dat dié kurrikulum al sedert 2000 aangebied word.

Hy het verder gesê navorsing toon ’n hoë koers van swangerskappe onder adolessente en tieners, en meer as ’n derde (35,4%) van seuns en meisies loop voor die ouderdom van 17 onder seksuele geweld deur.

Dit noop die departement om onderrig oor die voorkoming van kindermishandeling te bied wat geskik is vir verskillende ouderdomsgroepe en met die doel om weerbaarheid, selfvertroue en selfhandhawing te kweek onder jong mense wat dikwels self nie weet wanneer hulle seksueel uitgebuit word nie.

“Die lesse fokus op onderrig oor selfrespek, respek vir ’n ander se liggaam en die belangrikste dat kinders onvanpaste fisieke interaksies kan uitken,” lui die departement se verklaring.

Die departement verwerp die idee dat die CSE die kinders te veel aan seks blootstel, en sê navorsing toon dat die CSE ook nie seksuele aktiwiteite verhoog nie.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hy is baie dankbaar oor die politieke ingryping.

“Wat hulle (die DA) sê, is presies ook ons kommer en vrae. Daar wás ongemak oor die proeflesplan. Ons weet vir ’n feit ouers is nie geraadpleeg nie. Of die kurrikulum dieselfde bly of nie – dis nie ons probleem nie. Die probleem is hóé die leermateriaal (grafies) ingekleur word.”

Volgens Klopper hoop die SAOU dat die leerplan nie op skole afgedwing sal word nie, maar dat beheerrade ruimte gegun sal word om self daaroor te besluit. Hy hoop dat die CSE een van ’n paar moontlike leerplanne sal wees waaruit skole kan kies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.