Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Departementshoof by skool ‘hoef nie kenner te wees’

’n Onderwyseres wat onlangs as departementshoof van Zulu en Afrikaans (eerste addisionele taal) by ’n skool aan die Oos-Rand aangestel is, hoef nie ’n kenner te wees in albei dié vakke om die pos te kan beklee nie.

Só het die departement van onderwys in Gauteng by navraag gesê oor die onderwyseres, wat volgens beskikbare inligting nie Afrikaans magtig is nie.

Die onderwyseres en die skool se name word weerhou omdat sy nog nie self kommentaar kon lewer nie.

Volgens ’n kollega wat op voorwaarde van anonimiteit praat, het die onderwyseres voorheen net Zulu aangebied, maar is onlangs tot departementshoof van albei die addisionele tale bevorder. Die kollega sê van die skool se sowat 1 100 leerlinge neem 300 leerlinge Zulu as vak en die oorblywende 800 leerlinge Afrikaans.

“Die opvoeder is aangestel as departementshoof vir addisionele tale (Zulu en Afrikaans), nie net Afrikaans spesifiek nie. Sover die departement se kennis strek, is al die prosedures gevolg en is die aanstelling goedgekeur,” het Steve Mabona, woordvoerder van die onderwysdepartement, gesê.

Om te eis dat ’n onderwyser vaardig is in elke vak in ’n (vak)gebied, is net so moeilik. Ons moet ’n middeweg vind.

“Departementshoofde word aangestel as bestuurders van ’n spesifieke departement indien hulle aan die geadverteerde kriteria voldoen, en daar word nie van hulle verwag om kenners in al die vakke te wees waaruit ’n spesifieke departement bestaan nie. ’n Departementshoof van ekonomie kan dalk eerder ’n spesialis in rekeningkunde wees, maar moet al die ekonomiese vakke bestuur.

Die departement het voorts gesê hy monitor die situasie by die skool.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê: “Indien die hoof van ’n departement van Afrikaans nie Afrikaans kan praat nie, kan daar nie behoorlike gehaltebeheer oor die inhoud van die vak wees nie en sal die leerlinge benadeel word. Die gehalte van onderwys hou direk verband met die gehalte van die onderwyser.”

Volgens adv. Kinny Labuschagne, senior regsadviseur by die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), is daar egter geen vereiste wat bepaal dat ’n departementshoof ervaring moet hê of oor die kwalifikasies beskik in al die leerareas in sy of haar departement nie.

“Die taal van onderrig by die betrokke skool is Engels. Dit is juis die doel van die onderskeie vakhoofde by skole. Dit is egter so dat in hierdie spesifieke geval, waar die meeste leerlinge Afrikaans as eerste addisionele taal neem, die las op sekere opvoeders waarskynlik groter sal wees, wat nie die ideaal is nie,” sê sy.

Basil Manuel, hoof van die onderwysvakbond Naptosa, beaam wat Labuschagne en die departement oor die besturende rol van departementshoofde sê.

Hy sê egter ’n departementshoof moet ook die kurrikulum lei en onderwysers in hul onderrig steun en groei bevorder.

“Ongelukkig sal dit nie in hierdie geval kan gebeur nie. Die oplossing hiervoor is vak-departementshoofde, maar ons weet dis ’n tall order. Om te eis dat ’n onderwyser vaardig is in elke vak in ’n (vak)gebied, is net so moeilik. Ons moet ’n middeweg vind,” sê hy.

Meer oor:  Steve Mabona  |  Oos-Rand  |  Onderwys  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.