Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Departement sê Afrikaans is nié inheems
’n Lewendige debat oor Afrikaans se plek by die Universiteit Stellenbosch is aan die gang. Foto: Gallo Images

Taalkenners sê die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO) se definisie van inheemse tale in sy jongste taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings, wat Afrikaans uitsluit, is problematies en getuig van ’n politieke ideologie.

Die eerste konsep van die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiende taalbeleid het skerp kritiek uitgelok omdat Afrikaans volgens dié beleid nie as ’n inheemse taal beskou word nie.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het in reaksie hierop gesê die hersiende taalbeleid is versoen met die DHOO se taalbeleidsraamwerk wat in Oktober uitgevaardig is.

Lees ook: Maties bly verbind tot inklusiewe meertaligheid, sê De Villiers

Dié beleidsraamwerk definieer “inheemse tale” as “tale wat hul ontstaan in Afrika het en aan die suidelike Bantoe-taalfamilie behoort.” Die definisie lui dan verder: “ ’n Inheemse taal is ’n taal wat inheems aan ’n streek of land is en deur inheemse mense gepraat word.”

‘Definisie onkundig’

Karien Brits, navorsingsgenoot by die Universiteit van Johannesburg se departement van tale, kultuurstudie en toegepaste linguistiek, sê die DHOO se definisie is problematies.

“My eerste probleem is dat hulle in die eerste deel net na die suidelike Bantoetale verwys, hulle sluit die Khoisantale heeltemal uit. Die growwe fout is dat ons die heel eerste mense in suidelike Afrika, die sprekers van die Khoisantale, se tale uitsluit,” sê sy.

“Die tweede deel van die definisie lyk of dit as ’n nagedagte bygevoeg is. Volgens die tweede deel is die Khoisantale en Afrikaans inheemse tale. Die olifant in die vertrek is Engels. Is Engels ’n inheemse taal?”

Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, sê die departement se beperking van inheemse tale tot die suidelike Bantoe-taalfamilie is ’n voorbeeld van hoe ideologie definisie kan beïnvloed.

Volgens hom is ’n inheemse taal ’n taal wat binne ’n sekere gebied ontstaan het en daar gebruik word. Hy sê die “stertjie” wat by die DHOO se definisie gevoeg is dat ’n inheemse taal ook deur “inheemse mense” gepraat moet word, skep onduidelikheid.

“Word Afrikaans dan minder inheems wanneer ’n wit mens dit praat en meer inheems in die geval van ’n swart mens, al praat hulle presies dieselfde variëteit van die taal?”

Prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê Afrikaans het op Afrika-bodem ontstaan as gevolg van taalkontak tussen inheemse mense wat sprekers was van Khoitale, slawe uit die Ooste en sprekers van Europese tale.

“Daar is taalkundig geen twyfel oor die oorsprong van Afrikaans nie. Die DHOO se siening getuig jammerlik van politieke vooroordeel en taalkundige onkunde,” sê sy.

Fokus op ‘historiese ongeregtighede’

In vorige dokumente van die DHOO word Afrikaans wel as inheemse taal ingesluit. Volgens Brits is die nuwe definisie moontlik geformuleer uit frustrasie met die stadige vordering wat daar met die bevordering van Afrikatale gemaak is.

Ishmael Mnisi, woordvoerder van die DHOO, sê die beleidsraamwerk se definisie van inheemse tale is ontwikkel ná uitgebreide raadpleging met verskeie taalpraktisyns en belanghebbendes. Die departement het ook sterk gesteun op bydraes van die Raad op Hoër Onderwys.

Ons is so besig om oor die definisie van ’n inheemse taal te praat dat ons dalk gaan vergeet van jong mense se taalregte wat misken word.

“Die departement het ook gestreef na konsekwentheid in terme van die Grondwet, wat die term ‘inheemse tale’ gebruik om die belangrikheid van die erkenning en ontwikkeling van histories gemarginaliseerde tale van die inwoners van Suid-Afrika te beklemtoon,” sê hy.

Volgens Mnisi word die definisie gebruik om die “historiese marginalisering van Afrikatale weens kolonialisme en apartheid” te belig, asook die behoefte om dié tale vir vakkundige doeleindes te ontwikkel.

“Die beleidsraamwerk benadeel nie Afrikaans, of enige ander Suid-Afrikaanse taal, of sluit dit op enige manier uit nie. Die behoefte om alle Suid-Afrikaanse tale buiten Engels te ontwikkel, word goed in die beleid verwoord en is in der waarheid die beleid se onderliggende motief,” sê hy.

“Die hoofdoel van die beleid is nie om ’n debat te begin of te beslis oor die kwessie van die inheemsheid van tale nie, maar eerder om die marginalisering van Afrikatale in die akademie te belig en meganismes voor te stel waarvolgens dié historiese ongeregtighede reggestel kan word.”

Wat moet universiteite doen?

Megan Harrington-Johnson, prokureur van HJW Attorneys, sê die DHOO se taalbeleidsraamwerk val onder die Wet op Hoër Onderwys en is in die Staatskoerant gepubliseer. Openbare hoëronderwysinstellings is daarom verplig om daaraan te voldoen.

“Die grootste deel van die beleid is egter baie breed, wat wel kwessies oor die afdwingbaarheid daarvan kan veroorsaak,” sê sy.

Volgens Mnisi moet openbare universiteite hul riglyne volgens die nasionale raamwerk ontwikkel en kan hulle nie daarvan afwyk of iets in teenstelling daarmee doen nie.

My eerste probleem is dat hulle in die eerste deel net na die suidelike Bantoetale verwys, hulle sluit die Khoisantale heeltemal uit.

Brits meen die US “mis die gees” van die departement se beleidsraamwerk deur net teen een van die definisies vas te kyk. Volgens die raamwerk se aanhef is dit die mikpunt om alle amptelike tale by hoër onderwysinstellings te bevorder en te versterk.

“Dit beteken dat Afrikaans ook bevorder moet word. Dit maak veral sin in die streek waar Stellenbosch is. Engels alleen sal nie toegang tot opleiding gee nie. Dit sal ’n groot deel van die studente benadeel,” sê sy.

“My vraag is eerder wat doen universiteite om hierdie amptelike tale in die ware sin van die woord te bevorder, nie net met ’n Afrikaanse en Xhosa-sousie oor die Engelse vleis nie. Die US gaan byvoorbeeld nie Xhosa beter bevorder deur Afrikaans se rol te verskraal nie.”

Steenkamp sê dit is verbysterend dat die US die DHOO se “onderdeurdagte stukkie politiek” by sy beleid ingeskryf het en sê die US het nasionale beleid nog altyd eerder as ’n riglyn beskou.

“Die US probeer hiermee ’n stelling oor Afrikaans maak en die boodskap is duidelik ontvang. Dit is ’n aanduiding van die kultuur van beleg wat aan dié instelling heers en hoe die blik na binne gekeer is. Hier word afgegrens pleks van om deure vir gesprek oop te maak.”

Volgens Brits trek die bohaai oor inheemse tale die aandag van die werklike kwessie af.

“Ons is so besig om oor die definisie van ’n inheemse taal te praat dat ons dalk gaan vergeet van jong mense se taalregte wat misken word. Ons speel nie nou net taalpolitiek nie, maar ons speel met jong mense se toekoms.”

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.