Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Departement ‘teleurgesteld’ na besluit oor Parktown-hoof

Die Gautengse onderwysdepartement is teleurgesteld oor die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (ELRC) se besluit dat Malcolm Williams, die skoolhoof van Parktown Boys’ High, heraangestel moet word.

Die ELCR het Dinsdag beslis Williams se afdanking was nie substantief en prosedureel geregverdig nie en dat sy optrede geen rol in Enock Mpianzi (13) se dood gespeel het nie.

Enock Mpianzi wat in Januarie 2020 tydens ’n skoolkamp dood is. Foto: Argief

Mpianzi is op 15 Januarie 2020 dood tydens ’n gr. 8-oriënteringskamp by die Nyati Bush and River Break Lodge naby Brits in Noordwes. Hy is deur die Krokodilrivier meegesleur terwyl hy aan ’n wateraktiwiteit deelgeneem het.

Drie klagte van wangedrag is verlede jaar teen Williams aanhangig gemaak nadat die departement die regsfirma Harris Nupen Molebatsi se forensiese verslag oor Mpianzi se dood ontvang het.

Hy is op twee klagte skuldig bevind: dat hy sonder voorafgoedkeuring van die departement die leerlinge op die uitstappie laat gaan het, en dat hy nie verseker het ’n korrekte presensielys vir die kamp word bygehou nie.

Williams het aangevoer dat sy skuldigbevinding op die twee klagte substantief onregverdig was, asook dat sy afdanking prosedureel onregverdig is. Volgens Williams kon Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, nie sy appèl onpartydig oorweeg nie.

Die ELRC het beslis Williams moet hom op 1 Julie by die skool aanmeld. Die departement moet ook R285 594, die totaal van ses maande se salaris, aan hom uitbetaal.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Williams bygestaan.

Toestemming vir die uitstappie

Volgens Mark Hawyes, arbiter, het die departement nie die administrasie van die aansoek vir die uitstappie doeltreffend hanteer nie.

Luidens die arbitrasie-toekenning het die skool op 12 November 2019 by die departementele distrikskantoor in Johannesburg-Oos om toestemming aansoek gedoen. Die aansoek het nooit by Shirley Molobi, direkteur van die kantoor, uitgekom nie. Dit is die dag ná Mpianzi se dood in ’n intern se laai gevind.

Malcolm Williams, skoolhoof van Parktown Boys’ High, moet heraangestel word. Foto: Argief

Die intern is van ’n ander regeringsdepartement en het tydelik in die distrikskantoor gewerk. Twee van die intern se onmiddellike bestuurders is later drie maande geskors vir hul rol in die intern se versuim om die aansoek onder Molobi se aandag te bring.

Williams het ook destyds ’n ander onderwyser as bestuurder van die uitstappie aangewys, wat ingevolge die regulasies vir skooltoere toegelaat word. Dié onderwyser het Williams nooit ingelig dat daar nog nie toestemming vir die uitstappie verkry is nie.

Volgens Hawyes kon Williams en die onderwyser waarskynlik aanneem dat die uitstappie ex post facto goedgekeur sou word, omdat die departement ’n geskiedenis het dat uitstappies eers goedgekeur word nadat dit plaasgevind het.

Presensielys

Die presensielys wat voor die kamp by die skool geneem is, het op die bus agtergebly wat na Johannesburg teruggekeer het. ’n Presensielys is by die skool aangevra, maar die lys wat gestuur is, was nie korrek nie.

Volgens Hawyes het Williams nooit die presensielys wat op die bus agtergelaat is, gesien of hanteer nie. Dit was ook nie sy verantwoordelikheid om presensie te neem nie, maar hy het dit gedoen omdat ’n personeellid van die lodge se stem nie hard genoeg was nie en sy nie van die leerlinge se vanne kon uitspreek nie.

“Die kern van die tweede aantyging wil Williams straf omdat hy verantwoordelik was en inisiatief geneem het,” sê Hawyes.

Prosedurele regverdigheid

Hawyes sê Lesufi se aanhoor van Williams se appèl was prosedureel onregverdig.

Hy is verbaas dat Lesufi hom nie aan Williams se dissiplinêre prosedure onttrek het nie, omdat Lesufi onder meer by Mpianzi se familie betrokke geraak het en voor die dissiplinêre verhoor uitlatings oor Williams in die media gemaak het.

Volgens Hawyes verskil hy ook met die departement se siening dat die werksverhouding tussen die departement en Williams onherstelbaar geskaad is.

“Selfs in dié ongelukkige situasie het ek gevind dat Williams sy uitsonderlike leierskap en bestuursvaardighede gebruik het om die gemeenskap van Parktown Boys’ High te verenig,” sê Hawyes.

Lesufi sê die departement is nie tevrede met die uitkoms nie en gaan ’n regsmening inwin.

“Maar ons besef ook dat die kwessie al lank sloer en almal betrokke negatief beïnvloed. In die lig hiervan, sal ons kenners om raad nader om ’n laaste oplossing vir die kwessie te kry,” sê Lesufi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.